Die jongste giere vir kombuise

(Foto: Verskaf)

Die jongste giere vir kombuise is dat dié ruimte nie net meer vir kosmaak gebruik word nie, maar dat dit eerder ʼn plek is waar jy kan onthaal, ontspan én werk.

Volgens Decorex Afrika se verslag vir 2020 is die tyd toe mense jou nie in die kombuis moet pla nie, iets van die verlede en word die kombuis nou ʼn multifunksionele ruimte.

Anita Bloom wat dié verslag opgestel het en wat haar eie ontwerpateljee bestuur, sê die kombuis word deesdae gebruik as deel van ʼn geïntegreerde leefarea waar grense tussen kamers nie streng geld nie.

“Die neiging is in die rigting van ʼn oopvloerplan wat maklike beweging tussen verkillende funksionele sones skep. So is dit moontlik om te sosialiseer terwyl jy kook en om ʼn gereg naby aan die stoof te bedien,” sê sy.

Bloom sê die hedendaagse lewe beteken dikwels ook minder ruimte, en dit beteken dat mense nie altyd tyd het om die ruimte meer intiem te probeer maak nie. Hierdie nuwe gier laat jou dus toe om meer tyd saam met jou vriende en familie deur te bring terwyl jy kos maak. Alles kan op een plek gebeur.

Terselfdertyd bied dit vir die mense in die digitale era ʼn ruimte om te werk en vir kinders om hul huiswerk te doen terwyl jy in die kombuis besig is.

Soveel as wat ʼn oopplankombuis in die mode is, is oop kaste ook weer ʼn groot gier. Oop kaste en rakke laat jou kombuis meer gesellig lyk as die moderne style met toe kaste en reguit lyne.

“Om ʼn warm atmosfeer te skep wat ʼn mens innooi, is waaroor die gier gaan. Minder is meer, so eenvoudige ontwerpe is in,” sê Bloom.

“Spense voorkom dat werksoppervlakke vol en deurmekaar word, terwyl duursame en funksionele afwerkings en materiaalkeuses dié gemaklike estetiese styl help.”

Bloom sê die bekende Terazzo-teëls word ook nie meer slegs vir buite areas gebruik nie, maar word ook deesdae gebruik om binnehuis te versier. Dit kan maklik gebruik word as ʼn werksblad waar kos voorberei word.

“Die kombuis is nou ʼn plek waar mens kan sosialiseer, kook, maaltye bedien, werk en studeer. Die ruimte word herontdek as ʼn plek in jou huis wat jou inspireer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

charmaine ·

En dan moet jy natuurlike die fondse he om ou kombuis mooi te laat lyk soos in tydskrifte

Sarel ·

Nie juis NUWE GIER nie. Die huidige geslag ken dit nie maar dit keer terug na ons Ouers en Groot Ouers wat die kombuis feitlik die grootste vertrek in die huis was. By ons het skegs die Predikant in die Sitkamer of Voorhuis gekuier.

HBK ·

Oop kaste my genade. Tussen die stof en veld brand roet in die winter. Die motte en vlieë in die somer. Mag mooi wees, maar prakties, nie so erg nie. Jy gaan permanent alles moet was.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.