Genesis sorg vir voedsame kitskos in ʼn krisis

Genesis se kitskospakkies kan maklik gemeng en gebruik word. (Foto: Genesisnutrition.co.za)

Die verskaffing van gereelde en deurlopende voedsel aan rampslagoffers of gemeenskappe wat onder langdurige hongersnood gebuk gaan, is dikwels een van die dinge wat in die harwar of logistieke begrotings misgekyk word.

Dit is ook nie ʼn maklike taak om te sorg dat mense in nood elke keer ʼn gebalanseerde ete ontvang nie. Dit is juis rampslagoffers wat immuunversterking en baie energie nodig het en as die kos boonop lekker smaak, is dit glad nie te versmaai nie.

Dit was die dieetkundige, Michelle Bristow, se groot droom om hierdie taak maklik te maak. In 2013 het sy die korporatiewe wêreld ná tien jaar verlaat om haar daarop toe te spits om ʼn dieet in kitsvorm te ontwikkel wat selfs voedsamer is as die kos wat die res van ons daagliks inneem. Haar kos is wetenskaplik geformuleer om ʼn “volledige” maaltyd te verskaf met al die elemente wat jou liggaam nodig het, selfs waar dit onder spanning verkeer.

Sy het ʼn veldtog in die korporatiewe wêreld van stapel gestuur om rolspelers betrokke te kry en in haar maatskappy, Genesis, te belê. Daar word met elkeen ʼn pasmaakkontrak gesluit om geld te voorsien.

Die makrobestanddele van Genesis se kitskos voldoen aan die internasionale riglyne vir ʼn gebalanseerde en volledige dieet. Slegs grondstowwe van die hoogste gehalte word uitgekies.

In plaas daarvan om hitte-uitgeperste mielies te gebruik, soos die meeste vervaardigers van droë poeiers, gebruik Genesis onder meer koring wat deur ʼn unieke kombinasie van hoë hitte en druk gekook word. Hierdie proses behou die integriteit van die mikrobestanddele.

Die sojabone wat gebruik word, ondergaan ʼn unieke kookproses. Dit word met behulp van verhitte droë lug (sonder chemikalieë) teen ʼn hoë temperatuur gebraai, wat ʼn eiesoortige neute-geroosterde geur verleen en ʼn uitstekende smaak tot gevolg het.

“Boonop is dit maklik vervoerbaar en kan vir baie maande geberg word. Dit is veral ‘bekostigbaar’ en dra die hoogste voedingswaarde per ‘rand’ in vergelyking met soortgelyke produkte op die mark, plaaslik en internasionaal,” sê Bristow.

Die kos word in poeiervorm in sakke van tussen 25 kg en 70 g verpak. Wanneer daar skoon water beskikbaar is, kan ʼn porsie van tussen 50 g en 75 g met warm of koue melk of water in ʼn bak gemeng word. Elke 50 g porsie gee 9 g se proteïne en 27 g se koolhidrate. Die GI-telling is ook laag en die kos hou jou vir langer vol – tussen vier en ses ure.

 

Genesis het ‘n produk vir elkeen wat vinnig ‘n gebalanseerde ete benodig, van die rampslagoffer, uithouwedloper tot die plaaswerker. (Foto: Genesisnutrition.co.za)

Waar daar nie water is nie, of dit ondrinkbaar is, voorsien Genesis pakkies wat in twee verdeel is met ʼn afsonderlike kompartement wat met water gevul is. Deur die pakkie op ʼn bepaalde manier te druk, word die seël tussen die water en die poeier gebreek en dan kan dit gemeng word.

Genesis het ʼn wye voet(d)spoor. Dié kos is al in die konflikgeteisterde Jemen, Sirië en Somalië versprei, asook tydens die vloede in Mosambiek. Plaaslik het Genesis mense tydens die Knysna-brande bygestaan en hulle verskaf reeds baie kos in die Noord-Kaap en Oos-Kaap met die droogtes wat plek-plek al ʼn negende jaar ingaan.

“Ons werk saam met Gift of the givers. Hulle het ʼn sterk verteenwoordiging op die plekke waar dit saak maak en terwyl hulle boorgate grawe, voorsien ons die kos,” sê Bristow.

Verder reageer Genesis wanneer gemeenskappe in nood hulle nader. Laeveld Agrochem het ook ʼn welsynsarm wat van Genesis se kos inspan.

Die kos word by ʼn sentrale punt afgelaai waar dit dan dienooreenkomstig uitgedeel word.

“Met die groot sakke kan ons ʼn mens teen R2,20 per ete voed; daar is ses geure beskikbaar en dit smaak baie lekker. Die dubbelsakkies kos R10.

“Die dubbelsakkies is ook gewild onder atlete wat aan uithouwedlope deelneem en baie boere koop dit vir hulle werkers aan vir wanneer hulle ʼn dag ver van die huis af deurbring. Produktiwiteit en konsentrasie verbeter aansienlik en die werkers word deeglik gevoed. Dit gebeur ook al hoe minder dat werkers nie Maandagoggend vir werk opdaag nie.

“Teenstropingseenhede en brandbestryders wat lang ure moet werk, is ook van ons gewilde kliënte.”

Genesis het ʼn aanlyn winkel waar die kos bestel kan word en by jou voordeur afgelaai word.

Vir dié wat dit daagliks of op ʼn gereelde grondslag wil gebruik of in hul kinders se kosblikke wil pak, kan dit ook met vrugtesap of jogurt as ʼn vrugteskommel (smoothie) gemeng word. Genesis kan selfs as ʼn bakbestanddeel vir muffins, koekies en plaatkoekies ingespan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.