Saffraan verskuif reeds grense in eerste seisoen

Die belangstelling onder voornemende saffraanboere is oorweldigend en die maatskappy Saffricon, wat besig is om die saffraanbedryf in Suid-Afrika te vestig, kan nie voorbly om opleiding- en inligtingsessies te hou nie.

Belangstellendes woon ‘n Saffricon-inligtingsdag op die AgriSETA-opleidingsplaas by. (Foto: Du Preez de Villiers)

Maroela Media het vroeër berig oor die moontlikhede wat saffraanverbouing in Suid-Afrika inhou.

Saffricon het ook vanjaar met sy eerste volwaardige saffraanaanplantings begin en die eerste seisoen het alle verwagtinge oortref, met die meeste boere wat suksesvolle oeste gelewer het.

Volgens Bennie Engelbrecht, stigterslid en direkteur van Saffricon, die maatskappy aan die stuur van die plaaslike saffraanrewolusie, is aanplantings in al nege provinsies gedoen en die terugvoering vanaf boere dui op ʼn sukseskoers van ongeveer 95%. “Boere het hier en daar haakplekke ondervind, maar die oorgrote meerderheid se oeste was suksesvol en het blomme geproduseer. In baie gevalle het jaar een se oes meer blomme opgelewer as wat aanvanklik verwag is. Dít voorspel net goeie dinge vir die volgende seisoene se oeste en die uitbou van die bedryf.”

Engelbrecht het aanvanklik bolle uit Nederland ingevoer en getoets en aangepas vir Suid-Afrikaanse omstandighede. Dit het ook talle proefnemings geverg om hierdie produk “verbruikersvriendelik” vir Suid-Afrikaanse boere te maak.

Saffraanknolle vermeerder ondergronds onder gunstige omstandighede, gemiddeld omtrent drie knolle per jaar, met blomproduksie wat gewoonlik in jaar drie ʼn hoogtepunt bereik.

Bennie Engelbrecht wys hoe lyk ʼn knol wat ʼn allemintige nege nuwe knolle in die eerste seisoen voortgebring het. (Foto: Du Preez de Villiers)

Saffraan is ʼn wintergewas en knolle moet gewoonlik tussen Maart en April geplant word. Die blomme (wat die bloedrooi saffraanstempels bevat) word 40 dae nadat die bolle begin uitloop, geoes. Die blomme moet dadelik, op die dag wanneer dit begin blom, geoes word. Die stempels, wat die uiters waardevolle saffraan bevat, “word maklik met die hand geoes en kan vinnig in ʼn mikrogolfoond gedroog word. Dit kan ook vir ʼn hele ruk gestoor word indien hoër markpryse later benut wil word,” sê Engelbrecht.

Engelbrecht wys waar die groeipunte vir die blare en dié van die volgende seisoen se knolle sit. (Foto: Du Preez de Villiers)

Verbouingskontrakte op bedryfsregbasis bestuur

Saffricon het vanjaar verbouingskontrakte met drie boere, een in Laingsburg en twee in Pretoria, gesluit, met aanplantings wat gewissel het van sowat 6 000 knolle tot net meer as 150 000 knolle.

Vir volgende jaar gaan egter baie meer kontrakte beklink word, aangesien daar vir die 2022-seisoen heelwat meer bolle beskikbaar sal wees om aan boere te verskaf. Die verbouingskontrakte met boere word ingevolge ʼn bedryfsregooreenkoms (franchise) gesluit en volgens Engelbrecht is die belangstelling van voornemende saffraanboere baie groot.

Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem (een van Saffricon se vennote), sê dié vraag is in ʼn groot mate gedryf deur die massiewe mediabelangstelling en dekking wat die kweek van saffraan in Suid-Afrika ontvang het.

Saffricon het ook 173 beginnerpakke aan 134 aspirant-saffraanboere verkoop. ʼn Beginnerpak bevat ongeveer 700 voorbereide knolle, plantvoeding, ʼn kweekprogram, grondontledings wat deur NviroTek gedoen word en aanbevelings wat deur Agri Technovation gemaak word, ʼn handleiding om met die verbouing te help, asook ondersteuning van Saffricon. Daar is ook geen kontraktuele verpligtinge wat saam met ʼn beginnerspak kom nie.

