Die onderbroke vas-dieet: Alles wat jy moet weet

Onderbroke vas oftewel “intermittent fasting” is wyd bekend as ʼn metode om gewig te verloor. Hier is alles wat jy moet weet voordat jy die dieet aanpak.

Wat is die onderbroke vas-dieet?

Die onderbroke vas-dieet is ʼn eetplan wat wissel tussen tye waarin jy moet vas en tye waarin jy mag eet. Dit is dus nie ʼn dieet wat vir jou sê wát om te eet nie, maar eerder ʼn eetplan wat sê wanneer om te eet.

Dié eetplan is gegrond op menslike evolusie en die manier waarop jagter-versamelaars geleef het. Omdat hulle nie winkels en yskaste gehad het nie, en soms glad nie kos kon vind om te eet nie, was dit nie vir hulle natuurlik om drie of vier maaltye per dag te eet, soos ons vandag gewoond is, nie.

Die onderbroke vas-dieet word dus beskryf as ʼn manier om te eet soos ons voorvaders geëet het.

Metodes

Die mees algemene verhouding van vas-tye en eet-tye word gegrond op die 16:8-model. Dit beteken dat jy vir 16 uur van die dag vas, en vir agt uur van die dag wel eet. Jy eet byvoorbeeld jou eerste maaltyd van die dag om 12:00 en die laaste om 20:00.

Die 24 uur lange vas is ook ʼn metode waarvolgens dié eetplan gevolg kan word. Dit behels dat mens vir een of twee dae per week vir 24 uur lank glad nie eet nie. Jy sal dan byvoorbeeld vanaand se aandete eet, en eers môre weer met aandete eet.

Die 5:2-model is gegrond op jou kilojoule-inname. Dit behels dat jy vir een of twee dae van die week (wat nie op mekaar volg nie) slegs 2 000 tot 2 500 kilojoules inneem, en dan vir die oorblywende vyf dae gewoonweg eet.

Al hierdie metodes kan lei tot gewigsverlies as jy jou nie ooreet of aan ongesonde kosse vergryp in die tye wat jy wel kan eet nie.

Wat kan ek inneem tydens vas-tydperke?

Jy kan water, koffie, tee of enige ander drankies sonder kilojoules drink. Jy moenie suiker by jou koffie en tee voeg nie, maar jy kan wel ʼn klein bietjie melk byvoeg.

Gesondheidsvoordele

Studies wat gedoen is oor dié eetplan het getoon dat dit gesondheidsvoordele kan meebring, maar  probleme kan inhou vir vroue wat borsvoed, probeer swanger raak en probleme met vrugbaarheid het. Vroue moet eerder hul dokter gaan spreek voordat dié dieet gevolg word.

Mense wat al voorheen met ʼn eetstoornis gesukkel het, diabete, mense met lae bloeddruk en wat sukkel met bloedsuikervlakke of ondergewig is, moet nie die eetplan volg nie.

Gesondheidsvoordele wat dié eetplan wel kan inhou, is gewigsverlies, die vermindering van insulienweerstandigheid en ʼn afname in inflammasie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Morne ·

Miskien kan iemand kommentaar lewer wat dit probeer het om te laat weet wat die resultaat was?

Koos ·

Dink net hoe lekker vet gaan jy word as jy elke dag vir 8 ure lank jouself trommeldik eet aan alles en nog wat.. Dis biologie – as jy meer eet as wat jou liggaam nodig het gaan jy gewig opgetel. Die dieet kan werk mits dit reg toegepas word. Ek het al amper alles gedoen. Die beste was kalorieë tel en die 28 dae eetplan (wat jy gratis kan kry)

B ·

Ek doen dit nou al vir etlike maande, eet net aandete. Volg ook ‘n redelike strawwe oef program hiermee saam.

Absoluut geen probleme, voel inteendeel baie beter as toe ek op ‘tradisionele’ eetpatroon gewees het.

Karnivoor ·

Ek volg die Karnivoor leefstyl om myself gesond te kry (baie goedkoper as Keto/LCHF), en die bonus is dat ek in 10 weke se tyd 10kg verloor het. Met die feesseisoen het ek bietjie ingegee en 2kg opgetel. Ek het daarna vir ‘n week lank ‘n “extended fast” gedoen waarin ek nét water gedrink het, en het 6.3kg en 9cm om my maag verloor. Het ook gedurende die vas verbasend goed gevoel, en was nog steeds vol energie.

Kan defnitief Intermittent Fasting en Extended Fasting aanraai vir mense. En dan ook kyk na julle leefstyl.
Maar doen asb éérs julle navorsing daaroor.

Estie ·

Die 24 uur vas is my natuurlike lewenstyl (maandag tot vrydag) en op naweke eet ek wanneer ek lus voel vir iets. Was nog nooit regtig oorgewig nie en ek het hope energie. Jy raak gewoond daaraan want jou liggaam verwag mettertyd nie kos deur die dag nie.

Mariette ·

Intermitted fasting werk beslis. Ek en my man doen dit al vir meer as 2 jaar. Ek het 15 kg verloor en my man 23 kg. Dit is ‘n volhoubare eetplan en ons handhaaf ons gewig. Ons het meer energie en my man se bloeddruk is baie laer. Die geheim is om SUIKER sover moontlik uit te skakel, (insluitend vrugte-suiker!). Suiker is uiters verslawend: sodra jy suiker inneem gaan jou liggaam uit ketose en veroorsaak dat jy honger voel, 2-3 ure nadat jy geëet het. Die eetplan bestaan basies uit rooivleis, vis, hoender, bacon, volroom yogurt, egte botter, eiers en sekere groente. Kyk gerus na dr. Eric Berg op Youtube. Hy verduidelik die Keto Eetplan en Intermitted Fasting baie mooi. Al die videos is gratis beskikbaar. Hierdie eetplan het ons lewens verander.

