Alewig lam in die bas? Dís dalk hoekom

(Foto: iStock)

Voel jy alewig traag, vaag en soos die stompste mes in die laai? Hoewel dit normaal is om soms te voel asof jy ʼn swaar vragmotor dwarsdeur die nag oor ʼn steil bergpas gesleep het, worstel talle mense sedert die uitbreking van die Covid-19-pandemie met ʼn onverklaarbare, voortslepende lam-in-die-bas gevoel. Soos ʼn donker wolk wat eenvoudig nie wil wyk nie, luilekker vakansies en langnaweke ten spyt, en of jy nou die afgelope twee jaar positief vir Covid-19 getoets het of nie.

Die goeie nuus is: jy is allermins alleen. Trouens, navorsers en medici begin stadig maar seker om agter die kap van dié stomp byl te kom. Al meer studies onthul langdurige simptome wat veel verder strek as die lys Covid-simptome wat die meeste van ons al in ons slaap kan opsê. Ofskoon dit (nog) nie as ʼn mediese toestand in eie reg erken word nie, is “lang-Covid” vir duisende mense ʼn werklikheid waarmee hulle daagliks worstel.

Wat weet ons (al) van lang-Covid?

Dat die voortslepende pandemie golf vir golf ʼn negatiewe uitwerking op die geestesgesondheid van mense wêreldwyd gehad het, is nie te betwyfel nie. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie het depressie en angs wêreldwyd met meer as 25% toegeneem.

ʼn Onlangse sistematiese oorsig wat in Global Health gepubliseer is, het ʼn hoë voorkoms van spanning, angs en depressie in sowat 30% van Europese en Asiatiese bevolkings getoon. ʼn Plaaslike opname in die Wes-Kaap wat in die joernaal Psychology, Health and Medicine gepubliseer is, het op sy beurt bevind dat meer as 46% van die deelnemers die diagnostiese drempel vir angstigheid en depressie verbygesteek het.

In ʼn studie oor lang-Covid waaraan meer as 3 700 mense uit 56 lande deelgeneem het, is meer as 200 simptome geïdentifiseer en die meerderheid deelnemers aan dié studie se herstel het langer as 35 weke geduur.

Volgens dr. Dirk Lombard, mediese dokter van Kempton Park, skuil daar inderdaad ʼn sleepvoet-seekoei onder die simptoom-oortjies wat tot dusver in die Covid-water waargeneem is. “Die rede waarom lang-Covid nog nie wêreldwyd as ʼn mediese toestand erken word nie, kan toegeskryf word aan die afwesigheid van ʼn onfeilbare mediese merker wat dit van soortgelyke toestande met soortgelyke simptome (kan) onderskei.”

Hoewel lang-Covid volgens Lombard tans moeilik is om te definieer, is wetenskaplikes dit eens dat ʼn geskiedenis van ʼn Covid-infeksie, of moontlike infeksie met simptome wat vir langer as 4 weke duur, ʼn goeie vertrekpunt is. Die afwesigheid van ʼn positiewe toets óf simptome sluit egter nie die moontlikheid vir lang-Covid uit nie.

“Die mees algemene simptome van lang-Covid wat aangemeld word, sluit in voortslepende keelseer, borskaspyn, abnormale asemhaling, buik- en dermsimptome, chroniese moegheid, angs en depressie, gewrigspyn, hoofpyn, spierpyn en kognitiewe simptome.

“Daar is nie klinkklare bewyse dat ʼn sekere groepering ʼn groter risiko het om lang-Covid te ontwikkel nie, maar daar is wel bevind dat ouer pasiënte; diegene met ernstiger simptome tydens die akute siekte; dié wat vir lang tye gehospitaliseer was; diegene met bykomende siektetoestande soos diabetes, hipertensie, obesiteit, hartsiektes, alkoholisme, niersiektes; asook rokers ʼn hoër voorkoms van lang-Covid het.”

Volgens Lombard is die neurologiese simptome wat algemeen voorkom veral die sogenaamde “brain fog” (ʼn donker gemoedswolk of wasige denke) en ʼn verlies van reuk- en smaakskerpheid. “Die voorkoms van depressie, posttraumatiese stres, angstigheid en sosiale isolering is voorts verhoog.

“Die moegheid wat deur hierdie pasiënte beskryf word, is nie ʼn normale gevoel van tamheid nie, maar ʼn onversetlike gevoel van uitputting wat dag en nag voortduur. Hierdie uitputting gaan gewoonlik gepaard met ʼn gebrek aan konsentrasie en kognitiewe afstomping, oftewel ‘brain fog’,” sê hy.

(Foto: iStock)

Deurlopende navorsing toon dat Covid nie net die asemhalingstelsel beïnvloed nie, maar ook die hart, niere, pankreas en brein. “Die mees algemene simptoom van lang-Covid is angstigheid wat met simptome soos sweterigheid, hartkloppings, spierstyfheid en dermaandoenings gepaardgaan.

