Artritis en koue weer: ’n Slegte kombinasie vir troeteldiere

Gemaklike en warm beddegoed kan jou hond help om die winter se koue te trotseer. (Foto: Verskaf.)

Daar is darem niks lekkerder as om op ʼn snerpende koue wintersdag onder ʼn kombers in die warm bed te bly en ʼn TV-reeks-marathon te hou nie. Dit is ook ʼn wonderlike verskoning om nog ʼn beker warm sjokolade te drink. Ongelukkig kan die koue baie ongemak vir ons troeteldiere besorg.

Die winter kan kwale soos artritis by troeteldiere vererger, en waar ons ons pyn kan verwoord, kan diere nie dieselfde doen nie.

Dit is veral moeilik om pyn by katte te identifiseer omdat hulle hul pyn meesterlik wegsteek, wat ʼn natuurlike soort oorlewingsinstink vir die spesie is.

“Slytasie van die kraakbeen in gewrigte, wat osteoartritis genoem word, kan uiters pynlik en aftakelend raak as dit nie reg bestuur word nie,” sê dr. Guy Fyvie, veeartsenykundige adviseur by Hill’s Pet Nutrition.

Fyvie verduidelik dat troeteldiere meer geneig is om artritis te ontwikkel soos hulle ouer word, maar dit kan soms by jonger troeteldiere as ʼn sekondêre siekte voorkom. Oorerfbare siektes of trauma aan kraakbeen en ligamente kan ook artritis veroorsaak.

Volgens die veeartsenykundige vereniging vir klein diere (World Small Animal Veterinary Association, WSAVA) is artritis by troeteldiere ʼn probleem wat op verskillende maniere by katte en honde van ʼn jong tot middeljarige ouderdom voorkom. Daarom benodig artritis ʼn unieke benadering afhangende van die verskillende lewensfases waarin dit voorkom.

By ʼn jong groeiende hond kan chirurgiese ingryping die eerste behandeling wees in ʼn poging om die vordering van die siekte en pyn in die toekoms te beperk.

Katte kan hulle pyn goed versteek daarom moet eienaars ‘n ekstra oog op hulle gedrag hou. (Foto: Verskaf.)

ʼn Ouer kat sal byvoorbeeld weer pynbeheer en ʼn aanpassing in sy dieet benodig.

Katte met artritis kan hul ongemak goed wegsteek. Kateienaars moet daarom veral op die uitkyk vir die volgende tekens van gewrigspyn wees:

  • Die kat slaap die hele dag. In teenstelling met die algemene opvatting is dit nie waar dat katte die hele dag slaap nie. Katte wat as “traag” beskryf kan word, sukkel gewoonlik met pyn.
  • Wees op die uitkyk vir ʼn skurwer pels, veral aan die punt van die stert. Dit beteken jou kat sukkel om homself skoon te lek.
  • Sukkel of is huiwerig om te spring
  • Sukkel om oor die hoër kante van sy sandbak te klim.

Fyvie sê die goeie nuus is egter dat daar talle goed is wat troeteldiereienaars kan doen om artritispyn by hul diere te verminder en hul lewensgehalte te verbeter.

Gewigsbestuur: As jou troeteldier selfs net ʼn bietjie ekstra gewig dra, kan dit ʼn beduidende las op sy gewrigte plaas en lei tot ontsteking, pyn en spanning by jou kat of hond. “Die handhawing van optimale gewig moet ʼn prioriteit wees. As jy bekommerd is oor die gewig van jou troeteldier moet jy ʼn afspraak by jou veearts maak. Jou veearts sal jou kat of hond se gewig objektief beoordeel en aanbevelings kan doen oor voeding- en leefstylveranderinge, as ook pyn‑ en anti-inflammatoriese medikasie kan voorskryf as dit nodig is.

Gereelde oefening: Dit is veral in die winter moeiliker om op te staan en te beweeg, maar gereelde oefening met ons troeteldiere is belangrik om hul gewrigte gesond en beweeglik te hou. ʼn Vinnige stappie as die wintersonnetjie hoog sit of ʼn speelsessie met jou kat en ʼn leë toiletrolletjie sal wondere verrig vir almal se fisieke en geestelike welstand, terwyl dit ook kritiek is in die bestuur van artritis.

Gemaklike beddegoed: Sorg dat jou hond en kat ʼn warm en beskutte omgewing het waar hulle kan rus. Wintersnagte vererger gewrigspyn en ʼn gemaklike bed met ekstra komberse sal jou troeteldier help om te ontspan terwyl hulle gaan lê. Sorg net dat jou troeteldier se bed nie op ʼn hoë vlak is wat moeilik is om in uit te spring nie, want dit kan bykomende druk op die gewrigte plaas.

Vermy trappe: Toegang tot trappe vir troeteldiere met ʼn erge vorm van artrities moet eerder verminder of heeltemal vermy word. As trappe onvermydelik is, moet jy dit oorweeg om jou kleiner troeteldiere eerder te dra of op- en afritte te bou as die ruimte dit toelaat.

Oorweeg ʼn draagbare oprit as dit lyk of jou groter hond sukkel om uit die motor te spring en maak seker katte se waterbakke en sandbakke is laag genoeg sodat hulle maklik daarby kan uitkom.

Anti-inflammatoriese medikasie: Sorg dat jy jou veearts raadpleeg vir die regte medisyne vir troeteldiere. Menslike medikasie kan veral vir katte dodelik wees.

Voeding: die kos wat jou troeteldier eet, speel ʼn belangrike rol in diere se algemene gesondheid. Hill’s se voorgeskrewe dieetkos en mobiliteitsreeks vir honde en katte word gemaak met hoë vlakke van spesifieke Omega 3-vetsure, glukosamien en chondroïtien. Dit is ook een van die enigste kossoorte wat getoets is en bewys dit kan mobiliteit binne 21 dae help verbeter.

“ʼn Troeteldier se artritis verg ʼn sagte benadering wat ʼn kombinasie van die maatreëls hierbo vereis om te verseker jou troeteldier is gemaklik.

“Die belangrikste is natuurlik om ʼn oog op jou troeteldier te hou en as jy ʼn verandering in hulle gedrag opmerk, moet jy ʼn afspraak by jou veearts maak. Voorkoming bly maar nog altyd beter as genesing,” het Fyvie afgesluit.

Vir meer inligting besoek Hill’s se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Ons het groot hartseer gehad. Moes my Jack Russell laat uitsit want ons kon niks doen vir sy artritis nie. Die medikasie kan hom nie help nie. Hy het baie erge pyn gehad. Dit ook baie goed weggesteek tot aan die einde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.