Bose kringloop van lipsalfverslawing

Jou gunsteling lipsalf is dalk die oorsaak van jou droë lippe. (Foto: Burst/Unsplash)

Baie mense se verhouding met lipsalf is soortgelyk aan dié wat hulle met hul selfoon het; dit word byna nog ʼn ledemaat.

Alhoewel daardie vanielje-gegeurde glans of salf wat jy kort-kort aan jou lippe smeer, hulle dalk mooi laat blink of tydelike verligting bied, is die gevolge daarvan juis die rede waarom jy nooit daarsonder kan klaarkom nie.

Nee, lipsalfverslawing is nie ʼn ernstige of behandelbare toestand nie, maar kenners meen lippe verdien egter ook dieselfde sorgsame behandeling as jou gesigvel, indien nie meer nie.

Dr. Vanessa Lapiner, ʼn dermatoloog en eienaar van die TASH360-velsorgsentrum in Seepunt en stigter van die Root4-velsorgreeks, het met Maroela Media gesels oor die belangrikheid van ʼn goeie lipsorgroetine.

Wat veroorsaak droë lippe?

Benewens droë en koue lug kan bestanddele in middels soos tandepasta, mondspoelmiddels en lipstiffie ook tot droë of gebarste lippe bydra. Sekere medikasies, veral orale retinoïede (wat gebruik word aknee te behandel), veroorsaak ook dat lippe minder vog het. “Omdat die vel wat jou lippe bedek nie olie‑ of talgkliere bevat om dit natuurlik te bevogtig nie, is dit dunner en vatbaarder vir droogheid as die res van jou liggaam,” verduidelik Lapiner.

Jou gunstelinglipstiffie bevat heel moontlik lood. (Foto: Julia Malta/Unsplash)

Vererger lipsalwe die probleem?

Volgens Lapiner kan die verkeerde lipsalf of -stiffie lippe tydelik sagter laat voel direk nadat die produk aangewend is, maar dan juis weens die bestanddele die lippe weer stelselmatig uitdroog of laat bars.

“Gevolglik skep jy ʼn bose kringloop waar jy vir tydelike verligting die produk aansmeer en dan stelselmatig jou lippe uitdroog net om dit weer met skadelike produkte te probeer herstel.”

Hoe aanloklik dit ook al kan voel om daardie droë lippe te lek, waarsku sy ook dat dit op die lange duur ʼn baie slegte uitwerking op jou lippe kan hê. “Dit is ʼn natuurlike ding vir ons om ons lippe te lek wanneer hulle droog voel, maar speeksel is ’n groot irritasie vir lippe en kan ʼn soort veroorsaak, waar jou lippe rooi, sensitief en skilferig voel.”

Produkte met byewas is goed vir droë lippe. (Foto: Sara Scarpa/Unsplash)

Watter lipsalfbestanddele is goed en watter moet vermy word?

Volgens Lapiner kan die verkeerde bestanddele nie net jou lippe nie, maar ook die vel om jou mond uitdroog en beskadig. Al het jy nie ekseem nie en is jou lippe redelik bestand teen allergene, waarsku sy teen bestanddele soos mentol, peperment, bloekom, kaneel, sitrus, fenol, propielgallaat of kamfer.

Haar topbestanddeel vir vogtige lippe is lanolien. “Ek gebruik dit vir my pasiënte wat Roaccutane gebruik en gevolglik droë lippe het. Ek stel dit ook dikwels voor vir vrouens wat borsvoed. Ander produkte soos Vaseline, Eucerin Aquaphor of iets wat galambotter (shea butter) en byewas bevat, kan ook goed werk.”

Diegene met geweldige droë lippe kan volgens Lapiner selfs ʼn beskermende velroom op die lippe aanwend – aangesien dit versagmiddels bevat om die lippe te bevogtig – en daarna lipsalf met lanolien of Vaseline aansmeer.

Kleure en geure moet liefs vermy word

Lipsalwe of -stiffies, veral langdurige produkte, kan veral jou lippe beskadig en uitdroog en is ʼn algemene oorsaak van ekseem, aldus Lapiner. Hoe natuurliker of “skoner” ʼn produk is, hoe beter, veral as dit by grimering kom.

“Die organisasie Campaign for Safe Cosmetics het in 2007 bevind dat 61% van die lipstiffies wat hul getoets het, lood bevat. Die VSA se voedsel-en-dwelmadministrasie het in 2009 en 2010 opvolgstudies gedoen en ook hoë vlakke van lood in 400 lipstiffies gevind.”

Dr. Vanessa Lapiner, dermatoloog en stigter van TASH360 en Root4. (Foto: Facebook)

Help water of afskilfering?

“Ek is nie gaande oor afskilferingsprodukte nie en hulle is veral sleg as jou lippe reeds beskadig is. As daar ‘velletjies’ op jou lippe is, skrop jou lippe liggies met ʼn ou tandeborsel en lanolien-lipsalf voordat jy jou lipstiffie aansit.”

Hoewel dit goed is vir jou algehele gesondheid, verduidelik Lapiner dat om liters en liters water te drink egter niks aan jou lippe gaan doen nie. “Dit gaan ook oor jou eksterne omgewing. As jou lippe aan droë of koue omgewings blootgestel word, gebruik snags ’n lugbevogtiger in jou kamer en smeer lanolien-lipsalf aan voor jy in die bed klim.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Catantho ·

Boos en lipsalfverslawing? Ag kry iets beters om oor te skryf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.