Vrugte-uitvoere nou papierloos

Die administratiewe proses om Suid-Afrikaanse vrugte uit te voer, sal van nou af papierloos geskied. (Foto: Du Preez de Villiers)

In ʼn stappie nader daaraan om vrugte-uitvoere groener en minder omslagtig te maak het die departement landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) ʼn papierlose, elektroniese stelsel vir die uitvoer van vrugte bekendgestel.

Die eCert-projek is in 2018 begin en die ontwikkeling het in noue samewerking met ʼn Nederlandse en Keniaanse afvaardiging geskied. Mettertyd is die sambreelorganisasie vir die vrugtebedryf, Fruit SA, betrek om ʼn e-sertifikasie-platform te bou.

Die geleentheid is by die Birchwood-hotel in Boksburg aangebied en deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, asook verskeie ambassadeurs en belanghebbendes in konsulate en die bedryf in die algemeen bygewoon.

“Die projek het vier jaar geneem en het harde werk gekos en daarom het ons rede om vandag fees te vier,” sê Dipepeneneng Serage, waarnemende adjunk-direkteur-generaal: landbouproduksie, biosekerheid, natuurlike hulpbronne en bestuur.

Die stelsel se belangrikste aandrywer was om aansoeke vir fitosanitêre sertifikate te vergemaklik, wat deur sommige van Suid-Afrika se handelsvennote vereis word. Dit vorm deel van die dokumentasie vir die uitvoer van landbouprodukte.

As blyk van waardering vir Suid-Afrika se bydrae tot die ontwikkeling van die eCert-stelsel, oorhandig Guido Landheer, Nederland se adjunkminister van landbou ‘n geskenk aan Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. (Foto: Du Preez de Villiers)

“ʼn Digitale sertifiseringstelsel was al in 2016 op ons wenslys en ek is baie bly dat dit nou uiteindelik in werking is,” sê Han Peters, ambassadeur van die Nederlandse koninkryk. “Die stelsel is sterk gedryf deur die privaat sektor en Fruit SA was ʼn sleutelrolspeler. ʼn Privaat-openbare vennootskap (PPV), met die insette van akademici, is baie belangrik om projekte soos dié te laat slaag. Ek wil daarom ook vir Mooketsa Ramasodi, direkteur-generaal van landbou, gelukwens, wat ook ʼn sterk dryfkrag agter die projek was.”

Die eerste fase van die stelsel het afgeskop met die uitvoer van druiwe in November 2019, wat gevolg is deur sitrus en ander gewasse soos tabak, graan en hout in April 2020. In Januarie 2021 het ʼn GPS-temperatuur-dataregistreerder bygekom en in April 2021 het die stelsel heeltemal papierloos geword. In dieselfde maand is die “eBilling”- en “eInspek”-modules geaktiveer, wat onderskeidelik fakture genereer en plaasinspeksies deur DALRRD se inspekteurs bespreek.

Dié stelsel maak dit nou moontlik om doeltreffendheid, deursigtigheid en naspeurbaarheid te verseker deur die hele proses aanlyn te bestuur. Daar word ook beplan om hierdie stelsel vir ander bedrywe, soos die vleisbedryf, van stapel te stuur.

Guido Landheer, Nederland se adjunkminister van landbou, het tydens die geleentheid gesê hierdie elektroniese sertifikasiestelsel is ʼn wen-wen vir Suid-Afrika en Nederland. “Dít is ʼn baie goeie voorbeeld waar kundigheid regdeur die waardeketting gedeel en saamgevoeg is. Ons oorweeg nou ook om hierdie stelsel vir die invoer van produkte na Suid-Afrika in werking te stel.”

Didiza het gesê hierdie projek is ʼn besonderse mylpaal en “het ons die geleentheid gegee om na die landbousektor te kyk en te sien wat gedoen moet word om vorentoe te gaan om ʼn inklusiewe landbousektor te skep. Die regering erken nou dat ons nooit oplossings vir werkloosheid en armoede sal vind of verbetering sal sien sonder die samewerking met ons vennote in die privaat sektor nie”.

Die mense wat die eCert-stelsel moontlik gemaak het. (Foto: Du Preez de Villiers)

Sean Hay, hoofbestuurder van Fruit SA, het vir Maroela Media gesê dat Nederland as die aangewese medewerker gekies is omdat dit die land is met die belangrikste hawens vir Suid-Afrikaanse vrugte-uitvoere na die Europese Unie (EU). “Altesaam 60% van dié produkte wat na die EU gestuur word, gaan deur die hawens in Nederland, soos Rotterdam. Saam met die bilaterale ooreenkoms tussen dié twee lande, asook Nederland se gevorderde hawens, spoorlyne en algemene vervoerstelsel was dit die aangewese keuse.

“Vrugte wat na die Ooste gestuur word, gaan regstreeks soontoe, want die e-sertifikasiestelsel is geskik vir enige land in die wêreld.

“Aangesien die EU van die strengste invoervoorwaardes ter wêreld het, weet ons nou dat ons basies na enige land ter wêreld vrugte kan uitvoer as ons aan Nederland se vereistes voldoen.”

Die e-Cert-stelsel stel uitvoerders nou in staat om alle prosesse volledig aanlyn te bestuur terwyl bedrog en menslike foute feitlik uitgeskakel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.