Rietvallei-wyne gedy op ʼn golf van goud

(Foto verskaf)

Met die jaar wat einde se kant toe staan, kan Rietvallei Landgoed by Robertson terugkyk op ʼn golf van kompetisiesukses wat hom deurentyd in die kollig gehou het –  duidelik die vrug op letterlik dekades se insette en ontwikkeling deur ses geslagte om hierdie familieplaas se natuurlike bates behoorlik te benut.

“Toenemende erkenning, veral in die laaste jaar, het my as wynmaker ook die selfvertroue gegee om onbevange uiting te gee aan my natuurlike voorkeure en om wyn te maak soos ek daarvan hou. En die belonings stroom in.”

Só vertel die wynmaker-eienaar van hierdie 158-jarige wynplaas, Kobus Burger, na aanleiding van hul rits suksesse in prominente kompetisies soos die Veritas-toekennings, SA Terroir-kompetisie en die Michelangelo Internasionale Wyn– en Spiritualieë-kompetisie.

“Ja, elkeen van die geslagte se eienaarskap het hul rol gespeel om Rietvallei tot hier te bring. En ons het almal foute gemaak, maar gelukkig ook goeie dinge gedoen. Ek wil egter my pa uitsonder, want dit is sedert hy die rigting verander het en  omvattende vernuwing ingestel het, wat die groot dinge gebeur het.”

Wyle Johnny Burger het in 1981 ʼn nuwe, moderne kelder gebou in die plek van wat  basies ʼn muskadel- en bulk-kelder was, met vlekvrye staaltenks, verkoeling en al. Dit sluit die groot stappe in om koue fermentasiefasiliteite te skep en later van stortmaatwyn-produksie vir ʼn groothandelaar weg te breek en ʼn eie handelsmerk te bou.

Hul eerste handelsmerkwyn was die 1975 Muskadel en die eerste natuurlike droë  witwyn, ʼn Chardonnay in 1987 – wat in die laat 90’s gegroei het tot ʼn portefeulje van vier, teenoor vandag se 24 wat opsies vir wye smaakvoorkeure bied.

Wynmaker-eienaar van Rietvallei Landgoed, Kobus Burger (Foto verskaf)

Kobus het ná ʼn offisierskursus in die Vloot en ʼn graad in meganiese ingenieurswese sy gewig met bemarking agter pa Johnny ingegooi – destyds ʼn kleurvolle en pretensielose, maar ook sterk persoonlikheid in die Vallei van Wyn en Rose.

Kobus het in 2002 oestydwerk by die Bergkelder in Stellenbosch en by die Henri Bourgeois-wynkelder in Sancerre gedoen. Sy eerste oes op Rietvallei was in 2003 saam met Johnny – laasgenoemde wat daarna op die wingerdbou en boerdery kon fokus met Kobus aan die roer van keldersake.

Vandag sorg Kobus vir 90 hektaar onder wingerd, 55% wit en 45% rooi druiwe, hoofsaaklik Sauvignon Blanc, Chardonnay, Chenin Blanc, Cabernet Sauvignon, Cabernet Franc, Shiraz en ʼn ou hoeksteen van Rietvallei se tradisie, die 113 jaar-oue bosstok Rooi Muskadel, wat oor die jare ʼn vlagskip van die landgoed was.

“ʼn Belangrike faktor in die jongste jare se sukses in die markplek en met kompetisies is dat die nuwe wingerd-aanplantings nou volwassenheid bereik het en meer vrug-intensiteit en karakter lewer, wat natuurlik deurdra in die kelder.”

Vandag pryk die trofeë vir SA Terroir Top Landgoed en Topprodusent by die Novare SA Terroir Wyntoekennings 2021 in die keurig gerestoureerde Rietvallei-herehuis en besoekersfasiliteite met ʼn pragtuin.

Rietvallei Wynlandgoed het uitgetroon by hierdie kompetisie deur beide hierdie spogpryse in te palm. Sodoende het die landgoed nie net sy unieke terrein-eienskappe soos kalkryke, goed gedreineerde grond vir wynproduksie bevestig nie, maar ook Robertson-distrik se groeiende statuur as oorsprong van voortreflike wyn.

Rietvallei is hier ook aangewys as nasionale wenner in die Sauvignon Blanc- en Chenin Blanc-kategorieë – die land se mees mededingende en mees aangeplante witwynkultivars. Sy nasionale wenners was Estéanna Sauvignon Blanc 2020 en Chenin Blanc 2020 – beide vatgegis en met oordeelkundige houtkontak berei.

Die Estéanna Sauvignon Blanc word gemaak van die landgoed se hoogste produksie-kultivar. Die naam is in Rietvallei se tipiese familietradisie ontleen aan Kobus en Elizabeth Burger se dogters, Esté en Annie … wie se tweelingbroers se name seker weldra op wenwyne sal pryk.

Die familie-vaandel wyne Estéanna Sauvignon Blanc 2020 en JMB Cabernet Franc 2016 was vroeër vanjaar ook onder die oes van ses goue medaljes by die Michelangelo-kompetisie waar byna 1 900 wyne dit vir die louere uitgespook het.

En dan die kersie op die koek – in die onlangse Veritas-toekennings, met sowat 1 300 inskrywings, het die Rietvallei JMB Chardonnay 2020 enkelwingerdwyn ʼn gesogte dubbelgoud medalje losgeslaan en die Rietvallei Estéanna Cabernet Sauvignon, Cabernet Franc, Petit Verdot 2009 (in ʼn magnum 1.5 liter bottel), ʼn goud.

Die JMB-wyne is deel van Rietvallei se spitsreeks Heritage Collection-wyne, met die naam ontleen aan “Johnny”, oftewel Johannes Marthinus Burger – ook die inspirasie van hul gewilde, bekostigbare John B-wynreeks.

Die ander reekse is Rietvallei Classic Collection, Burger Family Vineyards en Stonedale, almal ook aanlyn beskikbaar of met besoek aan Rietvallei.

Hier langs die R60 met die skilderagtige Langeberge in die agtergrond, kan jy ervaar hoe ouwêreldse tradisies en resepte van een van die oudste plase in die Robertson-wynvallei in harmonie met Nuwe Wêreld-innovering en -metodes toegepas word. En hoe Kobus en Elizabeth die trotse Burger-familietradisie wat tot 1864 terugdateer, stylvol en gasvry voortsit.

*Besoek die landgoed se webwerf by https://rietvallei.co.za/ vir meer inligting

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Promosies

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.