Beenmurgskenkers nou broodnodig

(Foto: Pixabay)

Die Covid-19-pandemie het ʼn verwoestende impak op talle bedrywe gehad, en dit het ook sy tol in die behandeling van bloedsiektes en stamseloorplantings wêreldwyd geëis.

Die Suid-Afrikaanse Beenmurg Register (SABMR) moedig mense aan om beenmurgskenkers te word, aangesien registrasies hiervoor wêreldwyd afgeneem het namate die Covid-19-pandemie versprei het.

Dr. Charlotte Ingram, mediese direkteur van SABMR, sê daar is plaaslik ook minder mense wat sedert die begin van die pandemie as skenkers registreer het.

Ingram skryf die afname toe aan bewusmakingsgeleenthede wat landwyd gekanselleer is en mense wat aangemoedig word om so ver moontlik tuis te bly.

“Hierdie maatreëls is natuurlik noodsaaklik om die verspreiding van die virus te vertraag, maar dit het spanning op nooddienste geplaas. Behalwe vir die afname in registrasie het die pandemie dit ook moeilik gemaak om bloedstamselle na pasiënte wat dit nodig het te vervoer,” sê sy.

SABMR het aangekondig dat hulle vir die voorsienbare toekoms slegs aanlyn skenkers sal kan werf.

“Ons eerste prioriteit is om ons skenkers, moontlike skenkers en pasiënte te beskerm terwyl ons die pasiënte ʼn tweede kans op die lewe bied. Pasiënte met bloedsiektes soos leukemie en talassemie wêreldwyd het egter nou dringend bloedstamselle nodig.”

“Hoe minder skenkers ons het, hoe skraler is die kans dat ons ʼn pasmaat sal kry. Soos dit nou staan, is die kans om gepaste stamselle te kry reeds slegs een in 100 000,” sê Ingram.

Slegs 30% van die mense wat bloedstamselle benodig, sal ʼn pasmaat in hul familie vind, die ander 70% van die pasiënte moet op vrywilligers staatmaak.

Om aanlyn registrasies ʼn hupstoot te gee het SABMR ʼn groot aanlyn veldtog van stapel gestuur met die teiken van 10 000 nuwe vrywillige skenkers voor Wêreldbeenmurgdag op 19 September.

Die SABMR se doelwit is om 100 000 skenkers beskikbaar te hê vir pasiënte op enige gegewe tyd.

Ingram verduidelik dat ʼn gesonde persoon se beenmurg daagliks meer as 200 miljard nuwe bloedselle vervaardig. Vir mense met sekere soorte kanker of beenmurgsiektes is ʼn beenmurgoorplanting die enigste kans op oorlewing.

Sy sê die SABMR het sy prosedures aangepas om seker te maak voornemende skenkers kan steeds registreer, ten spyte van sosiale distansie en afsonderingregulasies.

“Ons bied nou ʼn toets wat jy tuis kan doen wat gratis beskikbaar is by meer as 140 mediese instansies reg oor die land. ʼn Diens is ook gratis beskikbaar gestel wat die toets by jou huis sal kom optel. Die enigste monster wat ons vereis is ʼn eenvoudige wangdepper. Alle ander Covid-19-regulasies is ook by alle skenkingstasies landwyd ingestel.”

Vir meer inligting oor hoe om ʼn skenker te word besoek die webtuiste hier, of volg die #THANKYOUDONOR-veldtog hier op Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.