Winste wink in die Valley 365-ekostelsel

Valley het drie pilare binne die landbou-ekostelsel geïdentifiseer wat geïntegreer moet word om boerdery nog lekkerder en makliker te maak. Dit is toerusting, omgewing en bewerking. Om ʼn boer te bemagtig om vooruit te boer, moet die data wat uit hierdie uiteenlopende terreine verkry word, met gevorderde sagteware versoen kan word en saamwerk. Wanneer jy boonop ʼn maklik verstaanbare en visueel aantreklike bestuurskoppelvlak in ʼn boer se hand stop, het jy ʼn wenresep.

Data-integrasie is die antwoord vir die toekoms.

Met Valley 365 het hierdie wêreldberoemde spilpuntmaatskappy sy bestaande tegnologieë, naamlik AgSense®, Valley Scheduling™, Valley® Variable Rate Irrigation (VRI) en Valley Insights®, op een platform geïntegreer. Nou kan ʼn boer maklik al die inligting wat hy benodig, asook volledige toegang tot al Valley se tegnologie en intydse data verkry.

Valley 365 is dus nie ‘n plaasvervanger vir die bestaande Valley-funksies wat ʼn boer reeds onder die knie het nie. Dit vereenvoudig bloot die gebruik daarvan.

“Ons het besef dat al ons hulpmiddels moet kan saamwerk om boere gereed te kry vir more se uitdagings,” sê Francois Griesel, Valley se streeksverkoopsbestuurder vir Suider- en Oos-Afrika. “Nou het ʼn boer toegang tot alles wat hy benodig om optimaal te besproei deur net een keer in te teken. Valley 365 bied ‘n eenvoudiger en meer intuïtiewe gebruikerservaring wat dit vir ʼn boer makliker maak om met behulp van die krag van data, groter winste te behaal. Daarbenewens kan hy die nodige veranderinge aanbring met die minimum hulpbronne.”

Met hierdie ekostelsel kan ʼn boer op enige plek in die wêreld ‘n probleem op sy plaas, soos grondvogtekorte identifiseer. Die toestelle betrokke werk dan saam om beter skedulerings voor te stel, sodat daar byvoorbeeld nie meer water toegedien word as wat nodig is nie. Daarmee saam kan verslae vir elke spilpunt gegenereer word wat nat loopure, droë loopure, totale loopure en totale liter gepomp visueel weergee. Elke spilpunt het sy eie gebruikerskoppelvlak op die Valley 365-app wat sy hoek op die land, loopspoed, benattingsdiepte, waterdruk, batterysterkte, foute wat ervaar word en die datum/tyd van die laaste lesing weergee.

Die Valley 365-app is baie eenvoudig om te gebruik, maar kragtig genoeg om jou stoutste verwagtinge te oortref.

Die bestaande funksies waarop die Valley 365-platform gebou is, sluit die volgende in:

Beplan en voorspel

Ingeligte besluite berus op volledige gegewens en wat is makliker as om maklik verstaanbare besproeiingsaanbevelings te volg op werklike data uit jou lande? Met Valley Scheduling™-tegnologie word veranderlikes soos grondvog, gewastipes, groeifase en outomaties bygewerkte weerinligting ingespan om ʼn boer daardie ekstra voorsprong te gee. Die aanbevelings word regstreeks op ‘n eenvoudige paneel op jou slimtoestel of rekenaar vertoon. Hierdie bekroonde funksie het reeds die produktiwiteit op meer as vyf miljoen hektaar wêreldwyd verhoog.

Monitor en beheer

Sodra ʼn besluit oor die besproeiingskedule geneem is, moet jy seker maak dat dit reg toegepas word. AgSense®-tegnologie gee jou die funksionaliteite om al die toerusting, van die pompe tot die spilpunte, intyds te bestuur. Wanneer jy jou besproeiing vanaf enige plek en enige tyd kan monitor en beheer, het jy die vryheid om ander take op jou plaas te verrig of tyd saam met jou gesin te bestee.

Optimaliseer en pas toe

Waterbestuur en -benutting gaan al hoe fyner en doeltreffender moet word. Met behulp van Variable Rate Irrigation (VRI) word die watertoediening geoptimaliseer deur water op die akkuraatste manier toe te dien. Jy kan nou meer water op droër kolle gee, en minder water op natter kolle. Oor- en onderbenatting, afloop, onnodige benatting van slote, geboue of lae gebiede word beperk. Chemikalieë deur die spilpunte kan ook noukeuriger toegedien en beter bestuur word. Jy kan selfs verskillende stowwe op bepaalde gebiede spuit.

Opspoor en behandel

Vir Suid-Afrikaanse boere wag daar ook ʼn vierde funksie wat plaaslik tans in die toetsfase is. Met Valley Insights®, aangedryf deur Prospera Technologies, kan waterverwante stres onder plante betyds opgespoor word. Kunsmatige intelligensie word ingespan om massas data wat met behulp van lugfoto’s verkry word te analiseer en probleme uit te wys sodat jy kan optree voor dit te laat is.

Valley 365 is die antwoord op geïntegreerde gewasbestuur. Voltooi die volle sirkel met ʼn enkele intekenplatform wat afstandbeheer en ʼn maklike gebruikerskoppelvlak soos een man laat saamwerk.

Vir meer inligting, nader Francois Griesel by +27 (0)67 412 9089 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.