Esme Theron ·

Goeie môre , dit klink vir my belowend. Wil net graag weet ek is nou 71jr , wat en hoe maak ek met my kroniese medikasie . Moet bloeddruk en skuldklier pille in die oggend drink .
Ek moet ongeveer 10kg verloor . Ek is desperaat. Dankie vd dieet . Maar hoe nou gemaak .

Christoff ·

Gaan kyk die dame se facebook blad en volg haar op YouTube daar sal U die antwoord kry van nkenner.

B ·

Hi Esme, niemand kan vir jou mediese advies hier gee. Ek weet nie hoeveel koolhidrate jy eet maar ‘n moontlike oorweging kan dalk wees om dit te verminder na so 50g-80g per dag?

Win egter eerder (ordentlike en objektiewe) mediese en dieetkundige advies hieroor in. (Ek kan net se wat vir MY gewerk het, mense verskil. My verhoogde bloeddruk het genormaliseer toe ek ‘n lae koolhidraat lewenswyse begin volg het., <50g/dag en GEEN verfynde koolhidrate, net bv soet patats en dergelike voedsel. Ek moes alle brood, pasta, aartappels, rys, sonneblomolie ens uitskakel.
Onthou – ons is waar ons is agv die std dieet voorskrifte so dink maar krities oor wat jy hoor en lees. Dalk kan 'n verandering vir jou goed uitwerk?
Hoop jy kom reg :)

Lalie ·

Ek is n T2 diabeet en ek volg die eetstyl al vir etlike maande met sukses. Ek het wel toe ek 3 jaar terug gediagnoseer is en eers op pille en toe op insulien geplaas is begin om n lowcarb dieet te volg wat baie suksesvol was. Ek spuit geen insulien meer nie en ek drink geen pille meer nie. Ek beheer my diabetes suiwer deur te let op die hoeveelheid carbs wat ek inneem. Nie meer as 20gr n dag nie.
Ek het in die proses al 45kg verloor en het die afgelope 6maande niks verder verloor nie tot ek nou met die intermitted fasting begin het. Ek verloor nou weer so tussen 1 en 2kg n week. En ek voel wonderlik en ek het hope energie!

Wessel ·

Ek doen dit, en dit werk. Stel voor om op Youtube hierdie onderwerp na te vors. Daar is baie meer voordele as net gewigsverlies.

Koekies ·

Hierdie is ñ dieët… Nie ñ vas nie. Om te vas beteken jy veruil jou begeertes van die vlees(bv. Kos) vir die begeertes van die gees(godsdiens en gebed). Die bybel is vol verhale van mense wat gevas het, om sake met God uit te klaar en nader aan Hom te wees. Nêrens staan daar dat Moses, Daniël of Jesus gewig wou verloor nie! Noem dit soos dit is… Dieët!

dr. Sakkie van der Merwe ·

Sopas begin na my seun (34jr) die program gevolg het met goeie resultate, Baie voordele kyk op drGoogle.

Mariette ·

Esme, ek kan nie mediese advies gee nie, dalk net ‘n voorbeeld: My skoonma (84), is ‘n diabeet en gebruik ook onder andere skildklier-medikasie (Eltroxin). Sy volg geen oefenprogram nie, is so te sê bedlêend en het 12 kg verloor. Sy gebruik nie meer haar medikasie vir bloedsuiker nie. Sy drink al haar ander chroniese medikasie om 08:00 in die oggend, maar sal dan 30 min later bietjie volroom yogurt eet. Om 10:00 eet sy ontbyt saam met ons (eiers, bacon, tamatie, gebraaide mushrooms ens.). Ons eet dan weer aandete om 18:00. Indien sy honger voel in die middag sal sy bv. ‘n stukkie kaas ens. eet. Sy doen die Intermitted Fasting dus nie 100% nie, maar het steeds resultate gekry. Soek gerus “dr Eric Berg” op Google. Hy het baie Youtube videos waar hy tonne gratis inligting gee oor die Keto eetplan en Intermitted Fasting. Sterkte!

Waarheid ·

Ek stem heeltemal saam met Koekie. Noem dit dan eerder ñ ‘fasting diet’. Ware vas volgens die Woord gaan oor gehoorsaamheid en om jouself af te sonder voor God. As jy die Waarheid liefhet en dit aanhou soek, sal dit jou vrymaak. Ek stem wel saam dat gesond leef + eet verseker goed is. Ons is geskape as ñ liggaam/siel/gees. Baie keer is dit wat jy fisies in jou liggaam sien omdat jou siel en veral jou gees honger is vir die Waarheid en ook omdit genesing nodig het (innerlik).

Waarheid ·

Ek is nie teen hierdie artikel se ‘fasting diet’ nie. Daar is duidelik resultate en baie mense kan selfs hulle medikasie verminder of selfs stop. Dit is voorwaar alreeds wonderlik, maar onthou om ook innerlik aandag te gee. Vir die wat belangstel, gaan loer bietjie na Dr.Michelle Strydom se boek ‘Healing begins with sanctification of the heart – No disease is incurable’. Haar boek kan gratis as PDF op die internet afgelaai word. Mens sal nooit weer dieselfde na kwale kan kyk nie en selfs ook nie hoekom mens werklik oorgewig is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.