Wees nou veldbrandslim

‘n Sigaretstompie wat in ‘n agterlosige oomblik by ‘n voertuig se venster uitgeskiet word kan verrykende gevolge hê. (Foto: Maroela Media)

Die veldbrandseisoen duur gewoonlik van laat Julie tot vroeg Oktober in die meeste streke van Suid-Afrika en het dus nou in alle erns aangebreek.

Brande kom voor wanneer die veld droog en die potensiaal vir wind hoog is – die ideale toestande vir ʼn vonk of vlam om in ʼn wegholvuur te verander. Dit ontaard dan maklik in ʼn brandramp, wanneer groot gebiede verbrand word en daar aansienlike lewensverlies is.

Diere vrek elke jaar weens brande. Plaasdiere word die meeste geraak, maar mak en wilde diere kan ook in die slag bly. Tydens rampe is dit in die huidige Suid-Afrika merendeels die verantwoordelikheid van die eienaars van die diere om te verseker dat daar in hul diere se behoeftes in hierdie situasies voorsien word. Diere kan egter dikwels nie betyds na veiligheid gebring word nie, omdat die eienaars oorweldig en getraumatiseerd is.

Die Lewendehawe-welsynskoördineringskomitee (LWKK) het ʼn waarskuwing vir veldbrande uitgereik en die volgende riglyne aanbeveel:

  • Maak reeds in Junie voorbrande (sien die Nasionale Veld- en Bosbouwet, Wet 101 van 1988 en kom die wet na).
  • Kies dae met min wind en maak die voorbrande vroeg in die oggend.
  • Lig die bure in en koördineer met hulle.
  • Werk saam met jou plaaslike brand- of rampbestuurskomitee.
  • Maak seker dat daar geen brandgevare langs oop paaie is nie.
  • Waarsku werknemers oor die gevare wat betrokke is en watter aksies vermy moet word.
  • Stel ʼn brandwaarskuwingstelsel in.
  • Maak seker brandbestryders weet wat om te doen.
  • Stel vas of die brandbestryders beskermende klere en werkende toerusting het.
  • Stel vas of voertuie en toerusting in goeie werkende toestand is.
  • Sorg dat daar ontvlugtingsroetes en ontruimingsplanne vir lewende hawe ingestel is.

Indien diere in ʼn brand beseer is, raadpleeg jou veearts en die LWKK se webwerf om diere in kategorieë te help indeel vir ligte of omvattende behandeling, asook of genadedood toegedien moet word.

Veldbrande word deur agterlosigheid, kwaadwilligheid of in sommige gevalle deur weerlig veroorsaak, maar ʼn boer kan steeds die risiko aansienlik verlig deur betyds op te tree en paraat te wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.