Geluk lê in jou maag

(Foto: Unsplash)

Al ooit gewonder hoekom jy ʼn knop op jou maag kry wanneer jy senuweeagtig is, of waarom dit voel asof vlinders in jou maag baljaar as jy opgewonde is?

Dit is omdat jou maag en brein verbind is.

Angela Leach, hoofdieetkundige van die ontbytpap Futurlife, sê dat jou emosies ʼn invloed op jou spysverteringstelsel het asook andersom.

“Die neutrale, hormonale en immunologiese roete tussen die brein en ingewande beweeg in albei rigtings. Dit staan bekend as die derm-brein-as wat beïnvloed word deur die derm-mikrobioom wat in die spysverteringskanaal voorkom.”

Die spysverteringskanaal dien as die brug tussen die binnekant en buitekant van die liggaam. Dit verminder die kanse dat bakterieë of patogene in die derms die bloedstroom binnedring.

Volgens ʼn gesondheidsverslag deur die Harvard-medieseskool is ʼn persoon se maag- of dermnood die oorsaak of die produk van angs, spanning of depressie, juis as gevolg van die verband tussen die brein en die maag.

“Enige veranderinge wat binne of buite die liggaam voorkom, kan lei tot veranderinge in die mikrobioom wat dan ander liggaamsfunksies en die brein beïnvloed. Dieet, spanning, infeksies, antibiotika en die omgewing beïnvloed hierdie veranderinge, wat inflammasie kan veroorsaak wat lei tot ʼn lekkende derm. Dit beïnvloed weer die sentrale senuweestelsel wat spanning, kognisie, gedrag en pyngevoeligheid kan veroorsaak,” sê Leach.

Verskillende faktore kan ʼn rol speel in die werking van die spysverteringskanaal, maar sekere soorte bakterieë, soos probiotika, kan ingeneem word om geestesgesondheid en algemene welstand te verbeter.

Daar is verskillende probiotika-stringe, maar Lactobacillus helveticus, Lactobacillus acidophilus, Lactobacillus casei, Bifidobacterium longum en Bifidobacterium bifidum, blyk die doeltreffendste stringe vir geestesgesondheid te wees.

“Dit is soms nodig om aanvullende probiotika te gebruik. Dit kan deur middel van voedsel wees wat spesifiek voordelig is vir die derm-brein-as. Dit sluit in kos wat ryk is aan omega-3-vette, veselryke kos, gefermenteerde kos soos jogurt, en polifenolryke kossoorte soos groen tee en olyfolie, en tryptofaanryke kos soos kaas,” sê sy.

Leach sê egter dat die derm-breinverbinding ʼn redelike nuwe studiegebied is wat ondersoek word, maar dat bewyse dui op ongelooflike resultate.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Hy is wat jy eet. Jy kan jouself gesond eet met vrugte, groente en kruie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.