“Die Covid-infeksie self, asook die milieu waarin dit plaasvind, is vir baie pasiënte traumaties en kan onbewustelik tot ʼn stresreaksie lei. Baie pasiënte ervaar dan hoofpyne, slaaploosheid, moegheid, traumatiese terugflitse en nagmerries.”

Volgens hom kan obsessief-kompulsiewe gedrag ook voorkom wanneer ʼn onrealistiese en obsessiewe benadering tot sanitering en die vermyding van ander mense ontwikkel en dit sosiale en beroepsinteraksies nadelig begin beïnvloed.

“Die behandeling van lang-Covid is nuut en daarom bestaan daar tans geen vaste riglyne om dit die hoof te bied nie. Sekere medikasie toon wel belofte wat die behandeling van die moegheid betref. Pyn kan gewoonlik met eenvoudige medikasie vir kort tye behandel word, terwyl slaappatrone ook aangepas kan word.

“ʼn Gesonde(r) leefstyl behoort voorop gestel te word, insluitend ʼn gebalanseerde dieet en ʼn stadige, stapsgewyse terugkeer na gereelde oefening. Drink voorts genoeg vloeistof en raak soms net rustig en stil om jou brein kans te gee om te herlaai. Ek glo daar sal met die verloop van tyd nuwe inligting bekend word wat ons nog meer met die behandeling van lang-Covid sal help en weer die woema in mense se wiele sal terugsit,” sê Lombard.

Gee jou brein só nuwe woema

(Foto: iStock)

Jou brein beheer ʼn groot verskeidenheid vaardighede: van motoriese vaardighede tot taalgebruik, geheue, aandag, denke, die vermoë om take te beplan en uit te voer, oordeel, emosies en persepsies. Hier’s ʼn paar wenke om van daardie breinwolk ontslae te raak:

  • Leer ʼn nuwe vaardigheid aan. As jy jou brein fiks en gesond wil hou, is dit belangrik dat jy regdeur jou lewe nuwe feite en vaardighede aanleer. Sodra ʼn stokperdjie of tydverdryf nie meer ʼn uitdaging is nie, word geen nuwe verbindings of “paadjies” in jou brein gevorm nie. Leer ʼn nuwe taal aan, bemeester ʼn musiekinstrument of koop ʼn vliegtuig- of motormodelletjie waar jy aanwysings stapsgewys moet uitpluis.
  • Oefen gereeld. Dit is al keer op keer bevind dat gereelde oefening die risiko vir ouderdomsverwante siektes soos demensie en alzheimersiekte verlaag. Jou brein het sirkulasie, bloedvloei en suurstof net so nodig soos jou ander organe en spiere dit nodig het om behoorlik te kan funksioneer. Deur 30 minute per dag, vyf dae per week te oefen, sal jy die verlies in breinselle vertraag en die groei van nuwe selle in die hand werk.
  • Wanneer ʼn mens wakker is, genereer jou brein tussen 10 en 23 watt krag – genoeg energie om ʼn gloeilamp te laat brand, maar slaap is eweneens belangrik om dié liggie aan die brand te hou! Slaap is ʼn tyd van genesing en gee die brein en liggaam kans om van gifstowwe ontslae te raak. Gebrekkige slaap versnel die tempo waarteen breinselle sterf, wat jou geheue lamlê.
  • Eet gesond. ʼn Gesonde dieet wat olyfolie, vrugte en groente, neute en bone, en volgraanprodukte insluit, is bewys om denke en geheue te verbeter, en breingesondheid te bevorder. Smul aan vis (omega 3-vetsure), foliensuur (broccoli, spinasie, kekerertjies, bone en lensies) en kos wat ryk is aan vitamien E (melk, botter, eiers, groenteolie, neute en donkergroen blaargroentes soos spinasie).
  • Vermy middels wat jou gemoed beïnvloed, soos alkohol, nikotien en dwelmmiddels. Dit kan jou funksionering benadeel, jou motivering laat afneem en jou kognitiewe prosesse kniehalter. Dit het ʼn bewese nadelige uitwerking op fokus, aandag en geheue.
  • Sprei jou sosiale vlerke. Navorsing het bewys dat sosiale interaksie jou risiko vir demensie verlaag, die vorming van nuwe breinselle bevorder en help met breinherstel. Interaksie met ander daag nie net ons mening oor sake uit nie, maar help om ons denke en geheue te stimuleer. ʼn Heerlike kuier om die braaivleisvuur is lekker én goed vir jou!
  • Lag weer ʼn slag. Het jy geweet dat nuwe breinselle gevorm word en veranderings plaasvind in dele van die brein wat met leer en geheue te doen het wanneer jy glimlag? ʼn Glimlag (selfs wanneer jy dit nie bedoel nie) laat die liggaam goedvoelhormone afskei, verlaag jou bloeddruk, gee jou immuunstelsel ʼn hupstoot en beskerm jou teen stres, depressie en angstigheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.