Diereskuiling sukkel om deure oop te hou

(Foto: Pauline Loroy/ Unsplash)

The Society for Animals in Distress se deure was die afgelope ses dekades nog altyd vir enige diere in nood oop. Verlede jaar, te midde van die pandemie en inperkingsmaatreëls, het dit steeds gehelp om duisende diere te steriliseer, in te ent en te versorg.

Die organisasie in Midrand sukkel egter nou om hulle deure oop te hou en vra die publiek om in hierdie tye van nood na hulle uit te reik.

“Ons doelwit is om soveel moontlik diere te help teen minimale koste,” het Ancha Smuts, woordvoerder van The Society for Animals in Distress, aan Maroela Media vertel.

Smuts het benadruk dat dit nie in die organisasie se belang is om diere uit huise te verwyder nie, maar dat hulle opleiding aan die omgewing se diere-eienaars wil bied.

Die organisasie behartig drie projekte en een daarvan is die Coal Yard‑projek, wat spesifiek fokus op die versorging van perde en donkies wat gebruik word om steenkool in die Tembisa-gebied van Ekurhuleni en Ivory Park te vervoer.

“Die eienaars van die diere kontak ons gereeld indien hulle hulp nodig het, want hulle vertrou ons,” het Smuts gesê.

’n Ander projek wat deur die organisasie van stapel gestuur is, is die Diamonds from Dust-projek. Hier word diere wat deel was van die Coal Yard-projek vrywillig deur hul eienaars aan The Society for Animals in Distress gegee om te versorg. Dié perde en donkies bly dan op die organisasie se terrein, of word na plase gestuur om te gaan aftree.

Die derde projek behels drie mobiele eenhede wat daagliks huisbesoek by diere in die Olievenhoutbosch-, Tembisa-, Diepsloot- en Ivory Park-gemeenskappe doen.

“Ons doen dikwels voorkomende besoeke om te verseker dat die diere gesond en veilig is.”

Wanneer diere professionele hulp nodig het, word hulle met die mobiele eenhede, wat elk agt diere kan huisves, na die dierehospitaal op die organisasie se terrein vervoer.

Die Covid-19-pandemie het die organisasie egter swaar getref.

“Ons kry geen subsidies nie en is volkome van die gemeenskap se skenkings afhanklik. Met die pandemie het die ekonomie erg ingekrimp, en ons organisasie het dit direk gevoel. Ons moes ’n hele paar werknemers aflê omdat ons nie meer soveel donateurs het nie. Ons beoog om so gou moontlik die agterstand in te haal om so volhoubaar moontlik te wees.”

Die organisasie het ’n tekort aan werkende rekenaars. “Daardie soort goed is al oud hier by ons, en ons moet ons werk kan doen.”

Daar is ook ’n behoefte aan kos vir babahondjies. “Die diere wat hier aansterk, het ekstra voedingswaarde nodig, dus gee ons vir hulle kos wat eintlik vir babahondjies bedoel is.”

Hulle verkoop kompos wat deur die perde en donkies op die plaas gelewer word aan die gemeenskap. Daar word ook tweedehandse items wat aan hulle geskenk word, op die perseel verkoop vir ʼn bykomende inkomste.

“Ons beoog om ’n volwaardige winkel hier op ons terrein te open.”

Diegene wat nuuskierig is oor die organisasie, word uitgenooi om ’n afspraak te maak en die plek te besoek.

“Mense weet nie eintlik hoe groot ons is en wat ons doen nie. As jy in die omgewing is, kan jy gerus kom kuier,” het Smuts gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.