Tref presisielandbou die teiken?

Dit is duur om grondmonsters regdeur jou lande te neem om die grondprofiel en -samestelling te bepaal en regstellings te maak, maar dit is op die lang duur die moeite werd. (Foto: Maroela Media)

Deur Andries Wiese, hoof van landbou by Hollard Versekering

In ʼn studie wat deur die Universiteit van Iowa gedoen is, is boere gevra om die belangrikste risiko’s te lys wat uiteindelik hul besluite oor die aanvaarding van presisieboerderymetodes kan beïnvloed. Die volgende is as die belangrikste redes gelys:

  • Insetkoste wat vinniger as kommoditeitspryse en opbrengste styg,
  • Verhoogde wisselvalligheid in kommoditeitspryse,
  • Ten minste een mislukte oes (opbrengsverlies van 30% of meer) weens ongunstige weer,
  • Bemark plaasprodukte teen pryse van minstens 20% laer as die markhoogtepunt, en
  • Pryse vir plaasprodukte sal vanaf die huidige vlakke met ten minste 30% daal.

In die opname is die respondente ook gevra watter strategieë hulle gebruik om hierdie risiko’s te verminder. Die mees algemene strategieë was:

  • Koop oesversekering,
  • Vermindering van skuld,
  • Diversifisering,
  • Gebruik vooruitkontraktering om gewasse en vee te verkoop, en
  • Gebruik vooruitkontraktering om insette te koop.

Gegewe die voor die hand liggende voordele van presisieboerdery sou ʼn mens dink dat die aannemingsyfers daarvan hoër sal wees.

Presisieboerdery sluit in die verbeterde gebruik en beskerming van natuurlike hulpbronne, tydiger toediening van plaagdoders, vermindering in die gebruik van plaagdoders deur verbeterde monitering van plae, asook beter benutting van bestuurtyd en persoonlike hulpbronne. Dit alles help om risiko’s te bestuur.

Dit blyk egter dat persepsies oor presisieboerderymetodes die aanvaarding van hierdie praktyke ernstig belemmer. Boere sien dikwels dat dit ekstra rekordhouding en databestuur vereis, en ons weet dat boere boekhouding en rekordhouding as die onaangenaamste aktiwiteite op die plaas beskou.

Die verwerking van satellietdata in nuttige inligting om besluite op plaasvlak te kan neem, bly vir baie boere ingewikkeld en geheimsinnig. Hoewel hulle dit nie maklik erken nie, glo ek dat boere ook nie vertroue in hul eie vermoë het om dit te gebruik nie.

Presisieboerdery behels oor die algemeen drie hoofkomponente, naamlik tegnologie, inligting en bestuur.

Die gebruik van hierdie tegnologie moet gedemonstreer kan word om te wys hoe dit die risiko’s vir die boer kan verminder. Verder moet aangetoon word dat die besparings in insette en groter doeltreffendheid vir die aanvanklike koste sal vergoed.

Risiko is nie meer bloot die feit dat my motor in ʼn ongeluk sal beland of dat my skuur gaan brand nie. Vir hierdie risiko’s kan ek met my versekeraar praat, maar die groter prentjie beteken dat ek ook op ander maniere risiko’s moet begin bestuur.

Die feit is dat presisieboerdery ʼn boer met meer en beter inligting bemagtig. Dit gee hom meer beheer oor sy produksie. Dit laat meer doelgerigte gebruik van insette toe en verminder verliese wat deur oormatige toedienings, wanbalanse in voedingstowwe, onkruid, insekskade en plaagdoderweerstand veroorsaak word.

Boerdery is ook nou verbonde aan die omgewing, en meer aandag sal in die toekoms aan die beskerming en bewaring van die omgewing gegee moet word.

Werklike voordele is vervat in die gehalte en vrugbaarheid van grond, plaagbestuur, besluite oor waarheen geplant moet word en selfs die ontwikkeling van nuwe infrastruktuur. Dit kan behoorlik gedoen word as boere die plaas se ruimtelike eienskappe ken.

Presiese toediening van voedingstowwe en plaagdoders beteken dat die boer doen wat nodig is sonder om te veel en onnodige koste aan te gaan of die omgewing te beskadig.

Die instelling van presisieboerdery bring ook nuwe risiko’s mee, en boere moet dit besef. Die aanvaarding en impak van nuwe digitale tegnologieë in gewas- en veeproduksie kan veroorsaak dat private boerdery-inligting uitlek. Normaalweg doen boere moeite om hul inligting, soos opbrengsdata, grondpryse en kuddegesondheid te beskerm. As data dus verlore gaan of gesteel word, kan dit dramatiese finansiële en emosionele gevolge vir boere inhou.

Boere maak staat op ʼn mengsel van mobiele-, Bluetooth-, landgebaseerde en Wi-Fi-netwerke. Daar word egter steeds baie staatgemaak op USB-skyfies om data met die hand tussen die werktuie en die rekenaar oor te dra.

Op die platteland word boere gereeld deur seinverlies, probleme met bandwydte en kragonderbrekings gekonfronteer. Dit is belangrike swakpunte vir presisie-landbou. Selfs indien hulle al hierdie uitdagings sou oorkom, kan die beste presisieboerdery-data, as dit ongeanaliseer bly of wanbestuur word, rampspoedige gevolge hê.

Konteks is altyd die sleutel. Boere word gevra om meer te produseer met minder hulpbronne, terwyl hulle minder omgewingskade aanrig. Om dit te bereik, is presisieboerdery net nog ʼn hulpmiddel in die gereedskapskas om die boerdery beter en makliker te bestuur. Presisieboerdery verbeter boerderypraktyke en gee jou toegang tot die spel, maar dit vervang nie basiese, goeie plaasbestuur nie.

Of iemand nou in Iowa of Isipingo boer, tegnologie en presisieboerdery behoort deel van sy arsenaal te wees. Deur die inherente risiko’s in presisieboerdery te bestuur, kan die boer blootstelling op baie ander fronte verminder, wat geld en tyd sal spaar.

  • Andries Wiese is hoof van landbou by Hollard Versekering

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.