Angs, depressie onder vroue neem toe tydens afsondering

(Foto: Pixabay)

Terwyl Vrouemaand in volle gang is en poog om vroue te bemagtig en ʼn regverdige stem in die wêreld te gee, neem depressie en angs onder Suid-Afrikaanse vroue toe, veral tydens die landwye afsondering.

Volgens ʼn onlangse opname deur die marknavorsingmaatskappy Ipsos het 40% van Suid-Afrikaanse vroue gesê hulle voel angstig oor Covid-19, in vergelyking met 32% van die mans.

Shanaaz Sukhrai, ʼn neurolinguistiese programmeringspraktisyn en lewensafrigter, sê die verhoogde spanning onder vroue is die gevolg van maande lange tuisonderrig aan kinders, ekstra huiswerk, kommer oor hul ouers se gesondheid en verminderde sosiale wisselwerking met vriende. En dít terwyl hulle ʼn voltydse werk doen of ʼn onderneming aan die gang moet hou.

Huweliksdruk

Shanaaz Sukhrai (Foto: Verskaf)

Sukhrai sê baie druk word weens die afsonderingsmaatreëls op huwelike geplaas. Sy is besonder besig met berading aan vroue wat onder hierdie druk wil knak.

“Baie vroue sukkel om take aan hul man toe te wys, wat bydra tot gegriefdheid waarvan die man onbewus is. Self in 2020 bou talle vroue onbewustelik steeds hul huwelik op dít wat hulle by hul ouers se huwelik gesien het. Hulle voel dus dikwels skaam om hulp te vra en vir hul regte op te staan wanneer die huiswerk nie eweredig verdeel word nie.”

Identiteit

Aangesien vroue verantwoordelikheid aanvaar vir hul kinders se tuisonderrig en om hulle voortdurend besig te hou, verloor hulle nou meer as ooit hul identiteit. Hulle bevraagteken hul loopbaanprioriteite en doen baie min net vir hulself.

Sukhrai sê daar is wel maniere vir vroue om uit hierdie struweling te kom.

“Vroue moet leer om hul voet neer te sit as dit by take in die huis kom. Die werk moet tussen elke lid van die gesin verdeel word, veral as iemand nie hul deel in en om die huis doen nie.”

Sukhrai stel voor dat vroue ʼn lys van take vir hul mans opstel. Dit is dikwels nie ʼn geval dat hy nie wil help nie, maar eerder dat hy nie weet hoe en waar om te help nie.

Angs en depressie

Depressie en angs het skerp toegeneem gedurende die Covid-19-pandemie.

Sukhrai sê dit kan om verskeie redes wees, maar die oorsaak is dikwels dat vroue te veel nuus lees, luister of kyk. Dit kan maklik die idee skep dat die wêreld uitmekaarval.

“Dit is nie moeilik om ʼn spons vir negatiwiteit te word nie. Vroue vrees dan vir die gesondheid van hul ouers en kinders, en sukkel daarom om alles te hanteer.”

Dit is belangrik vir vroue om te weet wanneer om die nuus af te skakel, om tyd te maak om van sosiale media weg te bly, asook om tyd aan hulself af te staan.

“Selfs iets soos ʼn dankbaarheidsjoernaal sal vroue help om meer positief te voel. Dit gaan daaroor om die aandag van die negatiewe weg te vat en dit in iets opbouends om te sit.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ou gees

En hier sit ek: Vrou wat wens vir haar eie man.
Ek moet alles self doen.

Trotse Boervrou

Ek dink mans se angs en depressie is presies dieselfde as die vrouens s’n, indien nie meer nie. Almal kry bitter swaar.