Cannabis-olie: Onnodig die slegte seun van natuurlike medikasie

Vir lank was daar ʼn wanpersepsie oor enigiets met die naam cannabis in. Maar nadat die Suid-Afrikaanse regering die wetgewing rakende cannabis verslap het, word dit al meer gebruik as ʼn natuurlike manier om allerhande kwale te oorkom, en dit word selfs ook in skoonheidsprodukte gebruik.

Amy Paterson, gemeenskapsbestuurder van Goodleaf, ʼn winkel wat spesialiseer in kannabidiol (CBD)-produkte, sê die tekort aan opvoeding by die publiek is die grootste rede hoekom mense steeds dink cannabis is taboe.

“CBD is net ʼn deel van die cannabis-plant se samestelling. Dit is glad nie verslawend nie en kan jou nie ‘hoog’ laat voel nie,” sê sy.

Sy verduidelik dat die marijuana-plant hoë vlakke van tetrahidrokannabinol (THC), die middel wat jou “hoog” laat voel, het en lae vlakke van CBD, terwyl ʼn hemp-plant, ʼn neef van die marijuana-plant, hoog is in CBD en laag is in THC.

“CBD kan jou nie ‘hoog’ maak nie, maar dit het wel ʼn psigoaktiewe uitwerking op jou brein, net soos kafeïen en sjokolade, wat jou brein stimuleer. CBD sal nie veel vir jou doen nie, behalwe om gesondheid en welstand te bevorder,” sê Paterson.

Die hoofdoel waarvoor CBD gebruik word, is om ʼn balans in die liggaam te handhaaf, sê Paterson. Dit is ook ʼn anti-oksidant, ʼn anti-inflammatoriese middel en kan help met stres en angstigheid.

“Ander voordele is dat CBD jou kan help om beter te slaap, en voordele inhou vir mense wat sukkel met naarheid, artritis, asma, ekseem en aknee,” sê sy.

Paterson sê dit is omdat cannabis vir so lank onwettig was dat ons nog nie baie konkrete studies oor die voordele van die plant het nie, maar sy hou vol Goodleaf maak werk daarvan om studies in die hande te kry om mense gerus te stel dat die voordele feitelik is.

“Ek wil nie hê mense moet dink dit is ʼn fase of ʼn foefie nie. Mense gebruik cannabis al vir eeue lank, veral in Afrika. Dit is nie eintlik iets nuut nie, dit was net tot dusver so streng gereguleer dat mense nie genoeg daarvan weet nie. Wetgewing maak werklik nuwe deure oop vir dié bedryf.”

Paterson sê die cannabisbedryf is ook goed vir die Suid-Afrika se ekonomie omdat die klimaat hier reg is om die plante suksesvol te kweek en die mark daarvoor groot is.

Goodleaf is ook tans ʼn voorstander van CBD-skoonheidsprodukte. Paterson sê mense is deesdae meer bewus van chemikalieë in produkte wat hulle op hul vel aanwend en soek daarom na natuurlike alternatiewe.

“In hierdie stadium is dit ʼn kwessie van opleiding, en ons voel baie geesdriftig daaroor. Jy moet dit net probeer om die voordele daarvan te ervaar. CBD beïnvloed nie jou oordeel of jou helderheid van verstand nie.

“Doen navorsing oor die produk voordat jy ʼn oordeel vel, want daar is reeds wetenskaplike studies wat die voordele wys,” sê sy.

Paterson sê stres en angstigheid is een van die algemeenste redes hoekom mense na hulle kom vir raad. Sy beveel die CBD-druppels aan vir die beste uitkomste vir dié toestande.

“Die druppels word onder jou tong gedrup sodat dit vinnig absorbeer kan word. Die dosis hang af van die sterkte van die druppels en sal op die verpakking aangedui word. Ons beveel aan dat mense dit vir minstens twee weke gebruik vir die beste resultate, maar sommige mense voel al oornag ʼn verskil.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het ook bevestig dat CBD nie verslawend is nie.

“By mense toon CBD geen gevolge wat dui op enige misbruik of afhanklikheidpotensiaal nie. Daar is op hede geen bewyse van probleme met openbare gesondheid wat verband hou  met die gebruik van suiwer CBD nie,” sê die WGO in ʼn verslag.

Volgens Harvard se mediese skool is daar wel nog meer navorsing nodig voordat konsensus bereik kan word oor die gebruik van CBD-olie. Harvard sê die sterkste wetenskaplike bewyse van CBD is dat dit doeltreffend is in die behandeling van epilepsie-sindrome onder kinders, soos Dravet- en Lennox-sindroom.

Daar is wel mense wat eerder moet wegbly van CBD af, en enigeen wat wél besluit om dit te gebruik as behandeling vir enige kwaal, moet altyd eers hul dokter hieroor raadpleeg.

Die volgende mense moet eerder wegbly van CBD:

  • Swanger vroue of vroue wat borsvoed
  • Kinders onder twee jaar oud
  • Mense met niersiektes
  • Mense met kardiovaskulêre siektes

Newe-effekte van CBD kan die volgende simptome insluit:

  • Verandering in eetlus
  • Moegheid
  • Lighoofdigheid
  • Droë mond
  • Lae bloeddruk
  • Naarheid

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stof

Canabis is inderdaad, reeds vir jare bewys as effektiewe medikasie. Ons sien dit in praktyk. Dit is bloot die pharma-kapitaliste, wat Canabis publiek diskrediteer, omdat hulle monopolistiese produkte nie naastenby so effektief kan wees nie en hulle bloot ter wille van hulle sakke, nie die ware feite durf erken nie… Plaas asseblief meer artikels soos hierdie. Die land se siekes, het nodig om die volle waarheid te weet. Hulle is genesing waardig.

AJ

Jy het my oortuig!

Hoe maak mens Cannabis olie?

RS

Baie effektief. Mense moet meer lees oor navorsing en die resultate sien. Werklik n wondermiddel vir mediese gebruik.

Dr Pieter

Selfs morfien kon nie my vrou se kankerpyn verlig nie. Met Cannabis Olie het sy baie verligting gekry.