Groot pryse wink vir TLU SA jong boere

Van TLU SA se jong boere wat die TLU SA jongboerkonferensie bygewoon het, is Floris Booysen, komiteelid; Jacques Fourie; Christo Smit; Jacques Moller, Juanita du Preez, bemarkingskonsultant vir TLU SA; Henna du Plessis, voorsitter, en Danie Bester, TLU SA Jong boer van die jaar 2020.

Jong boere van regoor die land moet vinnig spring om vir die 2021 TLU SA Jong boer van die jaar-kompetisie in te skryf. Die sluitingsdatum is 18 Junie 2021.

Die kompetisie word in samewerking met Santam Landbou, Manitou, CMH Ford en Introlab aangebied en het oor die jare baie gewild geraak met groot pryse op die spel, waaronder ʼn reis na Parys, Frankryk, vir die wenner.

Vorige deelnemers is dit eens dat dit nie net die wenner is wat iets uit die kompetisie wegneem nie.

“Die kompetisie is ʼn baie goeie maatstaf om te kyk of jy dinge reg doen in jou boerdery,” sê Henna du Plessis, voorsitter van TLU SA se jong boer- komitee en voormalige wenner. “Die beoordelaars lê besoek af by jou plaas vir beoordeling, maar die terugvoer wat hulle gee is baie waardevol omdat hulle met ʼn vars oog en kundigheid na jou onderneming kyk.”

Die paneel van beoordelaars word saamgestel uit onbevooroordeelde kundiges in spesifieke landboukundige velde wat ’n objektiewe wetenskaplike metode gebruik om die wenner aan te wys aan die hand van internasionale bestuurskriteria.

Danie Bester, die wenner van verlede jaar se kompetisie, stem saam dat die terugvoer oor die boer se boerderytegnieke ʼn goeie inset lewer tot die toekomstige sukses van die boerdery.

“As jy natuurlik wel wen, is dit ʼn kloppie op jou skouer wat jou die erkenning gee dat jy iets reg doen,” sê hy.

Boere van 35 of jonger wat lede van TLU SA is kan vir die kompetisie inskryf.

Al die finaliste word op hul plase deur die paneel beoordelaars besoek, waarna die wenners tydens die kongres op 1 September bekend gemaak sal word.

Die samestelling en omvang van die kandidaat se onderneming is nie belangrik nie. Enige vee-, wild-, vrugte-, saai-, en wingerdboere, of kombinasies hiervan staan dieselfde kans om as wenner aangewys te word.

Die kandidaat kan op sy/haar eie boer of in vennootskap met ander wees. In laasgenoemde geval moet die kandidaat egter spesifieke toegedeelde verantwoordelikhede hê waarop hy/sy geëvalueer sal word.

Die kandidaat moet ʼn opbetaalde lid van TLU SA wees.

 

Inskrywings kan direk aan die betrokke streekbestuurder of streekvoorsitter gestuur word:

Noord – Drickus – [email protected]

Noord-Wes/Vrystaat – Jannie – [email protected]

Oos/Natal – Ronnie – [email protected]

Sentraal – Lynette – [email protected]

Wes-Kaap – Bennie – [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.