Bly komkommerkoel dié somer

(Foto: iStock)

Dink aan ’n beker yskoue water op ’n snikhete dag, skyfies komkommer wat, wel, kommerloos ronddryf. Verfrissend, né! Ofskoon komkommers nooit die toptienlys van superkossoorte haal nie, is dit baie gesonder as wat ’n mens sou dink en veel meer as net ’n slaaibestanddeel of skyfies bestem vir moeë oë.

  • Verborge voedsaamheid. Een koppie gesnyde komkommer bevat geen vet nie en slegs 16 kalorieë. Boonop bevat dit ’n groot deel van jou daaglikse aanbevole dosis vitamiene en minerale: vitamien C (14%), vitamien K (62%), magnesium (10%), kalium (13%) en mangaan (12%).
  • G’n slaaistiefsuster. Wetenskaplikes werk kliphard om te bewys dat komkommers vir meer as slaai beskore is. Hulle het onder meer bevind dat die antioksidante en mikrovoedingstowwe in komkommer (in mediese terme ’n groep polifenole genaamd lignane) nuttig is in die bekamping van estrogeen-verwante kankers. Dit bevat ook antioksidante soos betakaroteen en flavonoïede, wat help om inflammasie hok te slaan en selle teen chroniese siektes te beskerm.
  • Omdat komkommers ryk is aan die elektroliet kalium, help dit volgens die Amerikaanse Hartstigting om natrium-geïnduseerde waterretensie te verminder en verlaag sodoende bloeddruk.
  • Byna al die kalorieë (en daar’s min) in komkommer, is van vesel afkomstig. Vesel help om jou ingewande gesond en jou gereeld te hou en is voordelig in die bestuur van sekere toestande soos diabetes en hoë cholesterol. Boonop sal dit jou langer versadig laat voel, wat gewigsbeheer in die hand werk.
  • Bly gehidreer. Veral in die somermaande kom ’n mens nie agter hoeveel vog jou liggaam deur sweet verloor nie. Genoeg vloeistof is noodsaaklik om voedingstowwe na jou ligaamselle te vervoer, hardlywigheid te voorkom en van slegte bakterieë ontslae te raak. Omdat komkommer uit 95% water bestaan, help dit om die regte vloeistofbalans in jou liggaam te handhaaf.
  • Sterk bene. Dis nie net kalsium wat ons bene sterk en soepel hou nie. ’n Studie wat onder vroue gedoen is, het bevind dat dié wat 5 mg vitamien K elke dag oor twee jaar geneem het, se risiko vir beenfrakture met meer as 50% afgeneem het. Die vitamien K in komkommer help ook met bloedstolling, so raadpleeg jou dokter as jy bloedverdunners gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.