Beveilig jou só teen kriminele

(Argieffoto)

Alle Suid-Afrikaners is selfs helder oordag kwesbaar vir kriminele aktiwiteite. Daar is egter vele maniere om jouself en jou geliefdes te beskerm.

Charnel Hattingh, nasionale bemarking- en kommunikasiebestuurder by Fidelity ADT, verduidelik dit behels bewustheid van sekere situasies wat jou kwesbaar maak vir ʼn kriminele aanval en om dit ten alle koste te vermy.

Sy het 10 hoërisikosituasies uiteengesit en gee wenke oor selfbeveiliging:

  • Moenie sonder brandstof gaan staan nie. Hoofweë en afgesonderde paaie is dag of nag hoërisikogebiede. Kriminele skuil naby hoofweë en slaan vinnig toe en kom gou weer weg aangesien daar nie ʼn vrees is dat motoriste hulle gaan voorkeer nie. Maak altyd seker jou motor het genoeg brandstof. Om ʼn kans te vat wanneer die brandstofnaald laag lê, kan jou lewe kos. Sou jy sonder brandstof gaan staan, laat dadelik vir iemand weet waar jy is en bly in jou voertuig met die deure gesluit en die vensters toe totdat hulp opdaag.
  • Moenie met groot bedrae kontant rondbeweeg nie. Kriminele word dikwels inligting vanaf die binnekant gevoer en so word kliënte wat baie geld by hulle het na en van banke af gevolg. Die vervoer van groot bedrae kontant is ʼn hoë risiko en behoort sover as moontlik vermy te word.
  • Wees oplettend in jou oprit. Kapings en gewapende rooftogte is selde opportunisties. Kriminele bestudeer mense se roetines en beplan dan hulle misdade daarvolgens. As jy geteiken is, is jy uiters kwesbaar by jou huis se hek en in jou oprit. Kyk altyd rond vir mense of motors wat lyk of hulle nie daar hoort nie wanneer jy by jou straat indraai en moenie direk voor die hek stilhou totdat dit nie heeltemal oop is nie. Bly in jou kar met die deure gesluit totdat die hek toe is. Bêre ook ʼn paniekknoppie in jou motor.
  • Bêre eerder die kontant, duur juwele en jou selfoon. Opportunistiese kriminele is oral. Duur juwele, veral horlosies, is ʼn dief se droom, en niks sal hulle keer om jou van dié items te beroof nie. Hou jou selfoon en geld buite sig en los duur juwele by die huis wanneer jy winkels toe gaan.
  • Moenie die hek vir vreemdelinge oopmaak nie. Moet nooit die hek oopmaak vir iemand wat jy nie ken nie, ongeag wat hulle storie is. Kriminele doen hulle dikwels voor as raadslede of diensverskaffers en selfs as polisiebeamptes. Wees agterdogtig, veral as jy niemand verwag nie.
  • Gaan potensiële werknemers se agtergrond na. Stel slegs werknemers aan deur ʼn betroubare agentskap of persoonlike verwysings en vra altyd kopieë van hulle identiteitsdokumente aan.
  • Moenie deure en veiligheidshekke oop los nie. Dit laat jou hele familie kwesbaar. Veiligheidshekke behoort ten alle tye gesluit te wees en sleutels buite bereik gebêre te word.
  • Moenie in afgesonderde gebiede stap of in jou motor sit nie. Dit is ʼn scenario waaruit opportunistiese kriminele voordeel sal trek. Hoe meer afgesonder, hoe groter is die kans dat die misdaad geweldadig sal wees. Kriminele in hierdie gebiede werk ook gewoonlik in groepe.
  • Moenie ry met waardevolle items in sig nie. Daar is ʼn bedelaar op elke straathoek en baie van hulle is slegs daar om op die uitkyk te wees vir ʼn geleentheid om jou motorruit uit te slaan en iets waardevol te steel. Jou selfoon, handsak, beursie en skootrekenaar behoort ten alle tye buite sig te wees. Die veiligste plek vir dié items is in die kattebak.
  • Maak seker jou motor is gesluit voordat jy wegstap. Afstandstoring (remote jamming) is steeds algemeen, veral by winkelsentrums en vulstasies. Maak altyd dubbel seker die deure is gesluit voordat jy wegstap. Nie net kan kriminele waardevolle items uit jou motor of selfs jou motor steel nie, maar kan hulle ook in jou motor wegkruip en vir jou wag om terug te keer voordat hulle jou dwing om by die naaste OTM geld te trek, of erger.

“Terwyl dié 10 scenario’s van waarskynlike kriminele aktiwiteite vir mense voor die hand liggend is, is talle mense nog onbewus van die realiteite van misdaad in Suid-Afrika. Een van die mees algemene verklarings wat ons gereeld hoor ná ʼn kriminele aanval is ‘hulle het van nêrens gekom’.

“Nee, hulle het nie. Kriminele beweeg tussen ons. As jy waaksaam en op en wakker is, is dit maklik om verdagte mense, voertuie of aktiwiteite te identifiseer en moontlike gevare raak te sien,” sê Hattingh.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elmarie ·

Ek hoop dat mense teen die tyd al die bogenoemde punte weet en toepas

Francois Le Cochon ·

Bere geld en waardevolle items in jou wasmasjien, onder vuil klere.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.