10 veiligheidswenke as jy buite oefen

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Arek Adeoye/Unsplash)

In die winter is daar toenemend rede vir kommer wanneer jy buite oefeninge doen omdat die dagligure minder raak en al minder mense tyd buite deurbring.

Charnel Hattingh, bemarking- en kommunikasiebestuurder van die sekuriteitsmaatskappy Fidelity ADT, sê mense wat buite oefeninge doen, moet nie net versigtig wees vir motors op die pad nie, maar ook vir misdadigers.

Sy sê meer rooftogte word reeds aangemeld deur drawwers en fietsryers wie se waardevolle items en fietse gesteel word terwyl hulle met ʼn vuurwapen gedreig word. Hattingh sê dit is daarom kommerwekkend hoeveel mense steeds alleen of in afgesonderde gebiede oefeninge doen.

Sy stel voor jy pas jou oefenroetine aan om te voorkom dat jy nie alleen in die donker is nie.

“Ons verstaan hoe belangrik dit is om gemotiveerd te bly in jou oefenroetine, maar dit moenie tot jou eie nadeel wees nie. Misdadigers trek beslis voordeel uit die langer ure van donkerte in die winter,” sê sy.

Hier is 10 wenke om veiliger te wees as jy buite oefeninge doen:

  1. Sê altyd vir iemand waarheen jy gaan en wanneer jy beplan om terug te wees.
  2. Wissel jou roetes af sodat jou roetine nie maklik bekend word vir misdadigers nie.
  3. Indien jy waardevolle items by jou het, maak seker dit is goed weggesteek. Dit is nie raadsaam om sonder ʼn selfoon uit te gaan nie.
  4. Neem jou ID-dokument, mediese inligting en noodkontakinligting saam met jou.
  5. Wees waaksaam deur nie op jou selfoon te praat nie en die klank sag te hou op jou oorfone wanneer jy na musiek luister.
  6. Dra helder kleure gedurende die dag en weerkaatsende klere as dit donker is.
  7. Let altyd op wat in jou onmiddellike omgewing aangaan. As jy iets agterdogtig op jou roete sien, neem ʼn ander roete om dit te vermy.
  8. Moenie jou aandag deur vreemdelinge laat aflei wat vir rigtingaanwysings vra nie. Selfs die mees onskuldige paartjies kan gewapende misdadigers wees.
  9. Wees bedag daarop dat iemand jou nie huis toe agtervolg nie. As jy dink jy word agtervolg, kontak jou private sekuriteitsmaatskappy en vra hulle om jou by jou hek te ontmoet.
  10. Daar is veiligheid in getalle ten spyte van Covid-19. As jy die geleentheid het, doen altyd eerder jou buitemuurse oefensessie saam met iemand as alleen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.