LoraWan omskep jou plaas in ʼn internet van dinge

‘n LoraWan poort (gateway) kan aan ‘n sonpaneel en battery gekoppel word. Dit versamel al die data wat die sensors regoor jou plaas uitstuur en omskep dit in bruikbare inligting. (Foto: Facebook)

ʼn Suksesvolle presisieboer het data nodig, en baie daarvan. Maar plase is uitgestrek en soms heuwelagtig en dit is duur en kragintensief om elke vogsensor in die grond of bewegingsensor om ʼn bees se nek met gewone seinverbindings aan jou sentrale moniteringspunt te koppel.

In 2009 het twee vriende in Frankryk begin om Lora te ontwikkel (ʼn akroniem wat staan vir “long range”), ʼn platform wat spesiaal ontwerp is om verbinding oor wye afstande met ʼn lae kragverbruik te bied. In 2015 is die Lora Alliansie gestig om die formaat van die boodskappe en sekuriteitsvlakke te standaardiseer. Die naam van dié tegnologie is toe verander na LoraWan. Landbou het vinnig die waarde van hierdie platform raakgesien en dit ingespan om datakommunikasiestelsels op plase te ontwikkel.

In Suid-Afrika het hierdie tegnologie ook vinnig posgevat en RSAWEB is een van die diensverskaffers wat dit onder meer vir boere beskikbaar stel. “Hierdie stelsel is baie goedkoop en eenvoudig om te installeer en te gebruik,” sê Koos Myburgh, hoofingenieur by RSAWEB. “Ons kom sit ʼn poort (gateway) op jou plaas op, wat amper soos ʼn gewone WiFi-modem lyk. Jy kan dit in jou huis aanbring, of ʼn waterdigte een op ʼn hoë stellasie soos ʼn windpomp. Dit moet net in die gesigslyn van die sensors wees waarmee dit moet kommunikeer. Die poort word dan aan jou bestaande internetverbinding gekoppel sodat die data na die res van die wêreld gestuur kan word.”

Vir boere wat geen internetverbinding op die plaas het nie, het LoraWan sopas sy eie satelliet, Lacuna, gelanseer wat twee keer per dag verbykom om data te gelei. In sekere omstandighede kan die Lacuna-satelliet nou ook as ʼn poort vir jou sensors dien.

‘n Massavloeimeter is een van die derduisende sensors wat aan die LoraWan-stelsel gekoppel kan word.

“Ons het reeds heelwat boere wat die stelsel gebruik,” sê Myburgh. “In die Langkloof is daar ʼn boer wat seine van sensors van anderkant die berg ontvang deur middel van ʼn poort op ʼn toring op een van daardie hoë berge. ʼn Ander boer gebruik die stelsel selfs in een van sy pakhuise, waar ons selfs kontaksensors in sy koelkamers se deure geïnstalleer het om te monitor dat die deure dadelik toegemaak word.”

Die reikafstand van hierdie stelsel is 15 km en jy kan tot 50 000 sensors aan jou poort koppel, van temperatuurpeilstiwwe in tabakoonde en vloeimeters in waterpype tot ligintensiteitsensors in jou boorde. Die standaardsensors het elkeen ʼn 3,6V AA-litiumbattery wat solank as tien jaar kan hou, afhangende van die frekwensie waarteen dit seine moet uitstuur. Die battery se status kan ook deurgestuur word sodat dit betyds omgeruil kan word.

Omdat die meerderheid sensors op ʼn plaas nie deurlopend ʼn massa inligting hoef deur te gee nie, werk LoraWan uiters doeltreffend vir plaastoepassings. Die data kan wel op maklik verstaanbare grafieke geplot en weergegee word.

Met ‘n inspeksiegatsensor kan ‘n boer sien of die deksel oopgemaak is, gebreek is of selfs water lek.

Namate die belangstelling op die platteland groei brei RSAWEB sy LoraWan-dekgebied uit en bied volledige stelsels waarin selfs ʼn sonpaneel en battery vir jou poort geïnstalleer kan word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.