90 kankerstories gesoek vir 90 jaar van Kansa

Kansa vier vanjaar 90 jaar (Foto: Kansa)

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) vier vanjaar sy 90ste bestaansjaar en wil hê 90 kankeroorwinnaars, of meer, moet hul inspirerende stories vertel om hoop aan ander te bring.

Gerda Strauss, hoof van diens by Kansa, sê ʼn getuienis van iemand wat kanker oorwin het, kan ʼn groot rol speel in iemand anders se lewe, veral as daar gedeelde ervarings is.

“Hul stories oor hoe hulle die diagnose, behandeling en lewe ná behandeling hanteer het, kan hoop bring aan mense wat pas hul kankerstryd begin het. Deur hul stories te lees, sal ander pasiënte en versorgers minder alleen, en meer verstaan voel,” sê Strauss.

Kansa sal ʼn versameling van die stories, soos ingedien deur pasiënte wat deur Kansa gehelp is, op sy webwerf plaas gedurende Junie. Junie is veral spesiaal vir Kansa omdat Kanker-oorwinnaarsdag op 6 Junie plaasvind.

“Ons hoop dat minstens 90 stories ingedien sal word, ter viering van Kansa se 90ste verjaarsdag.”

Stories van inspirasie kan hier by Kansa ingedien word of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Hoe help Kansa?

Ondersteuning

Kansa werk saam met vrywilligers om kankerpasiënte die hulpbronne te gee wat hulle nodig het. Hulpbronne kan in die vorm van inligting, ʼn gesondheid- en diensspan, berading en aanlyn ondersteuning gebied word.

Versorgingshuise

Kansa Care Homes is landwyd beskikbaar om pasiënte te help wat ver weg van die huis af kankerbehandeling moet ondergaan. Dit bied verblyf, vervoer, stoma-klinieke en maaltye en help die pasiënt met produkte, raad en emosionele ondersteuning.

Inligting

Kansa stel inligting en materiaal beskikbaar vir kankerpasiënte en ander mense wat met onderliggende, nie-oordraagbare siektes lewe om hulself teen Covid-19 te beskerm.

Inligting kan bekom word op Kansa se vele Facebook-bladsye, pamflette, inligtingsboekies, of in hul 20 week lange e-posreeks wat mense bemagtig met riglyne oor hoe om met kanker te leef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.