TLU SA: ‘Misdadigers oorgehaal vir regsgedinge’

Boere wat pro-aktief optree in die beveiliging van hul eiendom, loop die risiko om geteiken te word. (Argieffoto)

Daar heers groot dankbaarheid dat die saak teen Piet Kleynhans en sy plaasvoorman, Etienne Meyer, teruggetrek is, maar TLU SA sê die Suid-Afrikaanse regsproses is die pad byster as wetsgehoorsame landsburgers in die spervuur is.

Maroela Media het berig dat dié Vrystaatse boer en voorman in Oktober verlede jaar in hegtenis geneem is op aanklag van poging tot moord.

Kleynhans en Meyer is op 18 Oktober 2021 in hegtenis geneem nadat hulle twee dae tevore vyf windhonde doodgeskiet het wat onwettig op die plaas gejag het. Die honde se eienaars het toe ʼn klag van poging tot moord ingedien, omdat Kleynhans na bewering met ʼn voertuig oor een van hulle gery het.

TLU SA sê Kleynhans se geval is een van vele wat die afgelope jaar of wat onder dié organisasie se aandag gebring is en dit lei tot ontevredenheid, wantroue en dislojaliteit. Die stryd vir boere wat hul plase teen onwettige optrede beskerm, duur voort.

“Ons was van die begin seker dat Piet Kleynhans se inhegtenisneming onwettig was, en steun nou aksie teen diegene wat hom wederregtelik arresteer het,” sê Bertus van der Westhuizen, TLU SA se streeksvoorsitter in die Vrystaat.

“My vraag is egter nou, wat is die standaard van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG)? Hulle het selfs borgtog teengestaan. Hoe kon hulle nie die onregmatigheid in sy arrestasie raaksien nie? Ek het in die proses met die vervolgingsgesag geskakel, maar sonder sukses. TLU SA sou graag wou sien dat geregtigheid nou geskied. Om bykans ’n week tussen misdadigers in ’n sel te sit, is nie maklik nie.”

Henry Geldenhuys, TLU SA se president, sê dit wil voorkom asof misdadigers nou gerat is om onmiddellik ’n klag vir die rig van ’n wapen, rassisme, poging tot moord, aanranding, intimidasie, of selfs moord teen ʼn boer by die polisie, sonder enige bewyse, aanhangig te maak.

“In die meeste gevalle word die boer gearresteer en bevind die wetsgehoorsame burger hom in die beskuldigdebank. Des te meer gebeur daar niks met die persoon wat eerste die wet oortree het nie.”

“ʼn Boer blyk skuldig te wees ongeag die omstandighede totdat hy verhoor word. Geld die emosie van die gemeenskap nou baie meer in regspleging as wat billikheid en regverdigheid en die beginsel dat almal gelyk voor die reg is?”

TLU SA het Kleynhans in die saak bygestaan en Bennie van Zyl, TLU SA se hoofbestuurder, sê hy het aan adv. Rodney de Kock van die NVG ’n skrywe gerig waarin hy verwys het na die noodsaaklikheid dat die NVG ’n professionele en geloofwaardige benadering moet hê. “As burgerlikes vervolg word wanneer hulle hul bates en persoon beskerm, kan daar vervolgens geen samewerking verwag word nie.

“Ons is uiteraard baie dankbaar dat Piet se saak teruggetrek is. Die groter probleem is dat ons ongelukkig te veel gebuk gaan onder onbevoegde of moedswillige regsdienaars.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.