Beskerm jou liggaam teen infeksies met gesonde kos

Argieffoto. (Foto: Pixabay)

Daar is geen wonderkuur wat die immuunstelsel oombliklik kan versterk nie, maar ʼn gesonde leefstyl en verskeie aanvullings kan die immuunstelsel ʼn hupstoot gee.

Goeie voeding kan ook die ontwikkeling van gesondheidsprobleme soos vetsug, hartsiektes, hoë bloeddruk, diabetes en sommige tipes kanker vertraag.

Dr. Morgan Mkhatshwa, bedryfshoof van die mediese fonds Bonitas, sê dit is veral nou gedurende die Covid-19-pandemie belangrik om ʼn gesonde dieet te volg wat hoog is in nutriënte wat die immuunstelsel versterk.

“Wat ons eet en drink kan ons liggame se vermoë om siektes te beveg en te voorkom beïnvloed. Deur ʼn gesonde dieet te volg is een van die maniere waarop ons ons gesondheid proaktief kan bevorder.”

Wat is die immuunstelsel?

Die immuunstelsel is ʼn komplekse netwerk van selle en proteïen wat die liggaam teen infeksies beskerm. Dit hou ook tred van elke kiem (mikrobe) wat al ooit verslaan is en só herken en vernietig dit die mikrobe vinnig weer wanneer dit die liggaam ingaan.

Diegene wat nie ingeënt is nie, sowel as diegene met komorbiditeite en swak immuunstelsels loop die hoogste risiko om die Covid-19-virus op te doen en om baie siek te word daarvan. Hoewel jy nie skielik ʼn komorbiditeit kan omkeer of oombliklik jou immuunstelsel kan versterk nie, is dit nou ʼn goeie tyd om jou gesondheid ʼn prioriteit te maak.

Mkhatshwa het die volgende wenke gedeel om ʼn gesonde dieet te handhaaf:

  • Eet ʼn verskeidenheid kos, onder andere volgrane soos mielies, hawermout, rys en peulgroente, en sluit baie vrugte en groente in.
  • Verlaag jou soutinname tot 5 g (ʼn teelepel) per dag.
  • Eet matige hoeveelhede vette en olies en vermy versadigde vette (dierevet). Probeer ook om jou kos eerder te stoom as te braai wanneer jy kook.
  • Beperk jou suikerinname. Dit sluit lekkers en gaskoeldrank in. Kies vars vrugte bo koekies, koek en sjokolade.
  • Drink water. Goeie hidrasie is uiters belangrik vir goeie gesondheid. Daar is baie kosse wat ook ʼn hoë waterinhoud het, onder meer komkommers en seldery. Voeg dit by ʼn glas water met suurlemoen of kruisement.

“Die ideaal is om al ons vitamiene te kry van die kos wat ons eet. Dit is egter nie altyd moontlik nie en deur ʼn aanvulling te neem kan ons dié gaping oorbrug. Die aanbeveling vir algemene gesondheid is ʼn kombinasie van noodsaaklike vitamiene en minerale om jou liggaam gesond te hou,” sê Mkhatshwa.

Argieffoto. (Foto: iStock)

Hier is ʼn lys van belangrike aanvullings sodat die immuunstelsel kan floreer:

Vitamien C: Die vermeerdering van witbloedselproduksie speel ʼn sleutelrol in die bevegting van infeksie. Kosse wat ryk is aan vitamiene C, soos pomelo’s, lemoene, rooi soetrissies, broccoli, aarbeie, boerekool (kale) en tamatiesap, help byvoorbeeld om boonstelugweginfeksies te beveg.

Beta-karoteen: Beta-karoteen word omskep in vitamien A, wat ʼn anti-inflammatoriese vitamien is wat jou teenliggame help om op toksiene, soos ʼn virus, te reageer. Kosse soos wortels, spinasie, boerekool, appelkose, soetpatats en pampoen bevat beta-karoteen.

Vitamien E: Dit is ʼn belangrike antioksidant wat help om selskade te beveg en die immuunstelsel se funksie te bevorder. Neute, grondboontjiebotter, sade, avokado’s en spinasie is ryk aan vitamien E.

Antioksidante: Groentee is gevul met antioksidante wat help om jou immuunstelselfunksie te verbeter. Dit bevat ook aminosure wat kan help om die produksie van kiembevegtende samestellings in jou T-selle, wat inflammasie in die liggaam beveg, bevorder.

Vitamien D: Hierdie vitamien beveg ook infeksies en help sterk bene in stand te hou. Dit word in salm, geblikte tuna, eiergele, melk, graankosse, brood en sampioene gevind. Jy kan ook jou liggaam drie keer per week vir 13 tot 15 minute per dag aan die son blootstel om seker te maak jy kry genoeg vitamien D. Studies het getoon dat vitamien D die genesingsproses van boonstelugweginfeksies kan versnel.

Probiotika: Lewendige kulture, bekend as probiotika, help om die immuunstelsel te stimuleer. Jogurt, kombucha, sauerkraut, kimchi en agurkies asook sekere tipes kase bevat lewendige kulture.

Vitamien B6: Dié vitamien is belangrik vir die vorming van nuwe en gesonde rooibloedselle en help om die limfatiese stelsel te onderhou. Hoender, kalkoen, kouewatervis soos salm en tuna, tradisionele hoemoes, piesangs, gefortifiseerde ontbytgrane en natuurlike gis is goeie bronne van vitamien B6.

Sink: Dit is ʼn mineraal wat nie deur die liggaam geberg of geproduseer word nie, maar ons immuunstelsel het sink nodig om behoorlik te funksioneer. Dit verbeter onder meer die metabolisme en het ʼn genesende samestelling. Rooivleis, skulpvis, pluimvee, bone en peulgewasse, neute en sade bevat hoë hoeveelhede sink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek het onlangs geleer dat jy genoeg Quercetin kan inkry deur ‘n appel of beet of iets te eet. En tot 20 000IU Vitamien D deur net 20 minute per dag in die son te wees. Nogal interessant.

MARELIZE ·

Dit het niks met covid of korona te doen nie. ‘n Gesonde leefstyl geld vir enige en alle siektetoestande. Of dit hart, outoimmuniteit of kanker is.

En nee, grane is verseker nie ‘n positiewe deel van die dieet nie. Nie die hedendaagse grane nie. Die inteling vir opbrengs het die proteïenkettings so verander dat die liggaam dot nie as kos eien nie. Slegs as jy waarlik die ou tipe graan kan kry (waarvan jy die saad kan oes en weer plant), kan jy dit gebruik en as gesond beskou.

casper ·

Sal ook daarvan hou om “gesonde” kreef, garnale en Beef Wellingtons te eet !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.