Saad-biotegnologie kan voedselsekerheid waarborg

Voedselsekerheid is afhanklik van saad-biotegnologie. (Foto: Du Preez de Villiers)

Oor die afgelope paar dekades het mielie‑opbrengste wêreldwyd skerp gestyg en tans lyk dit of dit ʼn dreigende hongersnood weens ʼn drastiese bevolkingsaanwas sal voorkom. Dit te danke aan die ontwikkeling van biotegnologiese gewasse.

Chantel Arendse, landbouspesialis by CropLife SA, sê in 2019 is 190,4 miljoen ha se biotegnologiese gewasse in 29 lande, deur 17 miljoen boere verbou. Dit het opgeskiet van slegs 1,7 miljoen ha wat in 1996 verbou is.

“105,7 miljoen ha daarvan is in opkomende lande en 84,7 ha in nywerheidslande. Die VSA is die voorloper met 71,5 miljoen ha en het ʼn aannemingskoers van 94,7%. Brasilië is tweede met 52,8 ha, waarvan 94% onder biogewasse verbou word. Argentinië lê derde met 24 miljoen ha waarvan feitlik 100% uit biogewasse bestaan,” sê sy.

Chantel Arendse is ‘n landbouspesialis by CropLife SA. (Foto: Du Preez de Villiers)

Volgens Driaan Bresler, Corteva se hoof van produkontwikkeling in mielies in die oostelike streek, moet die wêreldwye mielie-opbrengs in 2050 verdubbel van wat dit in 2020 was om aan die groeiende wêreldbevolking se behoeftes te voldoen.

Hy het tydens ʼn mediatoer by Corteva se teelplaas buite Delmas, wat een van vyf in die wêreld is, gesê dit sal egter slegs volgehou kan word as saad-biotegnologie ononderbroke ontwikkel en in gebruik geneem word.

Die Suid-Afrikaanse registrateur wat nuwe landbouprodukte moet goedkeur, besef klaarblyklik nie hierdie dringendheid nie.

Maroela Media het vroeër berig dat die saadbedryf angstig wag dat die registrateur nuwe saadteeltegnologieë nie as GMO’s moet klassifiseer nie omdat dit deur meer “natuurlike “ prosesse geskep word en dus vinniger en makliker in die mark gesit behoort te word.

“Dit is ʼn reusetaak om voor te bly, maar ons slaag al jare daarin. ʼn Belangrike deel daarvan is om in tegnologie te belê en ons bestaande genetika te gebruik om vinniger te teel – om genetiese vordering teen die verlange koers te hê,” sê Bresler.

Corteva het ook vroeër vanjaar hul PowerCore-saadtegnologieplatform bekendgestel, waarop hulle opkomende variëteite kan ontwikkel.

“Ons werk met teelstasies reg oor die wêreld en wanneer ons plaaslik en wêreldwyd ons produkte mark toe stuur, maak ons seker oor die stabiliteit en opbrengspotensiaal van die produk,” sê Bresler.

Driaan Bresler is Corteva se hoof van produkontwikkeling in mielies in die oostelike streek. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Kleinboere omarm biotegnologie

Bresler sê kleinboere wêreldwyd se opbrengste het sedert 2020 met 11% gegroei, wat ʼn drastiese verbetering in vergelyking met voorheen was. Dit is te danke aan die aanneming van biotegnologie.

Landboumedia het saam met CropLife SA, die bedryfsorganisasie wat gemoeid is met die bevordering van die gewasbedryf, twee kleinboere se plase besoek, wat goeie sukses met biotegnologie behaal het.

“Ons produseer nou gesonde mielies van ʼn goeie gehalte wat nie by die silo’s afgegradeer word nie,” sê Bongani Mhlangu, wat saam met sy pa Willem noord van Bronkhorstspruit met mielies en sojabone boer. “Ons plant nou al vir vyf van die 28 jaar biotegnologiese gewasse om ons opbrengste te verhoog.

Willem Mhlangu en sy seun Bongani  het vyf jaar gelede biotegnologie in gebruik geneem nadat hulle die doeltreffendheid daarvan by ʼn demonstrasie gesien het. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Die mieliesaad wat ons plant, bevat ʼn stapelgeen wat dit teen stronkboorders en valskodlingmot beskerm, sowel as glifosaatbestand is.

“Ons plant sojabone en mielies wat ons op 80 ha afwissel. Ons mielies se stand is 30 000 en oes nou tussen 2,5 ton en 3 ton per ha, waar ons voorheen met konvensionele mielies 1,5 ton per ha afgehaal het.”

