Koolhidraatvlakke van avokadobome ook nou getoets

Avokadoboere is in staat om hulle bome se suiker en styselvlakke te sien. (Foto: sandid, Pixabay)

Sitrusboere was die eerste groep wat twee jaar gelede ʼn tegnologiese deurbraak deur Agri Technovation kon benut. ʼn Gereedskapstuk is ontwikkel waarmee baie akkurate metings van ʼn boom se koolhidraatvlakke geneem kan word. Nou het Agri Technovation ook die tegnologie vir avokadoboere verfyn.

Met die ITESTTM Carbohydrates-ontledingsprogram (CHO) kan die suikers en styselkonsentrasies in blare en wortels baie akkuraat en tydens elke belangrike fisiologiese stadium van die boom gemonitor word.

Koolhidrate speel ʼn belangrike rol in wortel- en lootgroei, blom, vrugset, vruggrootte en vruggehalte. Dit is belangrik in eenjarige gewasse en meerjarige vrugtebome soos avokado’s, sitrus en neute, asook sagtevrugte soos druiwe, kern- en steenvrugte wat bekend is vir hul hoë energiebehoeftes.

Tydens elke kritieke stadium in die groeifase van ʼn boom het dit bepaalde koolhidraatvlakke. Om presies te weet wat dit is, hou beduidende voordele vir ʼn boer in. Dit sal noodwendig sy vermoë om sy bome beter deur die seisoen te bestuur vergemaklik en daarvolgens te manipuleer om optimale en volhoubare opbrengste te behaal.

Dié program bestaan ​​uit roetineontledings op die blare (vier per seisoen) en op die wortels (een of twee per seisoen). Hierdie resultate word dan met ʼn norm vir suiker, stysel en totale koolhidrate vir verskillende fenologiese stadiums van die plant se lewensiklus vergelyk.

Monsters word weggestuur en by die wêreldstandaard Agri Technovation-Plantfisiologienavorsingsentrum getoets. “Deur die ontledings te doen kan ons kundiges bepaal of die energiestatus van ʼn boom voldoende is om ʼn goeie blom- en vrugset in die komende seisoen te lewer,” sê Erik de Vries, gesamentlike uitvoerende hoof van Agri Technovation.

“Dié ontledingsprogram is, sover ons vasgestel het, die eerste in sy soort ter wêreld.

“Hoewel die wetenskaplike benadering oor die rol van koolhidrate nogal oud is, is die kommersialisering van die interpretasie van die resultate en ontleedtegnieke wat gebruik word om boere te help, ʼn deurbraak.

“Hierdie tegnologie is trots Suid-Afrikaanse baanbrekerswerk en gegrond op wetenskaplike navorsing wat oor baie jare ontwikkel is,” sê hy.

Die bekendstelling van die nuwe tegnologie het vir groot opwinding gesorg en die vrugtebedrywe en boere uit die VSA, Suid-Amerika, Australië en Nieu-Seeland het baie belangstelling getoon. Hulle maak nou aktief gebruik van hierdie diens.

Tot op hede het die Agri Technovation-Plantfisiologienavorsingsentrum ongeveer 11 700 monsters ontleed. Heelwat daarvan is op sitrus gedoen, maar intussen het hulle ook begin om avokado’s s’n kommersieel uit te rol en 19 ander gewasse onder die vergrootglas te bekyk.

ʼn Volgende mikpunt van die Agri Technovation-span is dus om hierdie tegnologie vir ander gewasse bekend te stel. Die voordele wat dit inhou, lyk ook belowend en die proeftydperk is reeds goed op dreef.

Foto: Verskaf

“Op die sitrus het ons die program reeds tot op kultivarvlak ontwikkel. Dit beteken dat ons databasis norme vir elke kultivar kan gee. Verder het ons dieselfde vir elke sitrusstreek gedoen waar die klimaatstoestande wissel. Met die avokado’s trek ons nou by gewasvlak. Ons het die belangrikste kultivars geneem om ʼn gemiddelde norm te kry. Daarna sal ons afwentel tot op kultivarvlak.”

Avokadoboere in Nieu-Seeland, Australië en plaaslik wat dit kommersieel gebruik is nou reeds in hul vierde maand en baie beïndruk met die voorlopige resultate. Daarmee kan Agri Technovation reeds baie akkurate aanbevelings maak.

“Ons neem ons eerste monsters tydens blominduksie in Februarie tot Maart. Blomtyd is nou op hande en dit is weer ʼn kritieke stadium. Dan sal ons dit deurvat tot oestyd, wat op verskillende tye is, na gelang van waar die avokado’s verbou word.

“Ons is opgewonde dat ons die program kommersieel kon uitrol,” sê De Vries.

Die bekendstelling van die CHO-program op avokado’s gaan saam met hul nuwe produkreeks vir die 2021-seisoen val, waarmee boere nou ook hul bome se koolhidraatvlakke kan manipuleer.

Agri Technovation bied produkte en dienste van hoogstaande gehalte wat geformuleer en ontwikkel word om daardie nypende tekorte aan te pak en om boere in staat te stel om optimale opbrengste te lewer, selfs in ʼn onbestendige seisoen.

Maak kontak met Jeanette Nel by [email protected] of Erik de Vries by [email protected] om saam met Agri Technovation die volgende tree in die gewasrewolusie te gee.

Volg Agri Technovation op sosiale media vir meer ag-tech advies:

Facebook: https://www.facebook.com/agritechnovation

Linkedin: https://www.linkedin.com/company/agri-technovation-pty-ltd/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.