14 kitsfeite oor tipe-1-diabetes

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Elke jaar word Wêreld-diabetesdag op 14 November gevier om bewusmaking te kweek oor dié outo-immuunsiekte wat miljoene mense ter wêreld raak.

Lurina Fourie, ʼn fotograaf van Kaapstad, leef al vir twee dekades self met tipe-1-diabetes (T1D) nadat sy op 16-jarige ouderdom daarmee gediagnoseer is.

Sy het ʼn YouTube-reeks daaroor ontwikkel wat omvattende inligting en feite oor T1D deel. Maroela Media het by Fourie aangeklop vir 14 vinnige en belangrike feite oor T1D.

  1. T1D is ʼn outo-immuunsiekte en nié ʼn leefstylsiekte nie.
  2. T1D diskrimineer nie teen ras, ouderdom of geslag nie.
  3. Dit is ʼn chroniese siekte wat lyers 24 uur van elke dag, 365 dae van die jaar beïnvloed.
  4. ʼn T1D-lyer is afhanklik van insulien om te oorleef.
  5. Insulien is ʼn hormoon – dit is nie ʼn verslawende dwelm nie.
  6. Om met T1D saam te leef verg noukeurige beplanning en moet deurgaans bestuur word.
  7. Hoë bloedsuikervlakke word met insulien behandel. Lae bloedsuiker word met koolhidrate behandel.
  8. Mense met T1D is twee tot drie keer meer geneig om aan depressie te ly as ʼn persoon sonder diabetes.
  9. T1D is nie aansteeklik nie.
  10. Elke lyer se T1D verskil, net soos elke persoon se vingerafdrukke.
  11. T1D is ʼn onsigbare dog indringende siekte.
  12. Daar is niks wat enigiemand kan doen om T1D te voorkom nie.
  13. Daar is geen goeie of slegte tipes diabetes nie – alles tipes is sleg.
  14. Daar is tans geen geneesmiddel vir T1D nie.

Fourie deel graag haar ervaring met T1D om ander in te lig oor die kwessies en wanpersepsies wat met dié siekte gepaard gaan.

“Ek is in 2000 met T1D gediagnoseer. Daar was geen familiegeskiedenis van T1D nie en ons het geen kennis daaroor gehad nie, so ons kon nie die siekte identifiseer nie en dit was nogal ʼn groot skok,” het sy aan The Good Things Guy vertel.

“Ek dink nie daar is ooit ʼn ‘goeie ouderdom’ om met T1D gediagnoseer te word nie, maar om ʼn tienermeisie te wees ten tyde van my diagnose was nie ʼn goeie tyd nie.”

Sy het gevoel asof sy deur die siekte gebrandmerk is. “Ek wou nie die huis verlaat nie en selfs om net na ʼn winkelsentrum te gaan was taboe. Dit het gevoel asof ek die woord ‘diabeet’ op my voorkop gehad het. Ek is nie seker waarom ek so skaam gevoel het daaroor nie, want ek het dit nie aan myself gedoen nie en daar was geen manier om dit te voorkom nie. Dit het egter my selfvertroue by die ruit uit laat vlieg,” sê Fourie.

Nadat sy gehospitaliseer is en vir twee weke skool misgeloop het ná haar diagnose, het haar lewe uiteindelik weer momentum begin kry. “Ek het begin insien dat my lewe kan voortgaan en hoe ek myself gesien het, was nie hoe ander mense my gesien het nie. Inteendeel het mense my in die teenoorgestelde lig gesien en na my gekyk met bewondering.”

Fourie deel die volgende wenke vir T1D-lyers:

  • Eet gesonde kosse
  • Neem jou insulien
  • Gaan jou bloedsuikervlakke na
  • Drink genoeg water
  • Kry genoeg slaap
  • Oefen

“Moet ook nie die emosionele kant van jou T1D verwaarloos nie, want mense met dié siekte is meer geneig om aan depressie te ly. Jy is nie alleen nie en deur uit te reik na ander mense wat ook met T1D saamleef, kan jy die diabetesgemeenskap opbou en bewusmaking skep oor ʼn lewe met T1D,” sê Fourie.

Om by Fourie se ondersteunersgroep op Facebook vir T1D-lyers aan te sluit, klik hier.

Tipe-1-diabetes en kinders

Argieffoto. (Foto: Pixabay, Tesa Photography)

Die simptome vir T1D is maklik om mis te kyk in kinders. Daarom het die Sweet Life-diabetesgemeenskap die Dra Blou vir Diabetes-veldtog van stapel gestuur vir November, waar skole en werksplekke uitgedaag word om blou te dra en bewusmaking oor diabetes te skep.

Sweet Life wil ook ouers en onderwysers toerus met kennis oor T1D, aangesien dit meer algemeen by kinders gediagnoseer word.

Bewustheid van die vyf algemene simptome van T1D kan help dat kinders vroeër gediagnoseer word en hospitaalnoodgevalle uitskakel. Die vyf algemene simptome is:

  • Uitermatige dorsheid
  • Die behoefte om gereeld te urineer, veral in die aand
  • Uitermatige hongerte
  • Moegheid
  • Dowwe sig

Om ouers en kinders te leer oor T1D voor Wêreld-diabetesdag, het Sweet Life verskeie hulpmiddels geskep, onder meer ʼn video van ʼn diabetes-verhaal wat deur Gcina Mhlophe vertel word.

Kyk die video hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.