Fendt se 10T skrik vir geen taak of mededinger nie

Die blouswart Fendt Ideal 10T lyk nie net indrukwekkend nie, dit belowe om ook indrukwekkende werk te lewer.

Die Ideal 10T is nou die grootste en mees gevorderde stroper wat op die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar is.

Die eerste Fendt-trekker is in 1930 deur Hermann en Xaver Fendt, onder leiding van hulle pa, Johann Georg, in die Allgäu-streek in Bavaria in Duitsland gebou. Vandag word Fendt as ’n premium handelsmerk onder boere wêreldwyd beskou en hulle besit die grootste markaandeel in Europa.

In 2019 het 10 trekkers van oor die wêreld die Duitse landbouvereniging, beter bekend as die DLG, se strawwe gehardheidstoetse geslaag en agt daarvan het die Fendt-handelsmerk op gehad.

In 2020 is die Fendt 900-reeks as TOTY se trekker van die jaar aangewys.

Fendt, wat in 1997 deur AGCO oorgekoop is, vervaardig ook balers en stropers en hul vlagskip stropermodel, die Ideal 10T, is in 2019 by Agritechnica in Duitsland bekendgestel.

“Met die ontwerp van die Ideal-reeks is spesiale aandag gegee aan doeltreffendheid, korrel- en strooigehalte, betroubaarheid, gebruikersvriendelikheid en ’n revolusionêre sensortegnologie vir optimale masjienstelling,” sê Robbie Hall, produkbemarkingsbestuurder vir Gold Harvesting, AGCO Afrika.

“Die eindresultaat is ʼn stroperreeks wat perfekte resultate onder enige oestoestande lewer.”

Dit was gister Suid-Afrikaanse boere se beurt om amptelik met dié bielie en sy kleiner broers op eie bodem kennis te maak. Daar is vier modelle in die reeks, die Ideal 7, 8, 9 en 10T. Die Ideal 7 het ʼn enkele heliksrotor, terwyl die 8, 9 en 10T dubbele heliksrotors met verskillende 3D-golfpanontwerpe het. Die dubbele heliksrotorstelsel lewer dieselfde korrelgehalte as ʼn hibridiese masjien met die kapasiteit en deurset van ʼn rotasiemasjien. Die Ideal 7 het ʼn AGCO Power-enjin terwyl die 8, 9 en 10T MAN-enjins het.

Binne-in die kajuit is die eerste ding wat jou opval, dat die stuurwiel weg is. Dit is met die IDEALDrive-stuurstelsel vervang. Die stroper kan nou beheer word deur ’n stuurstok aan die linkerkant, of met een wat gemaklik op die voorste punt van die regterkantse armleuning aangebring is. Sodoende kan die drywer sy tafel van end tot end, sonder enige versperring dophou. Fendt het ook agtergekom dat ’n beheerstok baie minder spanning as ’n stuurwiel op die drywer plaas, wat noodwendig produktiwiteit verhoog. Met die IDEALDrive-stuurstelsel kan jy steeds ’n padspoed van 40 km/h handhaaf.  ʼn Aantal rymodusse is beskikbaar om doeltreffendheid en gerief op die pad te verbeter.

Op die pad en in die lande bied die Ideal-reeks bestuursgenot om van te droom.

Fendt se VisionCab bied ʼn 180° panoramiese uitsig terwyl die lae geraasvlak van net 73 dB ʼn aangename werksomgewing skep. Operateurs met lang bene kan ook gerieflik in die ruim bestuurkajuit sit, op ʼn luukse leersitplek met aktiewe ventilasie.

Op die Varioterminal 10,4″ se digitale skerm kan instellings en verstellings vinnig gemaak word deur aanraking, of om ʼn knoppie te druk. Gevorderde funksies soos IDEALharvest, word deur ’n iPad beheer, wat in ’n stewige en praktiese rakkie geplaas word.

’n Boer moet altyd drie dinge teen mekaar opweeg terwyl hy stroop – deurset, korrelgehalte en brandstofverbruik. IDEALharvest het ’n nuwe standaard in geoutomatiseerde masjienstellings opgestel om hierdie besluit uit die boer se hande te neem. Akoestiese MAD-sensors en slim algoritmes voorsien deurlopend data wat maklik en vinnig die rotor- en waaierspoed, asook die boonste en onderste sifopeninge verstel. Die spoed word ook voortdurend aangepas om die wisselwerking tussen dié drie veranderlikes te optimaliseer.

Die 10T het ʼn 16.2-liter MAN-enjin met ’n maksimum kraglewering van 589 kW (790 pk.), wat 107 kW meer as sy kleiner boetie, die IDEAL 9 lewer. Die ratkas het twee hoofverstellings, een vir in die lande waarmee die spoed van 0 tot 15 km/h gewissel kan word en een vir padmodus, wat van 0 tot 40 km/h strek. Met die MotionShift-funksie, wat bestaan uit ’n knoppie op die armleuning, kan jy maklik tussen die lande- en padverstelling wissel, selfs terwyl die stroper beweeg.

Die Ideal 10T se uitlaai-awegaar kan die graantenk binne 81 sekondes leegtrek.

Die 10T se graantenk het ’n allemintige kapasiteit van 10 ton, of 17 100 liter, met ʼn uitlaaitempo van 210 ℓ/s. Om dit reg te kry, moes Fendt die uitlaai-awegaar ’n deursnee van 480 mm gee. Daarmee kan die hele graantenk binne 81 sekondes leeg getrek word. Die uitlaaitempo kan hidroulies vanuit die kajuit verstel word.

Fendt se stropertafels word deur Geringhoff vervaardig en die grootste een waarvoor die 10T kans sien, het ʼn asemrowende werkwydte van 18 meter.

“Dit is ʼn opwindende en heeltemal nuwe ontwerp in vergelyking met enige konvensionele stroper. Dit weerspieël die uitsonderlike gehalte en innovering wat op die jongste neigings en tegnologieë gebaseer is,” sê Hall. “Die Fendt Ideal-reeks is ontwikkel in ooreenstemming met AGCO Afrika se verbintenis tot vinnige innovering en evolusie van presisielandbouoplossings om boere te help om meer te lewer met ʼn kleiner impak op die omgewing.”

AGCO het ook die handelaars wat oor die kapasiteit en vermoë beskik om hierdie gevorderde Fendt-produkte te ondersteun, tydens die bekendstelling aangewys. Hulle is:

  • BHBW in Bothaville
  • BHBW in Hoopstad
  • Drakensberg Agricultural Services (DAS) in Winterton
  • JWL Landbou in Ermelo
  • JWL Landbou in Standerton
  • Tradestuff in Hartbeesfontein
  • OVK in Bethlehem
  • Valtrac in Parys

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.