Alles wat jy moet weet oor kanker

Vandag (4 Februarie) word as Wêreldkankerdag gedenk. Maroela Media het by Dr. Lee-Ann Jones, ʼn kliniese en bestralingsonkoloog van Cancer Care, gaan aanklop om uit te vind wat ons kan doen om ons teen dié siekte te beskerm.

Jones sê inligting is die belangrikste sleutel tot die voorkoming en vroeë opsporing van kanker. Gereelde selfondersoek, skanderings en die aanneem van ʼn positiewe leefstyl is belangrik. “Die vroeë opsporing van kanker kan die potensiële genesing daarvan vergroot,” sê Jones.

“Daar is twee dinge wat jou risiko vir kanker beïnvloed. Eerstens is dit jou genetika en dit wat jy van jou familie erf – daaraan kan jy niks doen nie; en tweedens is dit jou leefstyl – waaraan jy wel iets kan doen.”

Jones stel voor dat jy nie rook nie, jou alkohol-inname beperk, gereeld oefeninge doen, ʼn gesonde dieet volg om sodoende ʼn gesonde gewig te handhaaf, jouself beskerm teen seksuele oordraagbare siektes en teen die son en gereeld vir skanderings gaan.

“Vroue moet vir ʼn papsmeer begin gaan sodra sy seksueel aktief word. Dit moet ten minste elke twee of drie jaar gebeur, maar praat met jou dokter ook wat die beste vir jou is. Vroue moet ook vir ʼn mammogram gaan van die ouderdom van 40 – dit moet elke een tot twee jaar gebeur. Mans moet ook ná 50 jaarliks vir prostaatkanker getoets word.

“Almal kan vir ʼn kolonoskopie begin gaan van die ouderdom van 50 jaar af, maar indien jy ʼn familiegeskiedenis het van kolonkanker, moet jy vroeër gaan, so praat weer eens met jou dokter,” sê sy.

Dr. Lee-Ann Jones (Foto: Verskaf)

Jones stel voor dat almal ʼn volledige velondersoek elke twee jaar moet ondergaan, en dat jy jou dokter in kennis moet stel indien jy enige verandering in moesies opmerk.

“Dit is nooit te laat om ʼn gesonde leefstyl aan te neem of om jou risiko-profiel te verander nie,” voeg sy by.

Jones sê kanker is nie gekoppel aan ʼn ouderdom nie, en dat enigeen vatbaar is. Sy sê wel dat die helfte van haar praktyk se kankerpasiënte tussen 60 en 75 jaar oud is. “20% van my pasiënte is ouer as 75, 20% is tussen 50 en 60, en die ander 10% is jonger as 50.”

Jones sê dit is belangrik om te onthou dat kanker geneesbaar is as dit in ʼn vroeë stadium gediagnoseer word.

“Ons het deesdae baie behandeling vir kanker, so mense kan baie langer lewe daarmee. Mense dink kanker is net een siekte, maar dit is nie, dit is verskeie siektes. Dit is hoekom daar nie een genesing is nie, want nie twee pasiënte se diagnose is dieselfde nie.”

Jones lê klem daarop dat voorkoming beter as genesing is.

“Ons weet dat verfynde suiker, ʼn hoë soutinname en geprosesseerde kos ons gesondheid negatief beïnvloed. Ons weet dat vetsug groot druk op ons liggame plaas, maar steeds is daar so baie mense wat nie leefstylveranderinge wil aanbring nie.

“Moenie wegskram van die veranderinge nie, maar wees eerder bewus van moontlike gevaartekens en bring veranderinge aan, eerder vroeër as later,” sê Jones.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.