Saadbehandeling met ‘stresskild’ bekendgestel

Foto ter illustrasie (Foto: Juan Pablo Gonzales Delgado, Pixabay)

Bayer se Gaucho is sinoniem met saadbehandeling en hulle jongste formulering, Gaucho Flexx 600 FS, het ʼn paar nuwe eienskappe wat saaiboere nog lekkerder en beter sal laat boer.

Aan die anderkant van die munt sê Bayer dat jy verliese van tussen 40% en 100% op mielies kan ly as saadbehandelingsmiddels afwesig is, of nie hulle werk doen nie.

In 1985 is die eerste Imidacloprid-molekule gesintetiseer, wat ʼn baie doeltreffende uitwerking op biologiese prosesse in plante gehad het. Na die registrasieproses is Gaucho WS70 die eerste keer in Afrika, in Zimbabwe, in 1990 bekendgestel. Die jaar daarna is dit ook in Suid-Afrika geregistreer.

“Dit was ʼn rewolusionêre produk wat ʼn verbetering was op ouer insekdoders wat baie giftiger was en teen groot dosisse aangewend moes word. Dit was ook die eerste insekdoder wat tydens die prosessering van saad toegedien kon word,” sê Roland Gallow, Bayer se wêreldwye produkbestuurder vir Gaucho. “Dit kan ook maklik gestoor word sonder om sy doelmatigheid te verloor.”

Steve Nel, Bayer se kanaalbemarkingsbestuurder vir saadkweek, het tydens die bekendstelling gesê ʼn goeie saadbehandelingsmiddel moet driedubbele beskerming bied. “Eerstens beskerm dit die pit teen kalanders tydens die stoortydperk, tweedens bied dit beskerming teen grondinsekte net na plant en derdens teen suigpeste tydens die ontkiemingsproses. Die gevreeste mieliestreepvirus kan ook nie uitgelaat word nie.”

Hierdie veelsydige produk teiken swartmieliekewer, grondkalanders, valsdraadwurm mieliewortelwortelwurm, vaalgrondkewers, blaarspringers, mieliestreepvirus, Russiese koringluis en katoenplantluis en die gewasse waarmee Gaucho behandel kan word, is mielies, sorghum, sonneblom, koring en katoen.

Gaucho Flexx 600 FS spog met ʼn nuwe eienskap wat ʼn “stresskild” genoem word. Dit verhoed dat die saad deur ʼn wispelturige klimaat, soos droë fases, beïnvloed word.

Dit is ʼn sistemiese insekdoder en soos in sy heel eerste weergawe is die aktiewe bestanddeel imidaclopried (600 g/l). Dit het ʼn lae wateroplosbaarheid wat hom die voordeel gee dat dit nie so maklik uit die wortelsone loog nie en derhalwe vir langer periodes beskerming bied. Gestoorde saad kan vir een seisoen oorgedra word.

“Hoewel Gaucho 600 FS oorwegend aan saadmaatskappye verkoop word, kan veral kleinboere dit ook aanskaf om hulle eie saad te behandel. Gaucho is veilig en geskik om te hanteer, maar dit is ʼn chemiese middel en solank die regte beskerming‑ en veiligheidsprosedures gevolg word, is jy veilig,” sê Liza Bohlmann, Bayer se  kommunikasievennoot.

Gaucho is wit-kleurloos sodat dit nie die handelsmerkkleure van ander saadmaatskappye verbloem nie. Dit vorm ʼn gladde oppervlak op die pitte vir voldoende vloeibaarheid deur die planter en vryf ook nie maklik af om stof op jou hande te laat nie. Dit is ook hoogs versoenbaar met ander saadmaatskappye se saadbehandelingsprodukte.

Vir laekonsentrasietoedienings voeg jy 1 ml by 1 000 pitte en vir hoë konsentrasies, 2 ml by 1 000 pitte.

“Daar is vrese onder saaiboere dat saad wat met ʼn lagie bedek is, nie maklik deur die grond kan breek nie, maar die navorsing is gedoen en ons kan inderwaarheid waarborg dat Gaucho positief tot die groeikrag van die saad bydra. Ons wil graag sê dat Gaucho goeie gehalte saad en swak saad komplementeer,” sê Jaco van Zyl, Bayer se klimaatsleier- en hoof van saadkweek-na-mark in Afrika.

Gaucho sal by die saad van Bayer se Dekalb-saadhandelsmerk gevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.