500 gratis operasies vir Operation Healing Hands

Argieffoto van ‘n operasie wat deur Operation Healing Hands gedoen is. (Foto: Verskaf)

Wat begin het as ʼn tydelike inisiatief vir Nelson Mandeladag het gegroei tot ʼn suksesvolle niewinsgewende organisasie wat nou al vir 500 behoeftige Suid-Afrikaners ʼn kans op beter lewensgehalte gegee het.

Operation Healing Hands (OHH) vier tans 500 gratis chirurgiese prosedures in vyf jaar.

Dié suksesvolle niewinsgewende organisasie het in 2016 as ʼn inisiatief ontstaan wat aanvanklik slegs vir ʼn week sou duur in ʼn poging om enkele lewens te verander. Honderde pasiënte afhanklik van ʼn reeds oorlaaide Suid-Afrikaanse gesondheidsdiens is intussen gehelp om ʼn normale lewe te kan voortsit.

Catrien Stander, woordvoerder van OHH, sê ʼn groep geregistreerde dokters in die private sektor het destyds besluit om ʼn Mandeladag-inisiatief te begin waar hulle oudpres. Nelson Mandela se nalatenskap wou eer deur hul dienste gratis beskikbaar te stel.

Die inisiatief het sedertdien gegroei tot ʼn organisasie wat pasiënte help wat eenmalige chirugie (soos ʼn heup- of knievervanging) nodig het, maar op ellelange waglyste by staatshospitale geplaas is.

OHH werf onder meer hospitale, chirurge, narkotiseurs en paramedici om gratis chirurgie en nasorg te verskaf. Die organisasie dek ook bestaande mediese koste.

Stander sê een van die gevalle wat oor die afgelope vyf jaar uitstaan, is dié van Mirriam Ramasimong, ʼn werknemer by die Life Eugene Marais Hospitaal en OHH se eerste pasiënt. Ramasimong het ʼn knievervanging nodig gehad, maar kon dit, nes menige Suid-Afrikaners, eenvoudig nie bekostig nie.

Operation Healing Hands vier 500 gratis chirurgiese prosedures. (Foto: Facebook)

“Mirriam se swaarkry en pyn is deur die dokters wat saam met haar werk, raakgesien en só het sy OHH se heel eerste pasiënt geword.”

Nog ʼn suksesvolle operasie is dié van Judith Xaba, ʼn ma van sewe, wat danksy OHH ná ʼn ortopediese prosedure sonder pyn kan werk en vir haar gesin kan sorg.

ʼn Plaaswerker, Kapok Mofokeng, kan ook weer die plaas waarvoor hy só lief is, sien nadat die katarakte van sy oë gedurende ʼn gratis prosedure verwyder is.

Stander verwys ook na Kerry McNamara, wat ná 20 jaar van lyding weens rumatoïede artritis haar droom om ʼn sjef te word kon bewaarheid.

“As ʼn mens die stories van die vele kinders wat teen toekomstige komplikasies beskerm is deur mediese besnydenisse, mangeloperasies en ander prosedures hierby te tel, raak die rimpeleffek van die goeie werk wat deur OHH gedoen word, onmeetbaar,” meen Stander.

OHH vier op 6 Oktober die mylpaal van 500 gratis chirurgiese prosedures by die “geboorteplek” van OHH, die Life Eugene Marais Hospitaal.

Dr. Helené Basson, die organisasie se hoof- uitvoerende beampte, haar span, mediese personeel wat as vrywilligers vir OHH werk, asook voormalige en huidige pasiënte sal almal die geleentheid bywoon.

“OHH se hoofdoelwit was nog altyd om soveel moontlik lewens te verbeter deur lewensveranderende chirurgie, groot en klein, uit te voer.

“Die toename in die getal pasiënte wat jaarliks deur OHH gehelp word, spreek boekdele oor die organisasie se verbintenis tot hul saak, asook die noodsaaklikheid van hul werk. Danksy OHH is soveel Suid-Afrikaners se lewe reeds ten goede verander.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.