Covid-19: Hanteer dit só tuis

As iemand in jou huis positief vir Covid-19 getoets is, moet jy heel eerste planne maak om die persoon te isoleer. Baie mense het ʼn buitekamer of tuinwoonstel waar so iemand in isolasie kan gaan, maar talle ander het nie hierdie luuksheid nie.

Met die drastiese styging in getalle wat Suid-Afrika, en veral Gauteng, in die afgelope paar weke gesien het, is dit almal se eie verantwoordelikheid om streng te wees met isolasie, al kan jy nie alleen bly nie.

Maroela Media het vroeër berig daar is steeds doeltreffende maniere om iemand in jou huis of gesin te isoleer, al bly die res van die gesin ook in die huis.

As dit onvermydelik is om ander mense in die huis te hê, kan die volgende stappe gedoen word tot die persoon weer gesond is:

  • Bly ten alle tye minstens twee meter van ander mense af. Moet aan niemand anders raak nie.
  • Slaap in ʼn aparte kamer, alleen in ʼn bed.
  • Niemand moet toegelaat word om jou kamer in te gaan nie.
  • Gebruik jou eie badkamer, wat niemand anders mag gebruik nie.
  • Gebruik jou eie eetgerei waaruit niemand anders mag eet of drink nie. Of gebruik eetgerei wat jy kan weggooi nadat jy dit gebruik het.
  • Moenie saam met jou gesin opskep vir ete nie.
  • Moenie saam aan tafel sit en eet nie.
  • Maak alle oppervlakke waaraan jy vat gereeld skoon, maar probeer om so min moontlik aan enigiets te vat.
  • Almal in die huis moet hul hande gereeld was en gesond eet om hul immuunstelsel sterk te hou.
  • Was die siek persoon se klere apart.
  • Moenie die res van die huis (soos die sit- of televisiekamer) gebruik nie, bly in jou kamer.
  • Indien dit onvermydelik is om in die siek persoon se geselskap te wees, moet almal in die huis ʼn masker dra.
  • As iemand anders in die huis vir die siek persoon kos neem, moet die pasiënt dit by die deur gaan haal eerder as wat iemand die kamer binnegaan. Verkieslik moet kos by die deur gelos word, waar die siek persoon dit kan optel.
  • Die siek persoon mag nie toegelaat word om die huis te verlaat nie, behalwe om dokter toe te gaan.

As jy ʼn ligte geval van die virus het, en jy beoog om dit tuis te beveg, kan jy die volgende maatreëls volg:

  • Drink genoeg vloeistof.
  • Neem medikasie om jou simptome te verlig.
  • Slaap genoeg.
  • Moenie oefening of enigiets doen wat jou hartklop gaan versnel nie.
  • Rus baie.
  • Eet gesond.
  • Vermy alkohol, kafeïen en geprosesseerde kos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

marius ·

Hoe doen jy dit as jy net een kamer het en ‘n hele gesin dit moet deel ? Die grootste gedeelte van die bevolking is derhalwe uitgelewer .

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.