Wetgewing skadelik vir nuwe saadteeltegnologieë

Moderne teeltegnieke moenie as GMO’s beskou word nie. (Foto: Darkmoon_Art, Pixabay)

Die saadbedryf het appèl aangeteken teen die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling (DALRRD) se besluit dat nuwe teeltegnieke (NTT’s) volgens tradisionele geneties gemanipuleerde organismes (GMO’s) geëvalueer moet word.

Dit volg nadat die DALRRD in Oktober verlede jaar wetgewing afgekondig het wat impliseer dat ’n wye verskeidenheid produkte afkomstig van NTT’s, dieselfde risiko-analises moet deurgaan as GMO’s.

Die Landbousakekamer (Agbiz), die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadvereniging (Sansor) en CropLife SA voer aan dat die regulatoriese benadering, om alle NTT’s kragtens die GMO-wet, 1997 (Wet 15 van 1997), te klassifiseer en te reguleer, onvanpas is.

Die verskil tussen GMO’s en NTT’s is dat eersgenoemde vervaardig word deur ʼn gedeelte van die DNS van ʼn organisme, soos die Bacillus thuringiensis-bakterie, in ʼn ander organisme, byvoorbeeld ʼn mielie, se DNS te plaas, om stronkboorders wat die mielie aanval, dood te maak.

NTT’s gebruik gevorderde prosesse soos CRISPR-tegnologie om gedeeltes van ʼn organisme se DNS uit te knip en te verwyder of dit op ander plekke in te voeg. Sommige van die finale produkte kan egter dieselfde eienskappe hê as wanneer dié organisme oor ʼn aantal seisoene op ʼn konvensionele metode geteel is.

Die Akademie vir Wetenskap van Suid-Afrika het in 2017 saam met verskeie rolspelers in die bedryf ʼn dokument opgestel wat as ʼn voorstel vir NTT-wetgewing kan dien, maar wat deur die departement opsy geskuif is.

Maroela Media het by Magdeleen Cilliers, beleid- en navorsingbeampte van Sansor, gaan aanklop om uit te vind waarom dit vir hulle so belangrik is om hierdie onderskeid te tref.

“Ons wil dit eerstens net duidelik maak dat wetgewing oor GMO’s nie beteken dat dit skadelik is nie. Ons beveg ook nie die GMO-wet nie, want dit bied goeie riglyne vir die bedryf en dit toets of die produkte wel aan die hoogste standaarde voldoen.”

Sy sê ʼn toename in wetgewende vereistes sal verhoed dat nuutskeppings deur Suid Afrikaanse saadmaatsappye en bio-innoveerders gemaak kan word en sodoende markmededinging belemmer.

Dit gebeur veral wanneer regulasies vereis dat uitgebreide en duur toetse gedoen moet word alvorens ’n produk goedgekeur kan word. Dit ontmoedig klein en nuwe maatskappye, terwyl dit ’n relatiewe voordeel aan groter en gevestigde maatskappye verleen, want hulle is beter in staat om die las van hierdie wetgewing te dra.

Maatskappye gaan ook nie belê in die ontwikkeling van plantvariëteite wat tot stand gekom het weens NTT’s nie, vanweë die reusekoste wat daaraan verbonde is.

“Dit sal ook broodnodige invoer benadeel, byvoorbeeld wanneer Suid-Afrikaanse boere deur droogte geraak word.

Wanneer ʼn maatskappy in die buiteland ʼn NTT-produk skep wat nie as ʼn GMO in die betrokke land geklassifiseer word nie, maar wel in Suid-Afrika, kan dit probleme skep. Omdat sommige produkte nie eksterne DNS bevat nie, kan dit nie as ʼn GMO geïdentifiseer word nie, omdat dit soortgelyk is aan produkte wat op ʼn konvensioneel metode geteel is. Wanneer hierdie produkte ingevoer word, sal Suid-Afrika dit nie kan klassifiseer of bepaal of dit aan die vereistes van die GMO-wet voldoen of nie.

“Dit sal ook navorsing en nuutskeppings regstreeks beïnvloed. Suid-Afrikaanse boere gaan ook nie toegang tot al die nuutste genetika hê wat weerstand teen klimaatverandering kan bied nie.”

Cilliers sê ook dat ʼn GMO-produk heelwat langer neem om in die mark te stoot weens die streng wetgewing betrokke by die evaluering daarvan.

Op ʼn vraag hoe Sansor gaan verhoed dat NTT’s nie dieselfde pad as GMO’s gaan stap rakende die negatiewe openbare persepsie wat oor hierdie tegnologie heers nie, sê Cilliers dat gefokusde kommunikasie die antwoord is. “Die konsep moet gekommunikeer word op so ʼn manier wat die ‘gehoor’ sal verstaan. Sansor het gesien hoe die gesprekke in ander lande verloop het, wat reeds produkte op die mark het en sal by hulle leer. Sansor werk tans nog aan ʼn deurtastende kommunikasieplan”

Sy voeg by dat die deregulering van NTT’s reeds uitstekende resultate in ander lande getoon het. “Argentinië het ongeveer vyf jaar gelede hul regulasies ingestel en saam met die VSA en ander lande het hulle produkte op die mark wat boere en die publiek help met die verskeie uitdagings wat klimaatsverandering bied.”

Daar is ook baie gebiede waar navorsing tans plaasvind, byvoorbeeld die teel van glutenlose koring. In hierdie lande is daar ook meer maatskappye wat produkte op die mark het, wat ʼn groot voordeel vir hulle ekonomieë inhou.

Sy sê ʼn hersiening van die GMO-wet sal wel verwelkom word, veral omdat dié wet proses- en nie produkgedrewe is nie.

Dit beteken dat slegs die finale produk as ʼn GMO-organisme, al dan nie, geëvalueer moet word. Soms word GMO-organismes gebruik in die proses om ʼn NTT-produk te skep, maar argumentsonthalwe teruggeteel. Volgens Suid-Afrikaanse wetgewing sal die finale produk dan (verkeerdelik) as ʼn GMO geklassifiseer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
casper

In pain afrikaans beteken dit net meer koste vir die boer en ‘n manier om ‘n staatsamptenaar te verryk.

annie

Klimaatsverandering… Boel! Gierigheid van sakeman-boere, ja! Hoe mooi die graan op die lande groei en boere se bankrekeninge, maar hulle is min gespin oor siektes en skade aan die menslike genetika agv te slim ingrepe by voedselbronne. Vee word ook geraak. Self die bye verdwyn. Wat het van etiese standaarde geword?