Borskanker raak al meer jonger mense

‘n Strikkie vir die borskankerbewusmakingsveldtog

Die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) sê mense wat deur borskanker geraak word, word elke jaar jonger.

Sowat 1,7 miljoen vroue word jaarliks met borskanker gediagnoseer. Dit is die algemeenste soort kanker wat vroue wêreldwyd aantas en die grootste oorsaak van verwante sterftes by Suid-Afrikaanse vroue.

Volgens die Nasionale Kankerregister loop een uit elke 26 vroue die risiko om borskanker te ontwikkel en 16% van sterftes aan kanker kan aan hierdie soort kanker toegeskryf word.

“Met borskanker en servikale kanker sien ons toenemend jonger vroue wat deur die soort kankers geraak word. Die oorlewendes waarmee ons organisasie werk, sê veral met borskanker dat hulle die soort kanker voor 50 opgedoen het,” het Lorraine Govender, nasionale bestuurder van Kansa, gesê.

Kansa is ook bekommerd dat vroue te laat met borskanker gediagnoseer word, wat behandeling bemoeilik.

Govender beklemtoon dat vroue gereeld vir borsondersoeke moet gaan. “By Kansa moedig ons vroue aan om hulle borste te ondersoek sodat hulle dadelik van enige onreëlmatighede bewus kan raak. Hulle moet die tekens en simptome van borskanker leer ken en ook gereeld deur ʼn dokter laat ondersoek.

Kansa glo vroue het ʼn belangrike rol om te speel deur eienaarskap van hulle gesondheid te neem in borskankerbewustheidsmaand.

“As ʼn vrou enige van die simptome van borskanker opmerk, is dit so belangrik dat sy ʼn gesondheidpraktisyn vroeër, eerder as later, moet gaan sien. Hoe vroeër borskanker gediagnoseer kan word, hoe beter is die resultate as dit by behandeling en oorwinning van die kanker kom.”

Govender beveel maandelikse self-ondersoeke aan, asook ʼn jaarlikse kliniese kanker-ondersoek om borskanker die vinnigste in sy spore te stuit.

Kansa speel ʼn aktiewe rol in die bevordering van vroeë opsporing van borskanker en bied kliniese borsondersoeke by hulle versorgingsentrums aan met streng veiligheidsprotokolle om die verspreiding van Covid-19 te voorkom. Koste vir die soort ondersoeke word tot die minimum by hierdie sentrums beperk.

Ondersteuning vir kankerpasiënte is volop deur ondersteuningsgroepe, aanlyn ondersteuningshulpbronne en telefoniese berading. Kansa verskaf ook pruike en hoede, bra’s en limfoedeem-kledingstukke by Kansa se versorgingsentrums.

Almal kan gedurende Oktober betrokke raak en Kansa help: Koop ’n “Doek with a Difference” of ’n paar oorbelle as deel van die Pink Trees for Pauline-veldtog, of bied ’n virtuele Cuppa For CANSA-geleentheid aan met Kansa en Spar se teegeleentheid op 30 Oktober. Bespreek ’n kliniese borsondersoek en moedig familie en vriende aan om dieselfde te doen. Maak ʼn donasie aan Kansa en teken in op die nuusbrief om op hoogte te bly van hul verskillende gesondheidsveldtogte en geldinsamelingsinisiatiewe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.