Aanlyn onderhoude is hier om te bly

(Foto: Unsplash)

Een van die mees universele veranderinge wat die Covid-19-pandemie meegebring het, is om van die huis af te werk.

Ellené Pienaar-Carstens, bestuurder van Bizmod Resourcing beweer dat – ondanks die afskaling van inperkingsvlakke – talle ondernemings nie haastig is om terug te keer kantoor toe, of om persoonlike vergaderings in te stel nie.

“Die meeste van ons is na twee jaar van die pandemie, nie net gemaklik met virtuele vergaderings nie, maar ook gewoond aan die gerief daarvan. Dit is baie beter om ’n aanlyn vergadering te hou sonder die voorheen vereiste reistyd, verkeersvertragings, en alewige laatkommers,” sê Pienaar-Carstens.

Alhoewel sommige organisasies aanvanklik in die war was met die aanlyn aanstellingsproses, het die meeste dit nou bemeester en vind hulle dit om die waarheid te sê praktieser.

“Voornemende kandidate kan nou van enige plek virtueel aan ʼn onderhoud deelneem, maar dit is nie al nie, virtuele onderhoude skep ook die moontlikheid vir ‘n meer diepgaande aanstellingsproses.”

In sommige organisasies moet kandidate inleidingsvideo’s of voorleggings indien voordat hulle die paneel ontmoet. Senior bestuurders is meer geredelik beskikbaar, en ander verteenwoordigers kan ook nou betrokke wees om die kulturele geskiktheid vanuit die kandidaat- en werkgewersperspektief te evalueer.

“Diegene wat dit as noodsaaklik beskou om ‘n kandidaat in persoon te ontmoet om  ʼn ingeligte besluit te verseker, moet onthou dat baie kandidate al op hierdie manier verkeerdelik aangestel is.”

Sy meen dat dit noodsaaklik vir kandidate, sowel as die onderhoudspaneel is, om goed voorbereid te wees, net soos met enige ander onderhoud. Sy raai organisasies aan om vooraf te besluit wie die onderhoud sal bemiddel, wie verskillende vrae sal hanteer en watter inligting gedeel sal word.

“Net so graag as wat die kandidaat potensiële werkgewers wil beïndruk, is daar ook ‘n behoefte van die onderneming se kant om ʼn goeie indruk te maak. Organisasies sal egter ‘n bietjie harder moet werk om gewenste werknemers te bekoor sonder die aanloklikheid van glansryke kantore.”

(Foto: Unsplash)

Pienaar-Carstens gee ‘n paar wenke vir voornemende kandidate:

  • Toets jou toerusting voor die onderhoud om te verseker dat geen batterye pap is nie, die dataverbinding goed is, jy die regte toegang tot die skakel het, en dat jou kamera en mikrofoon werk. As jy ʼn aanbieding gaan doen, moet jy toets of al die ondersteunende tegnologie die taak sonder haakplekke kan verrig.
  • Skep ‘n professionele atmosfeer sonder troeteldiere of ander individue in die omgewing. Jou agtergrond moet netjies wees om geen afleidings of steurings te veroorsaak nie. Oorfone kan gebruik word om verdere geraas te beperk.
  • Onthou om tydens die onderhoud nog steeds professioneel aan te trek en op te tree. Oogkontak met die onderhoudpaneel is uiters belangrik.

(Foto: Unsplash)

Pienaar-Carstens stel voor om ‘n toetslopie met ‘n vriend te hou. “Tegnologie kan verskriklik wispelturig wees, en selfs met die beste bedoelings en paraatheid kan dinge steeds skeef loop. Alternatiewe opsies vir toestel- en dataverbindings kan dus ’n groot troos wees wanneer iets verkeerd gaan.”

Laastens beveel sy aan dat jy die onderhoud afsluit met ‘n samevatting oor die waarde wat jy as individu tot die organisasie kan toevoeg om ‘n blywende indruk op die onderhoudvoerder te verseker.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.