3 wenke vir ’n droë vel

(Foto: Amanda Dalbjorn/Unsplash)

Wind, koue, reën en droë lug kan jou vel van sy natuurlike olies ontneem. Daarom is die winter die beste seisoen om jou vel met bykomende nutriënte en vog te vertroetel.

Baie mense assosieer ook “velsorg” slegs met die vel op jou gesig en skeep dikwels die res van die lyf af. Jou vel is die grootste orgaan van jou liggaam , daarom is dit belangrik om seker te maak jy versorg elke deel daarvan, insluitend jou hakke, lippe, elmboë, knieë en hande.

Zaweer Ebrahim, verteenwoordiger van Planet of Attraction-velprodukte, gee hierdie drie wenke om jou vel teen die skade van die ysige weer te beskerm:

  1. Verlaag jou stortwater se temperatuur

Almal is mal oor ʼn warm stort of bad op ʼn koue dag, maar dié warm water is ʼn groot oorsaak van velprobleme, veral as jy reeds onderliggende velkwessies het.

Seep en warm water het die vermoë om jou vel van sy natuurlike olies te stroop. Dié olies is egter nodig om jou vel teen weertoestande te beskerm.

(Foto: Anastasiia Ostapovych/Unsplash)

Probeer om jou stort- of badwater se temperatuur te verlaag om seker te maak jou vel hou sy vog binne. Dit sal ook ʼn geïrriteerde, jeukerige vel voorkom.

  1. Skaf ʼn lugbevogtiger aan

Lugbevogtigers stel stadig stoom in die lug vry, wat help om simptome van verkoue en griep te verlig en wat ook help met ʼn krapperige keel of toe neus. Dit help ook dat jou vel nie so vinnig uitdroog nie.

Droë lug is een van die grootste oorsake van vel wat jeukerig en droog raak; ʼn lugbevogtiger is dus ʼn handige toestel in jou huis vir die voorkoming daarvan.

  1. Kies die regte lyfroom

Versorg jou lyf, elmboë, knieë, hande en ander dele wat ekstra droog raak met ʼn room wat goeie bevogtiging bied. Jy kan uitkyk vir ʼn room wat olies bevat of jy kan selfs jou eie olie by voeg.

Druk ʼn bietjie room uit in jou hand, drup ʼn paar druppels olie (soos kokosneut‑ of amandelolie) daarop, meng en smeer dit aan jou vel vir beskerming teen die winterlug.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.