Stroop vinniger, goedkoper met dié tafels, plukkerkoppe

John Deere se jongste stropertafels het die grense van oestegnologie verskuif. (Foto verskaf)

Suid-Afrikaanse boere is reeds goed vertroud met John Deere se stroperbeheerstelsel, Combine Advisor™, wat as ʼn opsionele pakket saam met hulle stroper aangeskaf kan word. Hierdie stelsel laat ʼn boer toe om die belangrikste stroperfunksies in te stel, te optimaliseer en te outomatiseer wanneer toestande verander. Dit ontleed voortdurend die stroper se werksverrigting en pas alle masjienfunksies daarvolgens aan om verliese te beperk en optimale produktiwiteit te verseker.

Nuwe beheerstelsel

John Deere Suid-Afrika het pas sy stropertafels en plukkerkoppe se beheerstelsels aangepas en bygewerk. Dit stel ’n boer nou in staat om nog vinniger te werk, strooptyd te verkort en bedryfskoste te verlaag. Dit word moontlik gemaak deur ’n plukkerkop-beheereenheid (PBE), of sogenaamde “header control unit”, wat met die stroper “kommunikeer”.

“Die PBE werk soos ‘plug and play’,” sê Carla Engelbrecht, John Deere se bemarkingskommunikasiespesialis. “Jy hoef net die gebruikerskoppelvlakeenheid in die kajuit in te prop en jou eie instellings volgens jou operasionele behoeftes op die skerm in te sleutel.”

Met behulp van die fabrieksinstellings sal die stroper dan die tafel of plukkerkop outomaties kalibreer. Dit verkort die opstellingstyd dramaties en bied boonop ’n akkurate instandhoudingskedule. Die resultaat is dat jou oeskarterings akkuraat bygewerk sal word.

Nuwe toerusting

Die reeks stropertafels en plukkerkoppe wat nuut op die mark is, sluit ’n vaste skarnierraam-snybalk (hinged frame cutter bar), drapeertafels (drapers), RDF HydraFlex™-drapeertafels, ’n BP15-band-optelplatform (belt pickup platform) en opvoubare (folding, CF) en vaste (rigid, CR) mieliestroperkoppe in.

Die HDR-reeks se skarnierraam volg die grondoppervlakte om ‘n beter snyhoogte te handhaaf. (Foto: deere.com)

Die nuwe John Deere HDR Rigid Drapers is ideaal vir kleingraan- en kanolaprodusente wat in veranderende omstandighede en ongelyke of heuwelagtige landerye moet werk. Die HDR het ’n skarnierraam wat die profiel van die grondoppervlak volg om ʼn eenvormige snyhoogte te handhaaf. Die raam vee ook die afgebuigde of platgedrukte plante oor die snybalk om daardie ekstra paar ton se oes te verseker. Die HDR is beskikbaar in snywydtes van 9,1 m, 10,6 m, 12,2 m en 13,7 m. Boere kan nou elke dag 10% meer oppervlakte stroop met dieselfde aantal lengtes en werksure as hulle van ʼn 12,2 m- na die 13,7 m-drapeertafel opgradeer.

John Deere se nuwe RDF HydraFlex™-drapeertafels is op die bewese snytegnologie van die bestaande John Deere 700FD gebou, terwyl dit nuwe funksies bied om graanverliese te verminder. Alle RDF HydraFlex™-drapeertafels bevat ’n nuwe tweesnelheid-voerafdeling waarmee operateurs die voerdrom en die middelste voerbandsnelheid met 20% kan vertraag om deur digte materiaal te werk.

Hierdie drapeertafels is steeds toegerus met die 10 cm lange dubbelsnit-HydraFlex-snybalk met dubbele aandrywingskag. Dié messtelsel lewer ’n werksverrigting wat uitstaande in die bedryf is en kan 1 980 snitte per minuut maak.

Vir kleingraan- en kanolaboere wat hulle hektare vinniger wil kafdraf, bied John Deere die BP15-bandopteller. Hierdie werktuig beskik oor verbeterde voersnelheid-aanpasbaarheid om groot volumes materiaal op ’n slag te hanteer. Dit word moontlik gemaak deur ’n standaard-tweespoed- awegaaraangedrewe kettingrat wat 20% vinniger toevoersnelhede lewer indien nodig. Vir kanolaboere is dit veral baie goeie nuus.

Kleingraanboere gaan baie baat vind by die BP15-bandopteller. (Foto: deere.com)

’n Nuwe reeks mieliestroperkoppe is ook ontwikkel. Vir plantmateriaal wat oorhel of omgeval het, kan die vaste CR-mieliestroperkoppe toegerus word met aktiewe endskermbalke wat meer mieliekoppe by die stroperkop intrek.

John Deere se opvoubare CF-mieliestroperkoppe beskik oor al die eienskappe van die vaste CR-mieliestroperkoppe, maar bied ’n laeprofiel-vouraam en ’n vou-siklusperiode van minder as 60 sekondes as dit aan die stroper gekoppel is.

Strooptyd is om die draai en dit is al telkemale bewys dat die jongste en beste tegnologie deur en deur die moeite werd is en homself binne ʼn redelike tydperk afbetaal.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kokerboom ·

Wonderlike tegnologie…mens voel sommer lus om te boer!

SomeOne ·

maar dan kom die prys, en jy skrik jou boeglam, vrek duur

Blikkies ·

@ Kokerboom tot jy die pryse sien, dan gaan daai lus sommer gou weg….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.