‘Maak boere se veiligheid prioriteit in feestyd’

Daar word van die SAPD verwag om tydens hierdie feestyd uiters bedag op boere se veiligheid te wees. (Argieffoto)

Die hoë misdaadvlakke, en veral plaasaanvalle wat weer die laaste tyd opgevlam het, het volgens Agri SA reeds verskeie boerderye ingrypend geraak. Dié organisasie doen ʼn ernstige beroep op die SAPD om tydens die kritieke feestydperk, nie hulle plig te versuim nie.

“Boere ly groot verliese weens ʼn toename in plundering en produk- en insetdiefstal op plase. Hoërisikomisdade soos die onwettige jag met honde, veral deur georganiseerde groepe, hou ʼn verdere bedreiging vir die veiligheid van die boerderygemeenskap in. Dié misdadigers sal nie huiwer om geweld te gebruik indien hulle gekonfronteer word nie. Dit hou ook ʼn bedreiging vir die wildlewe in, wat op dié wyse gestroop en aan erge trauma blootgestel word,” sê Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri SA se sentrum van uitnemendheid en landelike beveiliging.

Hy het ʼn dringende beroep op die SAPD gedoen om die veiligheid van boerderygemeenskappe, asook die uitvoering van die Nasionale Veiliger Feesseisoen-operasie, soos onlangs deur die minister van polisie bekend gemaak is, te prioritiseer.

“Agri SA verwelkom die aankondiging van die nasionale kommissaris van polisie, dat die Landelike beveiligingstrategie in dié tyd gebruik sal word om aanvalle op boerderygemeenskappe en veediefstal te bekamp.”

Hy voer aan dat die SAPD se fokus op sigbare polisiëring en misdaadvoorkomingsoperasies in die feestyd, tot ʼn daling in misdaad kan lei. “Om ʼn ferm boodskap aan misdadigers te stuur dat misdaad nie geduld sal word nie, is dit belangrik dat die operasie ook in die landelike gebiede uitgevoer word.”

Hy sê om ander misdade soos betreding en grondbesetting te voorkom, moet die SAPD ʼn proaktiewe benadering volg, want dit hou verdere konflikpotensiaal in indien dit nie onmiddellik deur die polisie hanteer word nie.

Hy sê ook die SAPD moet met erns op bogenoemde en hoërisiko-misdaadklagtes reageer en hulle regsplig uitvoer en nie passief toekyk nie sodat die slagoffer se regte nie weens ondoeltreffende polisiëring in die slag bly nie.

“Agri SA is deeglik van boere se frustrasies bewus, maar boere moet nie moedeloos raak nie, want gesamentlik kan ons die beste oplossings vir die uitdagings vind. Ons gee ook erkenning aan die boere wat op verskeie veiligheidstrukture dien om landelike misdaad te bekamp. Ons weet dit verg baie tyd, opoffering, tyd weg van hulle plase en tap individue en boerderye se finansies.”

Hy doen ook ʼn beroep op die boerderygemeenskap om nie hulle waaksaamheid gedurende die feestyd te verslap nie, maar aktief by hulle plaaslike, georganiseerde landbou- en veiligheidstrukture betrokke te raak en te bly. “Dit is egter ook belangrik dat skakeling met die plaaslike SAPD behou word en dat alle misdaad en verdagte optrede onmiddellik aan hulle gerapporteer word.”

Vrystaat Landbou het vroeër ʼn kontrolelys vir boere opgestel waaraan hulle tydens die feestyd moet aandag gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Dit boere is besig om hierdie oorlog te verloor die aanvalle kan nie gestop word nie want die strukture is nie in plek maar die ongevalle moet omgedraai word dat die aanvallers die meeste verliese ly wat nie nou die geval is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.