Die nuwe saffraan-aanplantings op die AgrSETA-opleidingsplaas groei fluks. (Foto: Du Preez de Villiers)

“Die beginnerpakke is ideaal, aangesien dit voornemende boere toelaat om die gewas reg oor Suid-Afrika in verskillende klimaatsomstandighede te toets alvorens ʼn boerdery op groter skaal ingevolge ʼn verbouingskontrak oorweeg word,” sê Engelbrecht.

“Vir almal met wie ek gesels, is die aantreklikste deel van die huidige aanbod die feit dat hulle ‘bloot moet plant’ en dat Saffricon die saffraan terugkoop, asook die bolle ná jaar drie. Dus is daar ʼn bepaalde uitkoms wat gemoedsrus besorg,” sê Liebenberg.

Koperbelangstelling uit Midde-Ooste

Volgens Engelbrecht is daar heelwat koperbelangstelling in hulle saffraan en onderhandel hulle tans met verskeie partye in die Midde-Ooste. Die wêreldvraag na saffraan is baie groter as wat jaarliks geproduseer word, wat goeie nuus vir plaaslike boere is.

Iran is verreweg die grootse produsent en het, volgens Statista, ʼn voorsiener van mark- en verbruikersdata, 430 ton in 2019 geproduseer. Indië (hoofsaaklik die Kashmir-streek) was die tweede grootste produsent met 22 ton, gevolg deur Griekeland met 7,2 ton.

ISO-klassifikasie dui op topgehalte-saffraan

Engelbrecht meen Suid-Afrika het die potensiaal om een van die wêreld se topvoorsieners van saffraan te word, mits dit op ʼn oordeelkundige en geordende basis gedoen word. Saffraan word volgens die International Organisation for Standardisation se ISO3632-klassifikasie vir saffraan gegradeer.

Hy sê ook aanvanklike aanduidings wys dat Saffricon se saffraan van ʼn baie hoë gehalte is, wat beteken dat hul produk ʼn goeie prys op die internasionale mark behoort te haal.

In Suid-Afrika verkoop saffraan (ook “rooigoud” genoem) vir tot soveel as R250 per g (of R250 000 per kg). Dié stewige verbruikersprys word aan arbeidsintensiewe oesmetodes toegeskryf, van die pluk van die blomme tot die verwydering van die stempels, wat alles met die hand gedoen word. Sowat 150 000 blomme is nodig vir die lewering van 1 kg saffraan. Die opbrengs per hektaar in jaar drie, wanneer produksie ’n hoogtepunt bereik, kan tussen 1 kg en 5 kg wissel.

Saffraan is ʼn arbeidsintensiewe gewas en hou vir Martiens Ruiters druk besig. (Foto: Saffricon)

“Met een hektaar kan jy ʼn ekonomiese eenheid bedryf en jou jaarlikse oes pas in jou bakkie se paneelkissie,” sê Engelbrecht.

SA klimaat ideaal vir saffraanverbouing

Saffraanboerdery is ideaal geskik vir die Suid-Afrikaanse klimaat, veral omdat groot dele van die land die afgelope paar jaar onder ʼn strawwe droogte gebuk gegaan het. Dit verg byvoorbeeld baie minder water as verskeie van die groot tradisionele gewasse in Suid-Afrika. Waar die vernaamste eenjarige gewasse hier ongeveer 500 tot 800 mm se besproeiing per seisoen vereis, benodig saffraan tussen 250 en 300 mm per seisoen.

Saffraan word hoofsaaklik gebruik om geur en kleur aan kos te gee, maar ook in die vervaardiging van natuurlike skoonheidsmiddels en natuurlike medisyne, en as ʼn kleurmiddel in die tekstielbedryf.

Saffraan, oftewel ‘rooigoud’, word vir R250 000 per kilogram verkoop. (Foto: Saffricon)

Saffricon sal binnekort nuwe verbouingskontrakgeleenthede vir die verbouing van saffraan bekendstel. Diegene wat reeds hul beginnerpakke op die proef gestel het, sal voorkeur geniet. Inligting rakende beginnerpakke vir 2022 sal ook binnekort beskikbaar wees. Vir meer inligting, hou gerus hulle webwerf dop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.