Covid-19: Só word troues geraak

Foto: Pixabay

Trou is nie perdekoop nie. Hoe gemaak wanneer die president ʼn nasionale noodtoestand aankondig wat reis en sosiale geleenthede, insluitend jou troue, beïnvloed?

Enkele bruide met wie Maroela Media gepraat het, het wel besluit om hul troues te skuif, maar diensverskaffers het klaar ʼn paar idees oor hoe om dié uitdaging die hoof te bied.

“Ek het geen ander keuse gehad as om my troue te skuif nie,” sê Tania Strydom, ʼn voornemende bruid van Eventations wat op 21 Maart sou trou. Tania verduidelik dat die reisverbod op internasionale gaste en die beperking op die aantal mense wat groepbyeenkomste bywoon, haar genoodsaak het om hul troudag te skuif.

“Dis belangrik dat my naaste familie ons troue bywoon en ek gaan beslis nie mense wat reeds genooi is, laat weet dat hulle nie meer deel van die gastelys is nie.”

Strydom, wat self ʼn diensverskaffer in die troubedryf is, meen dat venues dié situasie sal verstaan.

“As jy mooi met jou venue en verskaffers kommunikeer, sal hulle bereid wees om te onderhandel,” meen Strydom.

“Mense moet redelik hieroor wees. Dit help nie om ʼn groot groep mense bymekaar te bring en dan is jou troue die oorsaak van iemand se dood nie,” voeg sy by.

Tania sou in die komende week by The Barn in Hartbeespoort trou. Sy vertel dat dié venue haar besluit verwelkom het en reeds alternatiewe datums voorgestel het. The Barn het in ʼn verklaring bevestig dat voorsorgmaatreëls getref is en dat hulle voortgaan met troues.

“Alle handrelings, kroegborde, skemerkelktafels, badkamers en ander oppervlakke word deurgaans deur die week, sowel as elke drie uur tydens ʼn troue of funksie, ontsmet,” het Sarel van der Walt, troukoördineerder by The Barn, gesê.

“Handreinigers sal in alle badkamers en openbare ruimtes soos die kroeg beskikbaar wees,” verduidelik Van der Walt. “Ons vra byvoorbaat om verskoning vir die reuk van ontsmettingsmiddel, maar glo dat dit die verantwoordelike ding is om te doen.”

The Barn is nie die enigste venue wat voortgaan met werksaamhede nie.

“Ons gaan aan soos gewoonlik,” sê Roseley Strydom, mede-eienaar van Villa Rosa Wedding Venue, wat in die noorde van Pretoria geleë is. “Die personeel dra in elk geval altyd maskers en handskoene. Ons sal voortdurend aanpas en kwessies hanteer soos hulle opduik.”

Roseley bevestig dat nie een van haar bruide tot dusver hul troues by dié venue gekanselleer het nie en voeg by dat hulle toeganklik is vir bruidspare wat wel besluit om te herskeduleer.

Haar raad aan bruide wat binnekort trou, is om met diensverskaffers te gesels.

“Bruide moet besef dat daar ander opsies is. Praat eerstens met jou venue en kyk of daar ʼn alternatiewe datum beskikbaar is,” verduidelik sy.

Talle diensverskaffers het bevestig dat hulle ook navrae ontvang het.

“My raad is om kalm te bly en die moontlikhede eers met jou venue en dan met diensverskaffers te bespreek,” sê Surina Hendriks, eienaar van Plant en Palm Verhurings.

Hendriks stel voor dat bruide die voorsorgmaatreëls respekteer en eerder die troue na ʼn ander datum skuif. Sy gaan wel voort om haar dienste te lewer.

Foto: Free-Photos/Pixabay

Neem só jou besluit

Die besluit om ʼn troue te herskeduleer beteken noodwendig dat ʼn hele paar faktore in ag geneem moet word. Hier is ʼn lys met vrae wat jy in gedagte moet hou:

  1. Gaan daar meer as 100 mense (verskaffers en personeel ingesluit) by die geleentheid wees?
  2. Is die venue en diensverskaffers gemaklik daarmee om voort te gaan?
  3. Hoeveel gaste moet van die buiteland af reis om jou troue by te woon?
  4. Hoeveel gaste is bejaard of kwesbaar?
  5. Hoe belangrik is dit vir julle dat internasionale gaste teenwoordig is by julle troue?
  6. Is dit moontlik om gaste deur middel van rekenaartegnologie soos Skype te betrek?
  7. Is daar enige ander rede waarom jou troue nie geskuif kan word nie?

Troureëlings duur maande en die herskedulering daarvan is vir die meeste bruidspare nie ʼn opsie nie. Maar dié besluit is dalk veiliger vir jou, jul gaste en talle diensverskaffers wat saamwerk om die geleentheid te laat plaasvind.

  • Het jy geweet? Villa Rosa Wedding Venue en Plant en Palm Verhurings is deel van die diensverskaffers wat later vanjaar in samewerking met Maroela Media ‘n troue ter waarde van R 170 000 gaan weggee. Die kompetisie sluit op 13 April. Kliek hier vir meer inligting.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wessel ·

Hierdie korona virus histerie veroorsaak dat die hele wereld ekonomie geknak word, en dit vir 6000+ sterftes wereld wyd in ‘n klompie maande? In 2009 tot 2010 het ons die varkgriep gehad waar ongeveer 200 000 sterftes aangemeld was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.