Bult jou gesondheidspiere met spinasie

Spinasie het soveel gesondheidsvoordele. (Foto: iStock)

Deur ’n sak spinasie te verslind sal jou dalk nie met bultende spiere soos Popeye laat spog nie, maar dit sal gewis jou hartspier (danksy C0-Q10) stukrag gee.

Dié blaargroente het soveel gesondheidsvoordele dat dit die moeite werd is om ’n stukkie van jou tuin hieraan af te staan. ’n Pakkie spinasiesaad kos immers minder as ’n sakkie supermarkspinasie.

Sewe redes om aan spinasie te smul

  1. Waardevolle vitamiene – Daar is min groentesoorte wat by spinasie kan kers vashou as dit by voedingswaarde kom. Spinasie is laag in vet en ’n uitstekende bron van kalsium, magnesium, yster, vitamien A, B6 en C, niasien en folaat.
  2. Visie-wenner – Hoewel vir geslagte geglo is dat wortels die belangrikste bestanddeel vir goeie sig is, het navorsing bewys dat spinasie oor soortgelyke superkragte beskik. Die luteïen in spinasie help veral om ouderdomsverwante makulêre degenerasie (oftewel verswakte sig weens ouderdom) te verlangsaam.
  3. Magtig teen maagsere – As jy geneig is om met maagsere te stoei, móét jy spinasie opskep. Die glikoglycerolipied-chemikalieë beskerm die slymvlies van die maag, versterk die spysverteringskanaal en verminder die risiko om inflammasie van die ingewande te kry.
  4. Bloedbroer – As jy te min yster in jou bloed het, kan dit lei tot bloedarmoede (anemie), wat jou moeg en uitgeput laat voel, terwyl hoofpyn en duiseligheid ook jou voorland is. Omdat spinasie ysterryk is, behoort veral jong mense en vroue wat menstrueer spinasie by hul dieet in te sluit. Ja, rooivleis doen ook die ding, maar spinasie is laer in vet en cholesterol en daarom die gesonder keuse.
  5. Vegter teen veroudering – Ongelukkig is dit nie ’n kitskuur om jou op 60 soos ’n stralende 17-jarige te laat lyk nie, maar spinasie bevat waardevolle antioksidante om die liggaam teen vrye radikale te staal wat selweefsel bespring. Dit beskerm die vel teen verouderingskade en help om ’n jonger voorkoms te behou.
  6. Haarverlies hokgeslaan – Die kalsium, kalium, yster en magnesium in spinasie, asook vitamien B, C en E vorm ’n kragtige kombinasie om haargroei te bevorder. Haarverlies word hokgeslaan deurdat die folaatinhoud die liggaam in staat stel om meer rooibloedselle te produseer, en die yster sorg dat genoeg suurstof na dié spesifieke selle toe stroom. Die folaat is boonop uitstekend vir swanger vroue en help om geboortedefekte soos spina bifida te keer, terwyl die vitamien A die fetus se longontwikkeling bevorder.
  7. Pynpolisie – ’n Mens sal nie noodwendig die verbintenis maak tussen spinasie en pynverligting nie, maar verskeie navorsingstudies besing die lof van die 12 anti-inflammatoriese bestanddele in spinasie. Dit verlig artritispyn en jig, beskerm die hart teen inflammasie én kan ’n rol speel in kankervoorkoming.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.