Vrystaat-vroue vat voor in landbou

Tharina Terblanche se trekkers, stropers en silo’s kom alles uit die AGCO-stal. (Foto: Verskaf)

Om as vrou jou merk in landbou te maak is nie maklik nie, maar Tharina Terblanche, ʼn boer van Sasolburg, het met volharding deur die plafon van hierdie man-gedomineerde bedryf gebreek.

Inderwaarheid is sy so suksesvol dat sy onlangs twee luukse Fendt-stropers aangeskaf het om, volgens haar, produktiwiteit in haar sojaboon- en mielielande te maksimeer en haar uitgestrekte plaas se landerye betyds te stroop voor die volgende plantseisoen begin.

Sy het vir Maroela Media gesê sy is hoogs beïndruk met die twee pragtige masjiene.

Om alles te kroon is die verkoopspersoon van dié majestueuse, swart bielies ook ʼn vrou.

Terblanche het egter nie oornag ʼn Fendt-ondersteuner geword nie.

Sy het in die laat 1980’s op hul familieplaas begin boer. “Dit was ʼn groot uitdaging, want ek was jonk en kon nie as vrou die landerye alleen bewerk nie. Een ding was seker, ek het dit gehaat as my trekkers gebreek het. My broer, ʼn AGCO-handelaar, het gesê ʼn Fendt is my beste oplossing.” Hierdie vervaardiger se trekkers was egter nie in daardie stadium in Suid-Afrika beskikbaar nie.

In 2017 het AGCO vier van Fendt se trekkers by Nampo bekendgestel.

“My broer het my gebel en gesê hy het iets spesiaals vir my,” sê sy. “Toe ek by sy handelaarskap aankom, het daar ʼn Fendt 1050-trekker gestaan wat ek daar en dan gekoop het. Ek het gesien hoe werk hulle in Italië en die masjien was pragtig, ek kon hom nie weerstaan nie.”

 

Tharina Terblanche is baie trots op haar Fendt-stroper skaalmodel, sowel as die ware jakob wat agter haar staan. (Foto: Verskaf)

 

Haar agting vir Fendt het net gegroei en sy sê dié werktuigbouer doen sy reputasie gestand deur hardwerkende masjiene bekend te stel wat deurentyd hulself bewys.

Fendt het verlede jaar hul IDEAL-stroperreeks bekendgestel en Terblanche het geweet sy moes van hulle hê.

“Ek het op die stropers verlief geraak en by Bronwyn Cilliers, hoofbestuurder van Valtrac in Parys, gaan aanklop en die Fendt IDEAL 7 en Fendt IDEAL 8 gekoop.” Een van haar redes is dat stropers al hoe groter moet word en vinniger moet werk om met moderne landboupraktyke en -tendense by te hou.

“Ons lande is nie plat en groot nie, so die kleiner oppervlaktes word met die IDEAL 7 en ’n 11 meter‑drapeertafel geoes. Op die groter en wyer lande oes ons met die IDEAL 8 wat ’n 12 meter-drapeertafel vooraan het,” verduidelik sy. “Die graan kom vinniger en skoner in, wat help dat dit nie na die tyd soveel gesif moet word nie.” Die twee stropers is spesiaal vir haar mielies en sojabone aangekoop aangesien Fendt se dubbelheliksrotors enige vermorsing aansienlik verminder.

“Fendt is die hoër stand onder stropers en my stropers is so luuks en gevorderd dat jy in die kajuit kan sit en koerant lees terwyl dit al die werk doen.”

Sy sê sy wens sy kon self die stropers ry, maar haar boerdery hou haar te besig. Gelukkig kan sy darem met Fendt se Connect telemetrie-stelsel in haar kantoor te sit en sien waar hulle op die lande werk. Met dié stelsel kan ʼn boer inderwaarheid die dieselverbruik, werkspoed en die tonne wat per hektaar per uur geoes word, moniteer. Daarbenewens kan onderbrekings, foutkodes, dienskennisgewings en heelwat ander funksies op die gemak van ʼn selfoon gesien word. Dit is nie meer nodig om in ’n kantoor of naby ’n rekenaar te wees nie.

Met arbeid wat ʼn groterwordende uitdaging in landbou raak, neem moderne masjiene al hoe meer van die besluitnemingsfunksies oor en Terblanche meen binnekort gaan die masjiene heeltemal drywerloos wees.

“Ek het ʼn geweldige respek en vertroue in Duitse vakmanskap en tegnologie en Fendt sit boonop die heel nuutste tegnologie in hul stropers.”

Cilliers is ʼn gekwalifiseerde meganiese ingenieur, wat hul familie-onderneming bestuur. Valtrac is ʼn AGCO-agent met takke landswyd wat trekkers en werktuie invoer, versprei en kliënte-ondersteuning bied.

 

Bronwyn Cilliers is die bestuurder van haar familie-onderneming, Valtrac. (Foto: Verskaf)

 

Cilliers het ook ʼn stewige boerdery-agtergrond en het op ʼn melkplaas grootgeword. “As jy ʼn melkboer as pa het, word jy groot met diere en werktuie,” sê sy. “Ek het nooit gedink boerdery sou vir my ʼn loopbaankeuse wees nie. Ek het aanvanklik op my studies gefokus en my ingenieursgraad verwerf.”

Nadat sy met haar eie gesin begin het, het sy egter besef watter waarde die landbou vir die gemeenskap en die sakewêreld bied. “Ná meer as tien jaar in die landbousakewêreld het ek nog nie een keer teruggekyk nie. Landbou is nie ʼn maklike bedryf om in te wees nie en bied baie uitdagings. Jy moet weet waarvan jy praat. As jy dit nie doen nie, vra soveel vrae totdat jy ten volle verstaan wat aangaan.”

Haar raad aan vroue wat ʼn loopbaan in landbou oorweeg, is eerstens om uit te vind waaroor dit gaan en waar jou belangstelling en passie lê. “As jy vind dit is waar jou hart is, leer soveel as wat jy kan. As jy nie universiteit of kollege toe kan gaan nie, doen jou eie navorsing.”

Terblanche sê sy het nie grootgeword met die idee dat mans en vroue van nature verskillend is nie. “Dit was nooit vir my moeilik om ʼn vrou in ʼn man se wêreld te wees nie,” hoewel sy erken sy moes soms ʼn bietjie harder werk om erkenning te kry. “Ek het altyd my alles gegee, en deur my alles te gee, is ek aanvaar.”

Sy het vier broers en het selfs as kind saam met hulle rugby gespeel.

In die lig van Nasionale Vrouedag wat op 9 Augustus gevier word, sê Terblanche dat vroue in die werksplek onder druk was en sommige steeds is. “Dit is ons verantwoordelikheid om vroue die geleenthede te gee wat daar vir hulle in hierdie wêreld is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.