Beskerm jou vel teen die somerson se geniepsige strale

(Foto: Ethan Robertson/Unsplash)

Deur dr. Wilhelm von Ludwig

Gestel iemand skenk aan jou ʼn motor.

“Dis mooi, nè,” sê hy terwyl hy sy hand oor die donkerblou, amper swart, bakwerk laat gly.

Opgewonde maak jy die deur oop en die reuk van die kraakvars leersitplekke vul die hele motorhuis.
Jou weldoener glimlag terwyl hy verder praat: “Onthou om slegs 72 km per uur te ry – dit is immers die optimale spoed vir die enjin.”

Jy frons ʼn bietjie, maar raak weer meegesleur as jy jouself neer vlei op die sitplek.

“En moenie parkeer in die dorp nie, die mense se kardeure sal hierdie lieflike verf beskadig.”

Jy kyk verontwaardig na die man, maar dit lyk of hy jou nie eers raaksien nie.

“En moet glad nie soggens tydens spitsverkeer ry nie. Mense is laat vir werk, iesegrimmig en om nie eers te praat van al die taxi’s nie”

Miskien is dit hoe al die reëls om sonskade op jou vel te verhoed vir Suid-Afrikaners klink?

Argieffoto. (Foto: chezbeate/Pixabay)

Tog is die reëls belangrik en met die somervakansie om die draai, moet ons weer daarna kyk:

1. Bly uit die son tussen 10:00 en 16:00

Dit is die tyd wat die son jou die hardste gaan piets. Ongelukkig is dit ook die gewildste swemtyd van die dag. Dit is mos net verliefdes en perlemoensmokkelaars wat jy buite hierdie ure op die strand sal vind.

2. Smeer elke twee ure sonroom aan

Jy haal die SPF-30-sonroom met goeie bedoelinge uit die strandsak en loop na die water om jou kinders te roep. Hulle gesigte is rooi toe hulle uit die water kom. Nie as gevolg van die son nie, maar omdat dit die tweede keer is dat jy jou arms voor die hele Umhlanga in sirkelbewegings geswaai het om te wys dat jy hulle weer wil s-m-e-e-r. As jy of jou kinders swem gaan jy uurliks sonroom moet aanwend, want die water was die room af – berei jou kinders maar daarop voor.

3. Smeer sonroom selfs op bewolkte dae

Ultravioletstrale word in drie kategorieë verdeel. UVA is hoofsaaklik daardie ligstrale wat plooie gee. UVB is dié wat jou laat brand en rooi word. Beskerming word vir beide benodig omdat hulle saamwerk om velveranderinge soos kanker te veroorsaak. UVA kan ook wolke penetreer en steeds jou vel kwaad aandoen. Gevolglik word ʼn mens aangeraai om sonskerm selfs op bewolkte dae aan te smeer, elke twee ure.

4. Water en sand is gevaarsones

Jip – jy het reg gelees. Ons word aangeraai om op ons pasoppens te wees vir water en sand (veral wit sand). Dit is omdat daardie terreine baie van die son se strale kan laat reflekteer van onder ook. Dan bak jy as’t ware in ʼn konveksie-oond. Die onnies van my laerskool het seker hierdie reël in gedagte gehad toe hulle die speelgrond geteer het. Selfs die deel onder die swaaie. Ek kan egter nie sê dat dit baie voordelig was vir my vel nie.

5. Donker, langmou klere, donkerbrille en breëband-hoede

Kom ons ignoreer vir ʼn oomblik die Japannese studie wat getoon het dat donker klere tot 20 °C warmer as ligter klere kan wees. Asook die feit dat jy soos ʼn spioen uit die sestigerjare gaan lyk in jou sonveilige pakkie. Ten minste gaan jou vel nie brand nie, aangesien donker klere se vesels blykbaar nouer geweef is as ligter klere. (Ek dink nie klere-wetenskaplikes kry veel te doen met visnetkouse nie.)

6. Die jongspan

Die meeste mense verstaan dat jy nie babas te veel aan die son moet blootstel nie, en ons weet dat die sonskade van later jare hoofsaaklik opgedoen word wanneer jy ʼn kind is. As jy hulle nou net uit die son kan hou tussen 10:00 en 16:00 en hulle elke twee ure smeer met SPF 30 of meer – selfs op bewolkte dae – en hulle in donker klere kan aantrek kompleet met ʼn panama-hoed en Ray-Bans, dan is jy ʼn super-duper ouer.

Dr Wilhelm von Ludwig (Foto verskaf)

Om terug te kom by ons voorbeeld van die motor. Alhoewel die raad ʼn bietjie belaglik is, steek daar waarheid in elke deel. Die optimale spoed, die kardeure wat gekap word in die parkeerterrein en spitsverkeer is alles elemente wat in gedagte gehou kan word wanneer die motor bestuur word. Tog is daar dae wat ons laat is. Soms moet ons weer vinnig na die winkel met die klein parkeerterrein ry omdat hulle seweuur oopmaak en die melk op is. En dan is daar die dae wat ons net ry omdat dit lekker is.

As jy hierdie Desember by die huis moet bly, wees dankbaar vir die sonskade wat jy heel moontlik gaan vryspring. En as jy see toe gaan, geniet dit! Ons is almal baie jaloers op jou. Onthou net asseblief tog die sonskerm en smeer dit elke twee ure aan, selfs as dit bewolk is.

  • Wilhelm von Ludwig is ʼn algemene praktisyn wat in Polokwane praktiseer. Volg hom op TikTok of Facebook.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.