Ons almal het van daardie plastiekware wat ons heel agter in ons kombuiskaste wegsteek.
Dié wat met oorskiet kerrie gevlek is of steeds ʼn skaaptjoppie-reuk het omdat ons verlede naweek se braaivleis vir ʼn week in die yskas vergeet het. Jy kry dit nie skoon nie, niemand wil daaruit eet nie, maar jy voel ook te skuldig om dit weg te gooi.
Bleikmiddels is natuurlik staatmakers, maar daar is gelukkig ook ander eenvoudige en minder skadelike oplossings vir jou gevlekte plastiekware en dié met onplesierige kleure en geure.
1. Koeksoda (werk vir reuke én vlekke)
Almal weet koeksoda is ʼn veelsydige en onontbeerlike item vir enige huishouding.
Gooi een tot twee eetlepels koeksoda in die bak of houer. Gooi dan warm water daarby totdat die koeksoda ʼn smeer geword het. Die smeer moet egter steeds loperig en nie té styf wees nie. Bedek die gevlekte dele met die koeksodasmeer en laat dit aan vir 30 tot 60 minute. Vee dit daarna met ʼn klam lap af en spoel die bak met warm water en skottelseep af.
2. Asyn (werk vir reuke)
Maroela Media het vroeër berig dat asyn ook ʼn wonderwerkbestanddeel vir verskeie huishoudelike take is en dit werk veral ook goed om vreemde reuke uit plastiekware te kry.
Maak ʼn oplossing van water en asyn met een eetlepel asyn per koppie water. Gooi die oplossing in die houer en laat dit vir een tot twee uur week. Spoel die houer daarna met skoon warm water uit. Jy behoort daarna geen geure van verlede maand se kerrie in jou houer te ruik nie.
3. Handreiniger (werk vir vlekke én reuke)
In die post-Covid-19-wêreld is handreiniger nou ʼn item wat die meeste van ons daagliks gebruik en reeds in ons huise het. Dit doen ook nie net wonders vir kieme op ons hande nie, maar ook vir plastiekware. Handreiniger is natuurlik ʼn duurder bestanddeel as asyn en koeksoda, maar as dit jou sak pas kan jy dit gerus inspan om jou gevlekte houers nuwe lewe te gee.
Gooi net waterige handreiniger in die houer en laat vir 45 minute tot ʼn uur daarin week. Vee die houer met ʼn papierhanddoek af en was dit met skottelgoedseep en baie warm water.
Bronne: Apartment Therapy, The kitchn