Integreer al die data op jou plaas met Fieldview

Fieldview bring jou hele plaas en al die verrigtinge na die palm van jou hand. (Foto: Climate.com)

Boere wat op hul plase wil bly kan nie meer bekostig om hulle landerye per hektaar te bestuur nie. Die omstandighede soos grondtipes en teenwoordige minerale verskil net te veel oor die lengte en breedte van ʼn plaas. Daarom moet hulle die jongste presisieboererytendense najaag om winsgewend te bly. Tegnologie ontwikkel gelukkig fluks en laat boere toe om in ʼn rigting te beweeg waar hulle hul plante se prestasie individueel kan meet en bestuur. Dit is selfs moontlik om meer intensiewe gewasse soos boorde en wingerde tot so akkuraat as ʼn vierkante sentimeter te monitor.

Bayer het onlangs Fieldview Plus aan Suid-Afrikaanse boere bekendgestel. ʼn Boer kry toegang tot die stelsel deur middel van ʼn app wat hy op sy slimfoon of tablet aflaai. Nadat hy die name van die kultivars wat hy geplant het en die res van die veranderlikes soos die tipe kunsmis wat hy gebruik, ingevoer het, neem Fieldview oor. Eerstens versamel dit die data wat elke vog- en temperatuurpeilstif in die grond, regoor die plaas genereer. Tweedens word die data versamel wat elke sensor, in elkeen van sy planters, spuite en stropers, regoor die seisoen genereer. Dan word die data gevisualiseer, ontleed en aan sy landboukundiges en raadgewers beskikbaar gestel.

Teen oestyd word die opbrengs per seksie gemeet en gebêre sodat die boer teen volgende seisoen se planttyd kan sien waar daar tekorte is en dit met sy kunsmistoedienings regstel. Soos die seisoene aangaan kan ʼn boer baie nuttige vergelykings tref en sy grond toenemend verbeter.

Hierdie omvattende stelsel se sterkpunt is dat dit nie gebonde is tot een werktuigvervaardiger nie – jy kan verskillende trekkers, werktuie en beheerstelsels op die stelsel integreer. Dit is baie makliker en meer gebruikersvriendelik vir boere.

Bayer werk al geruime tyd saam met die IT-maatskappy Climate Fieldview, wat soos te verwagte, in Silicon Valley ontstaan het. Die platform, wat reeds met duisende internasionale gebruikers en ongeveer 25 miljoen hektaar landbougrond spog, is vroeër in Suid-Afrika bekendgestel onder die Climate Fieldview- beta-program, wat deur ʼn handvol boere getoets en deur die slimkoppe aangepas is tot dit markgereed was.

“Dit is ʼn maklike platform vir oud en jonk om mee te werk, sê Armand Marx van Ardien Farming naby Parys. “Die hoofrede hoekom ek dit gebruik is die outomatiese oordrag van data na die wolk. Ons hoef nie elke dag nadat ons geplant het die data met ʼn geheuestokkie na die rekenaars oor te dra nie. Dit is ook makliker aanpasbaar tussen ons verskillende werktuie.”

Buiten die data wat die peilstiwwe en werktuie se sensors bied, integreer die Fieldview-platform ook satellietbeelde van die Sentinel-satelliete wat ʼn 5 x 5 m resolusie lewer. Dit stuur die beelde van die boer se gewasse vier keer per week na die app op sy slimtoestel. Deur middel van die kleurskakerings op die beelde kan hy dan kyk hoe sy gewasse daar uitsien en vinnig tekorte aanvul of regstellings maak waar nodig. Die satelliete kan die beelde vir tot vier jaar bêre.

Satelliettegnologie verbeter ook by die dag en sommige satelliete kan beelde van ʼn 1:1 m resolusie bied. Boere wat meer gedetailleerde beelde nodig het, soos om die individuele vrugte in sy boord te monitor, kan hommeltuie inspan om die taak te verrig. Fieldview maak dit dan moontlik om die beelde op sy platform te integreer.

Japie Breedt, ʼn boer in die Bapsfontein-distrik sê: “As jy aan iets kan dink om met jou gewasse te doen, kan jy dit met Fieldview doen.”

Bayer stel Fieldview Plus vir ‘n jaar gratis beskikbaar aan enige boer wat dit eers wil uittoets.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.