Vitamien D is noodsaaklik om verskeie redes, soos om gesonde tande en bene te vorm en om jou teen ʼn hele lys siektes te beskerm.
Ten spyte van sy naam is vitamien D nie ʼn vitamiene nie, maar eerder ʼn prohormoon of ʼn voorloper van ʼn hormoon. Vitamiene is nutriënte wat jou liggaam nie self kan produseer nie, en daarom in jou dieet ingesluit moet word. Maar jou liggaam kán self vitamien D produseer, en daarom word dit eintlik anders geklassifiseer.
Voordele van vitamien D
Medical New Today skryf dat vitamien D ʼn groot rol speel in die beheer van kalsium en die onderhoud van fosforvlakke in die bloed, wat noodsaaklik is vir gesonde bene in jou lyf. ʼn Tekort aan vitamien D kan lei tot swak beendigtheid, swak spiere en selfs osteoporose.
Dié prohormoon speel ook ʼn groot rol om jou te vrywaar van siekte. ʼn studie in 2018 deur die Amerikaanse nasionale instituut van gesondheid (NIG) het bevind dat vitamien D ʼn belangrike rol gespeel het in beskerming teen die influenza-virus. ʼn Onlangse studie het ook bevind dat vitamien D kan help in die bevegting teen die koronavirus (Covid-19), omdat dit jou reaksie tot die infeksie kan verander en verlig.
Vitamien D is ook baie belangrik vir babas. ʼn Studie in 2018 het bevind dat daar ʼn skakel is tussen lae vitamien D-vlakke en styfheid in die arteriële wande van kinders. ʼn Vitamien D-tekort hou ook verband met hoë bloeddruk by kinders.
ʼn Maklike manier om vitamien D reeds vroeg aan kinders voor te stel, is deur middel van eiers. ʼn Australiese studie het bevind dat babas wat ná ses maande begin eiers eet het, ʼn groter kans op kosallergieë het as kinders wat reeds eiers tussen vier en ses maande begin eet het.
Volgens ʼn NIG- studie in 2019 het swanger vroue met ʼn vitamien D-tekort ook ʼn groter kans om pre-eklampsie te ontwikkel en vroeg geboorte te gee.
Hoe om vitamien D in te neem
Die beste manier om jou liggaam te help om vitamien D produseer is om genoegsame sonlig te kry. Probeer om daagliks 10 tot 30 minute sonlig te kry. Dit maak nie saak of jy buite gaan stap, lees of braai nie. Maak ook seker om jou moue en broekspype op te rol sodat die sonlig jou vel optimaal kan penetreer.
Hierdie kossoorte kan ook jou liggaam help om vitamien D te produseer:
- Vetterige vis soos salm, tuna, sardyne
- Eiergele
- Kaas
- Beeslewer
- Sampioene
- Koeimelk
Simptome van vitamien D tekort
Simptome van ʼn vitamien D-tekort kan die volgende insluit:
- Gereelde infeksie of siekte
- Spierpyn
- Moegheid
- Rug- en beenpyn
- Haarverlies
- Slegte buie
Oor ʼn lang tydperk kan hierdie simptome lei tot
- Kardiovaskulêre kondisies
- Outo-immuun probleme
- Infeksies
- Neurologiese siektes
- Swangerskapkomplikasies
- Sekere kankersoorte, veral van die bors, prostaat en kolon
Die volgende mense is meer geneig om ʼn tekort te ontwikkel:
- Bejaarde mense
- Mense met ʼn donker vel
- Oorgewig mense of mense met vetsug
- Mense wat binnenshuis bly
- Mense wat in dele van die wêreld bly waar die son skaars in sekere tye van die jaar
- Mense wat nie genoeg vis en suiwel eet nie
Gevolge van te veel vitamien D
Die Amerikaanse nasionale instituut van gesondheid beveel die volgende hoeveelheid vitamien D per dag aan:
Lewensfase | Hoeveelheid per dag |
Geboorte-12 maande | 10 mkg (mikrogram) |
Kinders 1 – 13 jaar | 15 mkg |
Tieners 14-18 jaar | 15 mkg |
Volwassenes 19-70 | 15 mkg |
Bejaardes 71 en ouer | 20 mkg |
Swanger of borsvoed | 15 mkg |
Te veel vitamien D kan lei tot oorverkalking van die bene en die verharding van bloedvate, niere, long en hartweefsel. Simptome van te veel vitamien D kan insluit
- Hoofpyn
- Naarheid en braking
- Droë mond
- Hardlywigheid
- Diarree
Lekker artikel MM, maak so met die ander vitamines ook?