Sophie Mabena boer tussen Pretoria en Bronkhorstspruit, ook met hibriede GMO-mielies wat die Bt-geen bevat, sowel as glifosaatbestand is.

Sophie Mabena, haar broer Simon, haar seun Charles, haar dogter Nomsa, haar broer Piet en Terrence, haar seun, plant al vir 12 jaar GMO-mielies, waartydens hulle oeste stelselmatig verbeter het. Hulle beoog om vanjaar 5,5 ton per ha op hierdie droëland af te haal. (Foto: Du Preez de Villiers)

 

Lesley Mabasa, ʼn landboukonsultant en eienaar van Mega Biotech Solutions, het die Mhlangu’s en Mabenas aan biotegnologie bekendgestel. (Foto: Du Preez de Villiers)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jacob ·

Indien die mielies Roundup ready is, lui daar onmiddelik waarskuwingsklokke. Dit beteken dat dit glifosaat bestand is en dat Roundup op die gewasse gebruik word. ‘n Groep Amerikaners het die Duitse maatskappy BAYER vir $ 2 miljard gedagvaar, maar dit is later verlaag is tot $ 133 miljoen. Die rede; glifosaat is ‘n kankervormende stof.

Grond ·

Daar is ‘n groot verskil tussen die aannames van ‘n hofsaak waar daar self net ‘n geringe kans van probleem kan wees en daar dan ‘n groot bohaai gemaak word daaroor en wetenskap wat nie gegrond is op emosie nie. Die kanse dat jy gaan kanker kry van jou gebraaide/verkoolde vleis op ‘n vuur is net so groot en moontlik self groter probleem as die sogenaamde Roundup “probleem”.

Jacob ·

Piet sover my kennis strek, het BAYER uitbetaal. Wat gebraaide/verkoolde vleis aanbetref; sommige van ons verstaan die kuns van braai van kleins af.

Interessantheidhalwe, plantbaseerde vleis vervangings is onder die soeklig. Suid Afrika is jare agter wat dit aanbetref en volgens ‘n vegatariese vriendin van my in die VSA, neem die gewildheid daarvan af as gevolg van die feit dat dit onder andere ontsaglike groot hoeveelhede sout bevat. Soja maak ook ‘n groot gedeelte van die “wanna-be” vleisprodukte uit. Ek neem aan dat jy weet dat soja nie werklik een van die mees gesondste sade vir menslike gebruik is nie.

Piet parys ·

Wel gaan jy dood aan die vuil lug wat jy inasem , die gedrink en rokery , besmette vis vanuit besmette water . Steroids en antibiotika gevoerde vleis , gifbespuite groentes en vrugte wat met vuil rivier afval toilet chemiese water besproei word eet of gaan jy jou dood bekommer en vrek van die honger . Miskien moet jy die wereld maar idees gee hoe om gesonde onbesmette kos te produseer vir almal .

Jacob ·

Piet parys, ek drink baie matig. Die laaste bottel whiskey wat ek gekoop het, kom nog van na die eerste ophef van drankverbod tydens die Covid 19 belaglikhede en daar is nog twee bottels rooiwyn oor van ‘n kis van 6. Het nou net gaan kyk. Rook nie.

Wat kos aanbetref; net gister het Hendrik weer groente kom aflewer. Dit is organies verbou, smaak nog na groente en ‘n verdere voordeel is dat hy dit nie in plastiek verpak nie.

Lamsvleis en bees kom van Louis in die Karoo en ons weet dit is vrylopend en sonder antibiotikas. Verder eet ons hoofsaaklik wildsvleis wat van my vriend Lourens aangekoop word.

Waar ek bly is die lugkwaliteit goed en ons ons boorgat water toets skoon. Waar ek baie kere werk in Botswana en nou ook Angola, weet hulle nie wat lugbesoedeling is nie. Het myself nog nie doodbekommer nie en ek “vrek” ook nie van die honger nie, maar ek vertrou GMOs so ver as wat ek my Cruiser kan gooi.

annie ·

Not to worry mense, Afrika hoef nie te bekommer oor gm-saad en Roundup nie. Die boere gaan skatryk word en hul banke kan opstop met note. Die gebruikers knyp net oë toe en eet die volmaakte pitte vir heerlike en goue paradyslike lewe elsewhere… Nie op aarde te vinde. Te lekker glo ons alles. Ons moet nie etiek verwag maar nie self dit wil toepas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.