Valley se Field Commander View gemaak vir SA plase

Met Valley se Field Commander View wat op pad is Suid-Afrika toe, kan ‘n boer ‘n wye verskeidenheid funksies op ‘n spilpunt moniteer. (Foto: Verskaf)

Om sy klante lojaal te hou en sy mark te behou, moet ʼn onderneming deurlopend nuutskeppings bekendstel. Valley is bekend vir hulle innoverende denke en kan deurlopend tegnologiese oplossings aan hulle wye verskeidenheid klante bied.

“Ons produkte voldoen nie net aan die operasionele behoeftes van ons verskeidenheid klante nie, dit is ook sakpas vir boere wat na pryse kyk,” sê Adam Ross Olivier, Valley se spesialis in tegniese produkverkope vir Afrika en die Midde-Ooste.

Suid-Afrikaanse boere het reeds met die Field Commander-afstandbeheerstelsel kennis gemaak en die twee modelle, Field Commander Pro en Field Commander Lite, staan reeds hulle plek vol op heelwat besproeiingsplase. Hierdie stelsels word beskou as die beste wat jy in die bedryf kan vind en is op meer spilpunte geïnstalleer as alle ander handelsmerke se beheerstelsels saam.

Die behoefte het egter vir ʼn derde stelsel ontstaan en die Field Commander View is nou op pad Suid-Afrika toe.

“Hierdie nuwe produk wat binnekort ons mark sal betree, gaan baie gewild raak vanweë die funksies wat spesiaal vir Suid-Afrikaanse omstandighede geskik is,” sê Francois Griesel, Valley se streeksverkoopsbestuurder vir Suider- en Oos-Afrika.

Field Commander View gaan die leemte vir boere vul wat ʼn “slegs monitering”-stelsel soek. “Dit pas volmaak in by boere wat reeds ʼn paar hande het om na hul spilpunte en besproeiing om te sien, maar wat gemoedsrus soek dat hul gewasse doeltreffend besproei word, sowel as om intydse waarskuwings te ontvang as daar ’n probleem op hul masjiene ontstaan,” sê Olivier.

“Net soos met al ons ander tegnologies-gevorderde stelsels, kan ʼn boer toegang tot Field Commander View deur ons Valley 365-, of Agsense-app kry, wat op OS‑ en Android-slimtoestelle werk.”

ʼn Groot pluspunt van die Field Commander View is dat dit amper geen installasie benodig nie. Jy maak dit bloot aan die spilpunt wat jy wil beheer se balk vas, koppel die opsionele drukomvormer (pressure transducer) en skakel dit aan – dit is so eenvoudig.

Die Field Commander View word maklik en vinnig op enige model of handelsmerk geïnstalleer. (Foto: Verskaf)

Daar is geen bedrading nodig nie. Die toestel het sy eie sonpaneel wat ’n interne battery laai, wat konstante krag lewer. Die Field Commander View is voorwaar ʼn selfstandige stelsel.

Om alles te kroon kan die Field Commander View op enige spilpunt geïnstalleer word, ongeag die model of handelsmerk.

Die Field Commander View is gebou om jou ʼn hele klomp heen-en-weer-ryery na die lande te spaar en bied die volgende:

  • GPS-posisie, looprigting en masjienspoed
  • Einddruk met opsionele (en vooraf bedrade) drukomvormer
  • Water word aan- of afgeskakel deur ʼn einddruksensor (opsioneel)
  • Versamel werklike besproeiingsdata. Jy weet waar, wanneer en hoeveel water toegedien is
  • Gebruik saam met Valley Scheduling™ vir analises en/of verslagdoeleindes
  • Monitor reënval (opsioneel) deur ʼn kantelreënmeter
  • Bekostigbare hardeware en lisensie
  • Versoenbaar met alle besproeiingsmasjiene
  • Sonkrag – geen bedrading na die spilpunt nie
  • Maklik om te installeer en maklik om te beweeg

Kyk vinnig of alles nog reg loop met jou spilpunt, vanaf enige plek en enige tyd, met Valley se Field Commander View. (Foto: Verskaf)

Met so ʼn blikbrein kan dit nie makliker wees om jou spilpunt te monitor nie.

Kontak Valley gerus om meer te wete te kom. Nader Francois Griesel by 067 412 9089 of stuur ’n e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.