As jou maag amok maak

Wanneer moet jy bekommerd wees oor jou maag wat pyn? (Foto: iStock)

Opgeblasenheid, ongemak, onaardse geluide. Ons almal ervaar soms moeilikheid met ons maag, maar wat presies is binne-in jou aan die broei? Is die berg besig om ’n muis te baar of moet jy bitter bekommerd wees?

Agt algemene aandoenings

Gastritis

Die vloeistof wat die liggaam help om voedsel te verteer, bevat baie suur. Soms dring dié spysverteringsappe deur die beskermende maagwand en veroorsaak gastritis. Bakterieë, pynmedikasie soos ibuprofeen, alkohol of spanning kan ook oorsake wees. ’n Teensuurmiddel bring gewoonlik verligting, maar raadpleeg jou dokter as dit nie beter word nie, want gastritis kan soms bloeding of maagsere veroorsaak.

Maagsere

Dit is oop sere (“peptic ulcers”) op die voering van die maag of die boonste gedeelte van die dunderm. Oorsake sluit in bakterieë, maar veral langdurige gebruik van pynstillers soos aspirien en ibuprofeen. Rook en alkohol verhoog ook jou risiko om hiermee te worstel. Behandeling sluit in voorskrifmedisyne wat die suurvlakke in die maag verminder of antibiotika.

Maagvirus

Daar is niks so erg nie soos die gevoel dat jou knypers jou dalk in die steek gaan laat om die troon betyds te bestyg. ’n Virale infeksie kan waterige diarree, krampe, naarheid en selfs braking veroorsaak en is een van die algemeenste maagaandoenings. Dié virus word gewoonlik deur ander mense of deur besmette kos oorgedra. Hoewel daar nie veel salf aan te smeer is nie, behoort jy jou dokter se hulp in te roep as hoë koors, braking en ontwatering nie wil wyk nie.

Voedselvergiftiging

Hierdie is die wrede stiefsuster van ’n maagvirus en het soortgelyke simptome soos diarree, naarheid en braking. Bakterieë, virusse en parasiete in kos skuil agter dié siekte. Soms dink die liggaam ook hy word deur iets skadelik “aangeval” en probeer homself beskerm. Dit gebeur dikwels in die geval van kosallergieë. Skulpvis, neute, eiers, grondboontjies en melk is van die waarskynlikste oorsake. As jy bloed in jou stoelgang of urine opmerk, diarree langer as drie dae voortduur of as jy ’n verswakte immuunstelsel het, moet jy jou dokter raadpleeg.

Prikkelbare dermsindroom

Die is nie duidelik waarom dié siekte, wat tussen hardlywigheid en diarree bokspring, so baie mense beïnvloed nie, maar spanning, hormone, sekere kossoorte en moontlike infeksie kan ’n rol speel. Prikkelbare dermsindroom kom in die kolon of dikderm voor en simptome sluit in krampe, opgeblasenheid en slym in die stoelgang. Benewens medikasie kan behandeling ’n aanpassing in leefstyl en dieet insluit.

Blindedermontsteking

Niemand is heeltemal seker wat die funksie van die blindederm is nie, maar as dié klein vingervormige orgaan ontsteek is, brul ’n mens van die pyn. Die blindederm is aan die regter onderkant van die ingewande, aan die begin van die kolon. Die pyn begin gewoonlik by die naeltjie en beweeg regs en laer af. As die blindederm bars, kan bakterieë versprei en daarom sal dokters aanbeveel dat dit spoedig verwyder word as dit ontsteek is.

Hardlywigheid

Hardlywigheid is ’n baie algemene maagaandoening wat met ’n lakseermiddel, oefening, baie water en voedsel met baie vesel, soos pruimedante en volgraankos hokgeslaan kan word. As jy minder as drie ontlastings per week het, met inspanning jou draaie moet loop, en die stoelgang baie hard is, dit kan moontlik op iets ernstiger dui. Raadpleeg jou dokter as sake nie vlot wil verloop nie.

Nierstene

Soms vorm maagsappe wat met voedselvertering help harde steentjies wat die buise tussen jou lewer, pankreas, galblaas en dunderm blokkeer. Die algemeenste simptoom is maagpyn, maar kan ook naarheid, braking, koors, teekleurige urine en ligkleurige stoelgang insluit. Die gal- of nierstene word dikwels vanself uitgeskei, maar soms is chirurgie nodig om die steentjies in kleiner deeltjies op te breek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kerneels ·

Die blindederm het wél ‘n doel, want dit bevat ‘n konsentrasie “goeie” mikroorganismes (probiotics). Wanneer die probiotics in jou spysverteringkanaal uitgeroei word (bv. deur antibiotika) word die balans herstel deur die spysverteringskanaal te “repopulate” met probiotics vanaf jou blindederm.

SlinkseKoljander ·

Voeg by daai mantelvlies breuk want ons eet moes te lekker en oefen te min.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.