Regering wil invoer van palmolie beperk

Foto ter illustrasie (Foto: tk tan, Pixabay)

Die regering wil die gebruik van plaaslik verboude landbouprodukte bevorder, deur beperkings en tariewe op die invoer van onder meer palmolie te plaas.

Palmolie is ʼn omstrede produk en volgens National Geographic is dit ʼn groot sondaar as dit kom by menseregtevergrype, koolstofdioksiedbesoedeling en die voortbestaan van reënwoude. Soos met feitlik enige ander landbouproduk is daar egter ʼn sterk dryfveer om dit volhoubaar te maak.

Hierdie produk geniet baie blootstelling omdat dit so onmisbaar is en dit is een van die mees gebruikte produkte wat in die kosmetiese, farmaseutiese, brandstof-, voedsel- en voerbedrywe gebruik word.

Suid-Afrika het egter ʼn ander uitdaging wat palmolie betref. Die landbou- en landbouprodukverwerking-meesterplan (AAMP) wat tans in die beplanningsfase is, wil ook ʼn sterk veldtog van stapel stuur om plaaslik verboude landbouprodukte te bevorder. Daar wil selfs so ver gegaan word om beperkings en tariewe op die invoer van groenteolies te plaas.

Met die AAMP wil die regering, asook die arbeid- en nywerheidsektor, praktiese en uitvoerbare maniere vind om inklusiewe groei en werkskepping in landbouwaardekettings te bevorder. Hierdie plan gaan geanker word in ʼn inklusiewe, volhoubare ​​en winsgewende deelname aan Suid-Afrika se landbou-ekonomie.

“Met sulke planne is die lokalisering van voedselproduksie dikwels eerste op die agenda. Voorstanders voer aan dat dit ʼn hupstoot aan plaaslike produksie sal gee en tot meer beleggings, ekonomiese groei en werkskepping sal lei,” sê dr. Ferdie Meyer, die besturende direkteur van die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP).

Volgens BFAP het die invoer van palmolie oor die afgelope paar jaar egter toegeneem.

“Onder die groenteolies wat vir menslike en dierlike gebruik ingevoer word, is palmolie die grootste en beklee die vyfde plek uit alle voedsel- en verwerkte landbouprodukte, met ʼn invoerwaarde van meer as R4,5 miljard per jaar.

“Die invoer van palmolie het oor die afgelope tyd konsekwent gegroei en meer as verdubbel van 248 000 ton in 2001 tot 525 000 ton in 2020.

“Sonneblomolie-invoer van meer as R2 miljard tel ook onder die top-ingevoerde, verwerkte landbouprodukte.

“In teenstelling hiermee het die invoer van sojabone en kanola-olie afgeneem omdat die ingevoerde produkte toenemend deur plaaslik vervaardigde oliekoek vervang word.

“In die geval van sojaboonolie het invoervolumes afgeneem vanaf ʼn piek van 278 000 ton in 2011 tot 150 000 ton in 2020.”

Volgens BFAP se jongste vooruitskouing sal daar teen 2030 minder as 50 000 ton per jaar ingevoer word.

Palmolie nie maklik vervangbaar

Die vraag ontstaan dan waarom Suid-Afrika nie self palmolie kan vervaardig nie.

“Die voor die hand liggende rede is omdat ons nie oor die tropiese klimaat soos die groot produsente uit Wes-Afrika, Indonesië en Maleisië beskik nie.”

As dit egter nie ʼn opsie is om palms te plant nie, waarom dan nie palmolie met plaaslik vervaardigde olies van sonneblomme, soja en/of kanola vervang nie?

Meyer en Tracy Davids, ʼn senior landbou-ekonoom by BFAP, het ʼn studie gedoen oor waarom hierdie ambisieuse plan nie maklik tot uitvoering sal kom nie.

“Die eerste faktor om te oorweeg is die relatiewe prysbepaling van plantolies. Op internasionale markte verhandel palmolie teen baie laer pryse as enige van die ander belangrike plantaardige olies en hierdie tendens sal na verwagting nie verander nie, ondanks die huidige styging in groenteoliepryse,” sê Davids.

“Palmolie is nie net ʼn laekoste-alternatief vir baie ander plantaardige olies nie, maar lewer ʼn opbrengs van tot tien keer meer per oppervlakte as ander oliesaadgewasse.”

Sy sê verder dat daar geen kommersieel vervaardigde geneties gemodifiseerde (GM-) palmbome is nie, wat dit aantreklik vir die Europese mark maak.

Derdens is die plaaslike groenteoliepryse nou gekoppel aan internasionale pryse weens hoë invoervlakke en palmolie verhandel tans teen ongeveer 25% van die pryse van sonneblom- en sojaolie.

Afgesien van mededingende pryse, is ʼn verdere rede vir palmolie se gewildheid dat die Suid-Afrikaanse departement van gesondheid wetgewing ingestel het wat die gebruik van transvetsuur in voedsel in 2010 begin reguleer het. Die implikasie was dat voedselvervaardigers en baie kitskoswinkels ʼn vet-alternatief gesoek het wat nie met verhitting na transvette omskakel nie.

Daarbenewens gee palmolie dieselfde soliede tekstuur en smaak in voedsel sonder dat waterstof deur industriële prosesse bygevoeg word.

Meyer sê ʼn aansienlike hoeveelheid navorsing is gedoen in die ontwikkeling van hoë-oleïen-sonneblom en sojabone, wat ook aan die gesondheidsregulasies sal voldoen. Tog kan hierdie olies nie kostedoeltreffend in groot maat vervaardig word nie. Dit word tans slegs as nis- en premieprodukte bemark.

Hy waarsku dat daar nie bloot onoordeelkundig tariewe op alle groenteolie-invoere geplaas moet word nie, maar dat daar eerder ruimte geskep word vir meer beredeneerde en doelgerigte ingrypings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Francois Le Cochon ·

Slegte nuus vir verbruikers. Alles wat groente olies bevat gaan dan duurder word, omrede plaaslike produsente nie kan kompeteer met buitelandse produsente nie. Skaf eerder invoerbelasting af, sodat die verbruiker goedkoper voedsel kan koop.

Andrew ·

Regtig, moet al jou kos dan van china, brasil en Europa af kom? Wat dink jy gaan jy vir jou melk en cornflakes betaal as als ingevoer word (vra vir Zim). Wat van voedsel prodesente eerder subisudieer om wel te kan kompiteer. Europa en ander lander lande se landbou word gesubsidieer met goedkoper brandstof, saad, kunsmis, tegnologie en nog vele meer .

Gawie ·

“Volgens National Geographic” – Is dit die National Geographic Society of die National Georgraphic Magazine of het dit op hulle TV-kanaal in ‘n program verskyn?

Janee ·

Wonderlike nuus vir die vernietiging van die reënwoude en oerangutans wat erg bedreig word deur die verbouing van palms…….maar nou sal verbruikers weer kla..

anniekiewiet ·

Word palms vernietig, of dalk juis opgebou, vir palmolie, ek vra omdat ek nie weet nie.

marius ·

Ag twak man . Hierdie hool kan nie sonder invoer nie , want die mense het te sleg geraak om self te vervaardig . Dis die waarheid .

Andre ·

Palmolie verhandel tans teen ongeveer 25% van die pryse van sonneblom- en sojaolie. Dis boonop nie ‘n GMO produk nie. Is dit waarom dit “beheer” word? Wie trek voordeel?

Pietertjie ·

Betaal met meer omkoopgeld aan die “wet-makers”. Dis mos hoe Afrika werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.