Geslagsgeweld: Moenie die kop wegdraai nie

(Foto: Pixabay/Pexels.)

Genoeg is genoeg. Geslagsgebaseerde geweld is onaanvaarbaar. Praat, bespreek, ondersoek, navorsing en statistieke… geen van hierdie reaksies op die huidige stand van die probleem maak enige verskil, of pak dit op ʼn aktiewe of voorkomende manier aan nie.

Die Mail & Guardian het verlede maand berig dat die polisie se forensiese laboratorium ʼn agterstand van meer as 35 000 toetsmonsters het wat met geslagsgebaseerde geweld verband hou – en dat daar gemiddeld 1 463 monsters per week bygevoeg word.

Henda van der Merwe, direkteur van die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) Gauteng-Oos, stel dit duidelik:

“Die probleem is soveel groter as een groep, of een organisasie. Dit is nou tyd dat gemeenskappe mobiliseer om hul eie lede te beskerm en te ondersteun. Om weg te kyk, help niemand nie. En die een wat vandag die kop wegdraai, is dalk môre se slagoffer.

“As jy bewus is van geweld teen iemand, kan jy help. Jy móét help. Een van die maniere waarop jy dit kan doen is om ʼn verklaring by ʼn polisiestasie of die hof af te lê. Maar, jy kan dit ook anoniem doen, deur een van ons kantore te skakel en dit aan ʼn maatskaplike werker rapporteer.”

Van der Merwe gee ʼn paar maniere waarop jy iemand kan help wat jou vir hulp kom vra.

“Moenie oordeel nie. Luister so goed as moontlik sodat jy kan help om die besonderhede te onthou. Bied jou telefoonnommer aan en probeer ʼn kode vasstel, soos ʼn hartjie emoji wat dui sy of hy is in gevaar.

“Slagoffers het ʼn gevoel van bemagtiging en hoop nodig. Hulle kan hulself help deur ʼn veiligheidsplan uit te werk en ʼn noodgeldjie opsy te hou. Dit is uiters belangrik om altyd lugtyd en data te hê. Sulke eenvoudige maatreëls kan die verskil beteken wanneer ʼn persoon gewelddadig raak. Ons kan duidelik sien dat strafmaatreëls nie geweld voorkom nie.”

Verskeie verhoudingskundiges benadruk dat vroue geweld kan vermy deur die waarskuwingstekens te leer herken – vóórdat hulle in ʼn verhouding betrokke raak. Jaloesie, gegriefdheid, en die “blame game” is ʼn paar van die tekens. Wil die persoon jou beheer en vertel hy gemaklik leuens? Is hy wreed of disrespekvol teenoor mense of diere?

Probeer hierdie tekens raaksien – ook ander soos om vir sy foute geblameer te word – en stap eerder weg as om jou lewe in die hande van ʼn geweldenaar te plaas.

“Hierdie plaag sal aanhou totdat ons almal hande vat om dit te beveg,” sluit Van der Merwe af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.